Lede van sekere munisipaliteite se metropolisie wat wet en orde moet handhaaf, is skynbaar misdadigers wat ernstige kriminele dade gepleeg het.
Die burgerregte-organisasie Action SA sê motoriste moet veral versigtig wees om vir Ekurhuleni se metropolitaanse polisie te stop, omdat van hulle lede na bewering ’n misdaadgeskiedenis het.
“Die einste mense wat veronderstel is om die wet in Suid-Afrika toe te pas, blyk self misdadigers te wees. Dit is glad nie verbasend nie, maar dit is baie kommerwekkend om te sien dat sommige van hulle verhoor word vir geweldsmisdade, en selfs moord,” sê Action SA se direkteur van gemeenskapsveiligheid, Ian Cameron.
“The very people who are supposed to enforce the law in South Africa turn out to be criminals themselves. This is not at all surprising, but it is very concerning to see that some of them are tried for violent crimes, and even murder,” said @IanCameron23.https://t.co/5MonrLeHia
— Action Society (@ActionSocietySA) February 22, 2024
Cameron sê in ’n verklaring Tshwane se metropolisie sit met dieselfde kwessie, met baie van hul lede wat ook met kriminele rekords rondloop.
Hy het alle Suid-Afrikaners aangemoedig om die metropolisie in hierdie gebiede so ver as moontlik te vermy totdat hierdie kwessies aangespreek is.
Dit kom ná ’n verslag van die DA wat aan die lig gebring het dat 167 beamptes van die Stad Ekurhuleni se metropolitaanse polisie reeds kriminele rekords het. Die verslag het bevind dat 250 beamptes moontlik kriminele rekords mag hê. Hiervan is 83 verhoorafwagtend, wat 167 beamptes met bewese kriminele rekords laat. Sommige van die misdade wissel van huisbrake en moord tot bedrog by die lisensie-afdeling en dronkbestuur.
Die inligting het aan die lig gekom in antwoord op vrae wat die DA se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid in Ekurhuleni, Jaco Terblanche, vandeesmaand in die stadsraad gestel het.
Volgens die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Letlhogonolo Moseki, is 3 449 vingerafdrukke van die metro se polisiebeamptes tydens die laaste oudit van 2022 geneem en vir verwerking aan die provinsiale polisiekommissaris se kantoor gestuur.
Volgens die vereistes vir die aanstelling van lede van ’n munisipale polisiediens behoort die aansoeker nie vorige strafregtelike veroordelings te hê nie (uitgesonder vorige veroordelings wat verband hou met politieke aktiwiteite in die vorige bedeling), het Moseke gesê.
Die Suid-Afrikaanse Polisiewet van 1995 en die Strafproseswet van 1997 stel dit nadruklik dat geen munisipale polisiebeampte ’n kriminele rekord mag hê nie. Terblanche sê in Ekurhuleni is daar egter honderde sulke beamptes wat veronderstel is om Ekurhuleni se inwoners te beskerm.
Die stad Tshwane het onlangs twee metropolisiebeamptes afgedank nadat hulle skuldig bevind is aan ernstige wangedrag, insluitend afpersing.
Die Pretoria News het verlede jaar berig dat die metro na bewering meer as 200 beamptes met kriminele rekords in diens geneem het tydens die eerste fase van wetstoepassers se indiensneming in 2020.
Sommige metrobeamptes is betrek by misdade wat wissel van omkopery tot afpersing, aanranding en gewapende roof. Minstens 49 van hulle was in die moeilikheid weens ernstige aanklagte wat uit vorige kriminele veroordelings voortspruit.
Die stad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, het aan die media gesê ’n bykomende vyf metropolisiebeamptes het skriftelike waarskuwings ontvang. Hy het gesê van die amptenare is verdagtes in kriminele sake wat binnekort in die hof aangehoor sal word.
Verlede jaar is ses beamptes van Tshwane se metropolisie daarvan beskuldig dat hulle geld afgepers het van ’n werknemer van die Motor Industry Staff Association wat na bewering onder die invloed van alkohol op die Atterbury-afrit van die N1-hoofweg bestuur het.
Hoewel die bestuurder erken het dat hy een glas wyn gedrink het, kon die metropolisie hom nie vir dronkbestuur toets nie, omdat hulle nie ’n asemtoetser gehad het nie.
Die bestuurder is gedwing om na die naaste OTM te gaan om geld te trek, en hy het daarna ’n saak teen die beamptes by die Lyttelton-polisiestasie geopen.
In ’n afsonderlike voorval verlede jaar is twee lede van Tshwane se metropolisie gearresteer vir hul bedrywighede in Diepsloot, wat buite hulle jurisdiksie is.
Theunissen sê slagoffers van misdaad deur metro-amptenare gepleeg, kan ’n kriminele saak by hul naaste polisiestasie open, of die saak by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat by gauteng@ipid.gov.za aanmeld, of by die integriteitseenheid van die stad se metropolisie by 083 657 2998.
Cameron sê motoriste in die gebiede moet probeer om na die naaste polisiestasie te ry indien hulle sulke probleme ervaar en deur die metropolisie gestop word.