Misdaadbekamping in Suid-Afrika boer verder agteruit

  • 0

Suid-Afrikaners se vertroue in die land se vermoë om misdaad effektief te beveg het die afgelope week nog verder gedaal.

Te midde van berigte dat miljoene rand se voertuie wat vir misdaadintelligensie bestem was, maar nie daarvoor gebruik word nie, is ook berig dat meer as 7 000 polisiebeamptes oor die afgelope vyf jaar in hegtenis geneem is vir misdade wat moord, ontvoering, verkragting en transitorooftogte insluit.

Die minister van polisie, Bheki Cele, se kop word opnuut deur opposisiepartye en burgerlike organisasies geëis vir die toedrag van sake na die jongste reeks berigte oor die land se misdaadsituasie en die hantering daarvan.

Ian Cameron van Action Society sê onder Cele se bevel was daar ’n merkbare afname in die oplossing van kritieke strafsake, met slegs 14,5% van moorde en 10,43% van gevalle van gewapende roof wat opgelos is.

“Dit verteenwoordig ’n afname van 30% in die waarskynlikheid om moorde op te los en ’n afname van 39% in die oplossing van gewapenderooftogte. Die enigste aanvaarbare ‘beloning’ wat Cele hiervoor verdien, is onmiddellike afdanking,” het Cameron op die sosialemediaplatform X gesê.

Die burgerregte-organisasie AfriForum eis ook opnuut Cele se afdanking. Die organisasie sê die minister het al telkemale bewys dat hy onbevoeg is vir sy pos.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê onder Cele se leiding het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ooglopend verswak.

“Hy is al self by korrupsieskandale betrek – hoe kan daar dan verwag word dat polisiebeamptes op voetsoolvlak hul hande gaan skoon hou as die SAPD se politieke hoof dit nie eers doen nie?” het Broodryk in ’n verklaring gevra.

Die DA se Dianne Kohler Barnard, wat ’n lid is van die gesamentlike staande komitee oor intelligensie, het op haar beurt uitgevaar teen die onthullings in die media die afgelope naweek. Daar is berig dat misdaadintelligensie R100 miljoen bewillig het vir voertuie, wat egter ongebruik bly. Dit het aan die lig gekom dat nie een van hierdie voertuie die afgelope twee jaar by geheime operasies betrokke was nie.

Na wat verneem word, sluit hierdie ongebruikte voertuie Audi A3's en A4’s, Golf GTI’s en Ford Everests in wat by die polisie se intelligensiehoofkwartier in Pretoria geparkeer is.

City Press het berig dat R12 miljoen gedurende die 2020/21-boekjaar aan Ford Everests bestee is. Hierdie 80 ongemerkte voertuie is vermoedelik aangevra deur intelligensiebeamptes wat vir geheime operasies verantwoordelik is.

Kohler Barnard sê in ’n verklaring die burgers van Suid-Afrika behoort vertroue te hê dat vaardige, professionele persone hul veiligheid sal beskerm en dwelmbase, ontvoerders en roofbendes aktief sal agtervolg. Sy sê ongelukkig laat hierdie onthullings daardie hoop in die niet verdwyn.

Broodryk van AfriForum het in sy verklaring gesê korrupsie in die polisiemag is ’n groot uitdaging. Hy sê hy sal nie verbaas wees as die vervolgingsyfer van korrupte polisielede so laag is as gevolg van inmenging in ondersoeke, dossiere wat verdwyn of getuies wat geïntimideer word nie.

Om olie op die vuur te gooi, het die jongste Global Organised Crime Index, wat Dinsdag vrygestel is, gewys dat Suid-Afrika die sewende hoogste land in die wêreld is uit 193 lande, en die derde hoogste in Afrika, wat georganiseerde misdaad betref.

“Die feit dat Cele steeds in sy posisie as minister van polisie is, is ’n duidelike aanduiding dat die ANC-regering sy eie kaders bo die burgers van hierdie land prioritiseer. Gemeenskappe sal by burgerlikeveiligheidstrukture betrokke moet raak om hierdie vlaag van misdadigheid te help stuit,” het  Broodryk gesê.

Cele het die afgelope week tydens ’n media-inligtingsessie “eksterne magte” blameer wat volgens hom die reputasie van misdaadintelligensie vernietig.

Cele het gesê akademici, lede van die media en sekere magte binne die polisie het ’n agenda om die polisie se werk wat die misdaadintelligensie-eenheid moet versterk, ongedaan te maak.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top