Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet herstruktureer en vervang word as die land enige verbetering wil sien in Suid-Afrika se skokkende misdaadstatistiek.
So sê Ian Cameron van die burgerregte-organisasie Action Society SA na aanleiding van die jongste misdaadstatistieke wat die afgelope week deur die minister van polisie, Bheki Cele, bekendgemaak is.
Die onlangse misdaadstatistieke toon dat Suid-Afrika meer deur misdaad verswelg is as wat dit gedurende die tweede kwartaal van verlede jaar was.
Byna alle misdaad in Suid-Afrika het gedurende die laaste drie maande (tussen Julie en September) toegeneem met ’n gesamentlike toename van 18,5% vir alle kontakmisdade, insluitend moord, seksuele misdrywe en roof. Die syfers wys dat verkragting, moord en ontvoering kommerwekkend hoog is.
“Die minister van polisie, Bheki Cele, kan aanhou probeer om die misdaadsituasie op alles behalwe homself te blameer, maar jy kan nie die Durban July met ’n donkie wen nie,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society in ’n verklaring.
Hy sê die statistieke skets ’n prentjie van ’n polisieministerie wat sy primêre taak versuim. En dit is ’n direkte gevolg van politieke inmenging en wanbestuur van die polisie.
“Die SAPD het ’n hele strategiese herfokus nodig, en dit sal nie gebeur met Cele en die res van sy bestuur aan die stuur nie.”
Action Society sê deel van hulle plan om misdaad uit te roei behels ’n vaardigheidsoudit in die SAPD om die meriete van aanstellings te bepaal en ontslae te raak van lede wat nie op meriete aangestel is nie.
NEWS | Crime is the worst it’s been in South Africa for 20 years.
“The statistics paint a picture of a police ministry failing its primary task. And, it is a direct result of political interference and mismanagement of the police.” - @IanCameron23 https://t.co/wbjMZPmXMi
— Action Society (@ActionSocietySA) November 24, 2022
Hulle vra ook dat alle polisielede insluitend die leierskap poligraaftoetsing ondergaan om te bepaal of hulle by enige korrupte aktiwiteite betrokke was en indien wel, ontslaan word.
Ander aspekte van die plan om misdaad hok te slaan behels die herstel van die land se misdaadintelligensievermoëns en gespesialiseerde eenhede wat ernstige geweldsmisdaad effektief kan hanteer.
Misdaadsindikate, insluitend dié met staatsverbintenisse, moet geteiken word en buite werking gestel word. Action SA vra ook dat reserviste se vermoëns hertel word, spesifiek om gespesialiseerde eenhede te ondersteun.
Die land se moordsyfer het met 13,6% toegeneem vanaf kwartaal twee in die vorige jaar tot 7 004 sake in drie maande. Die eerste kwartaal van die jaar was daar 6 424 moordsake. Suid-Afrika staar nou 78 moorde per dag in die gesig, teenoor 71 tussen April en Junie
Altesaam 118 mense word elke dag verkrag, teenoor 106 per dag gedurende die eerste kwartaal. Dit is vyf verkragtings per uur.
Die DA het in hulle reaksie gesê die jongste misdaadstatistieke vir die tweede kwartaal van 2022/23 bevestig dat die bloedbad van geweldsmisdaad regoor die land buite beheer bly met miljoene mense wat in vrees leef.
Under Bheki Cele’s leadership of the South African Police Service, more people are being murdered, raped & assaulted than ever before while President Ramaphosa looks on from London and continues giving Minister Cele his full support. pic.twitter.com/8yDMDi1ace
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 23, 2022
Die party sê in ’n verklaring onder Bheki Cele se leierskap van die SAPD word meer mense as ooit tevore vermoor, verkrag en aangerand terwyl president Ramaphosa vanuit Londen toekyk en aanhou om aan Cele sy volle steun te gee.
Die Vryheidsfront Plus het op hulle beurt gesê die polisie se jongste misdaadstatistiek wys dat ’n misdaadgolf oor die land spoel. Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, sê in ’n verklaring Cele is die persoon wat hieroor moet antwoord.
Groenewald sê sy party het ook bedenkinge oor die misdaadstatistiek. Hy sê die ouditeur-generaal (OG) het reeds hierdie jaar bevind dat die syfers wat in die kwartaallikse statistiek bekend gemaak word, nie korrek is nie.
Die statistiek vir die tweede finansiële kwartaal van die jaar (Julie tot September 2022) is vandag bekend gemaak. @GroenewaldPJ https://t.co/ocSVDllPzz
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) November 23, 2022
“Die rede hiervoor is dat die statistiek nie gekorreleer kan word met die aantal misdaaddossiere nie. Dit gebeur baie dat mense misdrywe aanmeld, maar nie eens ’n saaknommer ontvang nie.”
Die statistiek wys dat Cele toenemend besig is om die stryd teen misdaad te verloor. Misdaad is buite beheer, het Groenewald gesê.