Misdaad jaag bekende kunsteliefhebber moontlik landuit

  • 0

Suid-Afrika kan dalk een van sy staatmaker-kunsteliefhebbers kwyt wees as gevolg van die misdaad wat die land teister.

Die organiseerder van verskeie literêre feeste oor die land heen, en dosent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, Darryl David, oorweeg dit om na die buiteland te verhuis nadat hy die afgelope week deur drie mans by sy huis in Howick aangeval is.

David sê hy sal die eerste werk vat wat hy buite KwaZulu-Natal kry. Hy oorweeg dit selfs om die land te verlaat. “As ek hier bly, weet ek dat ek sal sterf of dat hulle my vrou of dogter eendag sal vermoor,” het hy op Facebook geskryf.

Bron: Facebook

Die drie mans het gepoog om sy motor buite sy huis te kaap. Hulle was gewapen met pangas en ander gevaarlike wapens. David was onder die indruk hulle is tuiniers toe hy sy motor voor sy hek parkeer. Die mans het hom aangeval en sy motorsleutels probeer afvat.

“Ek kan nie veel onthou nie, behalwe dat ek van hulle kon wegkom. Ek weet nie hoe nie. Ek is nie ’n sterk man nie, soos ’n mens kan sien aan my maer arms.”

Hy het die sleutels so ver as moontlik probeer weggooi terwyl die aanvallers sy motor deursoek het. Die aanvallers het later met sy skootrekenaar en selfoon op die vlug geslaan.

David was gelukkig genoeg om ongedeerd daarvan af te kom. “Ek kan maar net glo die engele van my geliefde gestorwenes, of al my honde vir wie ek so lief is het my daardeur gedra.”

Darryl, Sheritha en Kiara David (Foto: verskaf)

Die Adam Small-fees wat op Pniel buite Stellenbosch gehou word, is maar een van die breinkinders van David, wat landwyd bekend is vir sy uitsonderlike vermoë om die kunste en letterkunde na die mense te neem daar waar hulle woon.

Die BookBedonnerdfees in Richmond, die Soweto-boekefees, asook ander feeste wat na skrywers vernoem is – soos JM Coetzee se fees of Athol Fugard s’n – tel onder sy suksesverhale.

David, wat bekend is vir sy liefde vir Suid-Afrika, het nog altyd gesê dat hy nooit in Engeland of Kanada sal gaan bly nie, vanweë die koue.

“Maar nou, na dié voorval, is dit tyd om my prioriteite te heroorweeg. Ek het besluit dat ’n mens nêrens in Suid-Afrika veilig is nie. Daarom sal ek aktief daaraan werk om oorsee ’n loopbaan te kry,” sê David.

Hy het mense wat belangstel om die talle boekfeeste wat hy behartig, uitgenooi om hom te kontak sodat hulle dit kan oorneem.

Tydens verlede jaar se eerste Adam Small-fees op Pniel het hy nog gesê hy kan nie ophou glimlag nie. “Ek voel so in my murg dat behalwe my geliefde Pietermaritzburg is Pniel die plek wat tot my siel spreek. Ek glo die Adam Small-fees gaan een van die hoogtepunte op die land se literêre kalender word. Dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het. Hopelik glimlag Adam Small ook vanuit die hemel, want hy verdien so ’n grootse fees tot eer van dit wat hy gedoen het,” het hy na afloop van die fees gesê.

Verskeie bekendes het op David se Facebookblad hulle skok uitgespreek oor die voorval waartydens hy aangeval is.

“Ek is baie jammer om hiervan te hoor, Darryl. Hierdie land. Hierdie land ... Sterkte,” het die skrywer Dana Snyman van hom laat hoor.

Joan Kruger het gesê: “My hart bloei, Darryl. Vir jou, vir die land. Mag daar genade vir ons almal wees.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top