Toenemende misdaad by kerke, waartydens gemeentelede in sekere gevalle selfs tydens die diens aangeval en beroof word, het in die afgelope tyd drasties toegeneem. So sê die burgerregteorganisasie AfriForum, wat ’n assesseringsdokument vrygestel het om as riglyn vir kerke te dien in die verskerping van hul veiligheid.
Die voorvalle van misdaad in en by kerke het dit volgens AfriForum duidelik gemaak dat kerkgemeenskappe nie voorbereid is op die moontlike gevare wat hulle in die gesig staar nie. Die organisasie sê in ’n verklaring gemeenskappe moet in ’n gesonde en geborge omgewing kan lewe. Hierdie samelewingsvereiste kan nie nagekom word wanneer kerke deur misdaad ontwrig of bedreig word nie.
???????????????????????????????????????? ???????????????????????????? ???????? ????????????????????
Verskerp veiligheid by kerke só; @AfriForum stel veiligheidsassessering vir kerke bekend https://t.co/vTmqcndbVj pic.twitter.com/y45ENK1ilf
— AfriForum (@afriforum) March 13, 2024
Gauteng se LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, het Suid-Afrikaanse kerkgangers in November verlede jaar ook gewaarsku dat misdadigers byeenkomste en kerke as sagte teikens vir diefstal en roof beskou.
Die waarskuwing het gekom te midde van ’n toename in kriminele aktiwiteite wat by kerke in die provinsie aangeteken is, waar telefone en geld van gemeentelede geroof is. In sommige gevalle het die aanvalle tot aanranding, ontvoering en selfs moord gelei.
Leiers van meer as 1 500 kerke in die provinsie het in November met die LUR vergader om hul kommer daaroor uit te spreek.
Alhoewel dit voorkom asof kerke spesifiek geteiken word, weerspieël die toename in voorvalle die verslegtende misdaadtoestande in gemeenskappe oor die algemeen in Suid-Afrika.
Die jongste misdaadstatistieke vir Suid-Afrika, wat die eerste kwartaal van die 2023/24 administratiewe jaar (April tot Junie 2023) dek, toon dat die aantal geweldsmisdade in Suid-Afrika, insluitend aanranding, moord en poging tot moord, aanhou styg, ondanks ’n daling in aangemelde misdade oor die algemeen.
Rooftogte met verswarende omstandighede (waar wapens gebruik word en mense in gevaar gestel word) het ook toegeneem.
AfriForum sê die basiese reg op ’n veilige omgewing word deur hierdie misdade ondermyn en daar kan nie net toegekyk word hoe die regering en wetstoepassers ongeërg hierteenoor staan nie.
Met die handleiding wat hulle aan kerke beskikbaar stel, wil AfriForum kerkgemeenskappe bemagtig om proaktief op te tree deur ’n oudit te doen van die veiligheid van die kerk en sy lidmate deur maatreëls in te stel om die veiligheid van lidmate in kerke te verbeter.
“Voorvalle van misdaad by kerke het die afgelope tyd gewys dat kerke nie voorbereid is op die gevare wat misdaad inhou nie. Daarteenoor is ’n voorbereide kerk wat die nodige veiligheidsmaatreëls het én volg, ’n moeilike teiken vir misdadigers en sal die kriminele heel moontlik hul fokus verskuif. Boonop kan ’n voorbereide kerk die risiko’s en impak van misdadige aktiwiteite doeltreffend verminder,” sê AfriForum.
“In die verlede het die regering sy verantwoordelikheid ten opsigte van die beveiliging van gemeenskappe nagekom en dit was nie nodig vir sekuriteitsmaatskappye of ander instansies om kerke te beveilig nie. Kerkleiers fokus dus nie noodwendig op die ontleding van risiko’s en die daarstel van veiligheidsmaatreëls nie. Dié leemte ten opsigte van beveiliging moet gevolglik dringend hanteer word, aangesien misdaad aan die toeneem is. Daarom het AfriForum hierdie assesseringsinstrument vrygestel,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.
AfriForum sê ’n goed voorbereide kerk is ’n moeilike teiken vir kriminele elemente. Indien hulle wel probeer om ’n kerk te ontwrig wat voorbereid is, sal die risiko’s en skade tot die minimum beperk word en tydige optrede van stabiliserende elemente sal die situasie vinniger onder beheer kry
Die AfriForum-handleiding bied riglyne sodat kerke hul personeel en hul lidmate op risiko’s soos inbrake, gewapende roof, voertuigdiefstal en brandstigting kan voorberei. Dit kan hier afgelaai word.