Suid-Afrika se misdaadsyfer toon ’n skokkende toename oor die afgelope tien jaar en die land se stygende moordsyfer is steeds van die hoogste in die wêreld.
Dit is die donker misdaadprentjie wat verlede week aan die lig gekom het toe die Suid-Afrikaanse Polisiediens die jongste misdaadstatistieke vir Suid-Afrika bekend gemaak het wat die tweede kwartaal van die 2021/22-jaar (Julie tot September 2021) dek.
Die deurlopende opwaartse kurwe in misdaadstatistiek is volgens opposisiepartye ’n bewys dat misdadigers toenemend besig is om veld te wen teen wet en orde in Suid-Afrika. President Cyril Ramaphosa sê die mees kommerwekkende is miskien die styging in kindermoorde.
From The Desk of The President - Monday, 22 November 2021 - https://t.co/NZNQ2FmPhh If a nation’s character can be judged by how it treats women and children, then we are falling desperately short. pic.twitter.com/uJdg3nxBdc
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) November 22, 2021
Die DA en die Vryheidsfront Plus het albei die ANC-regering verantwoordelik gehou vir die stygende misdaad in die land.
Die VF Plus sê in ’n verklaring dit is eers wanneer ’n vergelyking getref word tussen die misdaadstatistiek van tien jaar gelede (vanaf begin 2012) dat die skokkende werklikheid oor die toename in misdaad werklik duidelik word. Een voorbeeld is moord, wat met sowat 75% toegeneem het.
Algehele misdaadvlakke het oor die tweede kwartaal effens afgeneem vergeleke met dieselfde tydperk in 2020, maar dit was hoofsaaklik te danke aan COVID-19-inperkingsvlakke.
Dit is duidelik uit die SAPD se data dat namate inperkingsbeperkings en -vlakke vergemaklik word, kriminele aktiwiteite toeneem.
’n Vergelyking teenoor tien jaar gelede (2012) wys dat moord toegeneem het van 14 092 tot die huidige sowat 24 652 (gemiddeld bereken van die laaste twee kwartale), motorkaping van 4 351 tot sowat 19 892 en rooftogte by woonhuise van 14 966 tot sowat 22 264.
Daar was ook ’n toename in verkragtings, gesinsgeweld en kindermoorde. In net drie maande, tussen Julie en September 2021, is 9 556 mense, van wie die meeste vroue was, verkrag. Dit is 7% meer as in die vorige verslagtydperk. Van die byna 73 000 aanrandingsake wat gedurende hierdie tydperk aangemeld is, was meer as 13 000 gesinsgeweldverwant. Die koers van kindermoorde het met byna ’n derde gestyg vergeleke met die vorige verslagtydperk.
Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief aan die nasie gesê die statistieke oor gesinsgeweld in die land is skandelik. “Ons is in die greep van ’n meedoënlose oorlog wat gevoer word teen die liggame van vroue en kinders wat, ten spyte van ons beste pogings, geen tekens van afname toon nie.”
Die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, sê dit is ’n katastrofiese mislukking van die staat dat 105 mense elke dag verkrag is. “Dit is meer as vier mense elke uur, en hierdie statistieke weerspieël slegs die sake wat by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld word, aangesien die oorgrote meerderheid van verkragtings en ander seksuele misdade nooit aangemeld word nie.
Whitfield sê in ’n verklaring Suid-Afrikaners verdien beter as ’n polisiediens wat nie kan hoop om ’n duik te maak in die ernstige misdade wat hulle veronderstel is om te ondersoek nie, want dit het nie die kapasiteit en toerusting om dit te doen nie. “Ons verdien beter as ’n topswaar polisiemag wat so gebuk gegaan het deur generaals wie se buitensporige salarisse die grootste deel van die begroting opslurp, terwyl daardie amptenare wat bedoel is om misdaad te bekamp, moet sukkel om te oorleef en vir hul gesinne te voorsien. Suid-Afrikaners verdien beter as wat die nasionale ANC-regering weer deur blaps en arrogansie probeer spin.”
Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, sê in sy verklaring plaasaanvalle wys ook ’n deurlopende styging in die afgelope drie jaar vir die kwartaal terwyl ontvoering die misdaad is wat die skerpste toeneem. Hy sê die polisie sal dringende aandag hieraan moet gee voordat dit ook buite beheer eskaleer.
Die minister van polisie, Bheki Cele, sê hy is tevrede met die vordering wat teen misdaad gemaak word en dat die polisie besig is om die krisis rondom DNS-toetsing “reg te ruk”.