Die opskrif by die berig het ietwat misgetas: “Jansen wen groot prys om te skryf,” lui dit.
Prys?
Dit is nie ’n prys nie; nie ’n beloning vir skryfwerk wat reeds gelewer of afgehandel is nie. Wat dit in werklikheid is, is ’n aansporingsbeurs om ’n skrywer in staat te stel om vir ’n jaar lank aan ’n skryfprojek te werk sonder om oor ’n inkomste bekommerd te wees.
Pas het dié voorreg – die ontvangs van die Jan Rabie-Marjorie Wallace-skrywersbeurs – die oudjoernalis en -onderwyser Valda Jansen te beurt geval. Dié skrywer se roman Hy kom met die skoenlappers is ook in 2017 met die Jan Rabie-Rapport-prys vir die beste debuutfiksiewerk bekroon.
Nou sal Jansen, wat haar (skrywers)merk aanvanklik as ’n digter gedurende die strugglejare gemaak het, haarself met ’n allemintige R430 000 in haar bankrekening op haar nuutste skryfprojek kan toespits.
“Ek voel so emosioneel, so diep dankbaar. Ek voel dat ek nou vir die eerste keer kan asemhaal,” sê sy aan Netwerk24 se nasionale kunsredakteur, Laetitia Pople. Dan skets sy die dilemma, die uitdagings, van skrywerwees vandag: “Dit is moeilik om net te kan skryf: ’n mens moet ook leef, en oorleef in die lewe; alles het so duur geword.”
Jansen ontvang die beurs, wat deur die Universiteit van Wes-Kaapland geadministrateer word, tien jaar nadat dit die eerste keer, in 2009, toegeken is. Die ontvanger tóé was Rabie en Wallace se goeie vriend en mede-Sestiger André P Brink – ’n besluit wat talle dronk geslaan het.
Waarom dit aan ’n gevestigde skrywer met by die 60 boeke op sy kerfstok, talle toekennings, Nobelprys vir Letterkunde-benoemings en internasionale vertalings en verkope van derduisende boeke gee? Waarom sou Rabie en Wallace die beurs by UWK vestig, ’n histories “bruin” universiteit en deur die oudrektor Jakes Gerwel as die “university of the left” gedoop (of herdoop), as hulle die prys “in eie geledere” wou toegeken hê? Waarom gaan die beurs eerste aan iemand wat almal nogal aangeneem het nie noustrop trek aan finansies nie?
Brink moes tog self voorsien het dat die gort gaar sou wees hieroor; dat die omstredenheid ’n ander betekenis sou gee aan die openingswoorde van sy langlysgenomineerde Man Booker-prys-roman Philida, wat hy met die beurshulp kon afhandel: “Hier kom kak,” staan dit daar geskrywe.
En dit wás toe ook so, met rubriekskrywers, briefskrywers, radio-inbellers, the whole unhappy lot, wat uitgevaar het teen die toekenning van die beurs aan Brink en Brink-ondersteuners wat uitgevaar het teen diegene wat teen hóm uitgevaar het.
Die beursgeld (destyds R350 000) moes hom in staat stel om sonder bekommernis te kon skryf, maar in ’n onderhoud met my vir Die Burger in Desember 2009 het hy aangedui dat die kritiek wat hy moes verduur, hom uiteindelik verhinder het om te skryf.
“Natuurlik het ek ernstig oorweging geskenk aan of ek enigsins moes aansoek doen – oor presies die kwessie waaroor die briefskrywers so tekere gaan: oor of ek as gevestigde skrywer die beurs moes kry,” het Brink gesê.
Wat ongetwyfeld in sy guns moes getel het, was dat die advertensie vir aansoeke dit duidelik gestel het dat enige Afrikaanse skrywer daarvoor kon aansoek doen. Brink was bewus daarvan dat Wallace wel aanvanklik verkies het dat dit ’n beurs vir bruin skrywers moes wees, maar deur ander oorreed is om dié wens te laat vaar. Nogtans sou hy nie aansoek gedoen het, het hy benadruk, indien hy getwyfel het oor of Rabie en Wallace dit sou goedkeur dat hy aansoek doen nie.
Die belangrikste punt wat hy egter deur die toestaan van die onderhoud aan my wou tuisbring, was die volgende: “Daar bestaan hierdie eienaardige persepsie dat ek rol in die geld.”
Nou is dit tien jaar later, en intussen is die beurs aan Willem Anker, SP Naudé en Ronelda Kamfer toegeken, maar dit het ook opnuut die wenkbroue laat lig toe Kamfer se man, Nathan Trantaal, die beurs onmiddellik ná haar ontvang het.
Net toe ’n mens egter begin vrees het dat die beurs sy geloofwaardigheid sal verloor, kom die nuus dat die eer hierdie keer Jansen te beurt val. “Ek het nou die ruimte om net te kan skryf,” sê sy ook aan Pople, “en nie bekommerd te wees oor hoe ek dit of dat gaan betaal nie.”
Terwyl dié gemoedsrus die bestaansdoel van die beurs is, is dit ook opwindend om te verneem dat Jansen gaan werk aan ’n roman oor die Namakwalander Zara Schmelen, ’n Namavrou wat die Bybel 200 jaar gelede in Nama vertaal het. “Ons behoort te weet van vroue wat wonderlike goed in die geskiedenis gedoen het,” verduidelik Jansen haar belangstelling in die lewe en werk van Schmelen.
In haar voorgenome roman sal drie vroue uit drie tydperke figureer wat elkeen anders op heersende diskoerse van hulle tyd reageer, word ons meegedeel, ’n skryfprojek wat miskende geskiedenisse na die oppervlak bring, terwyl dit ook kwessies soos taal, identiteit en inheemse mense se kultuurerfenisbydraes sal dek.
Hierdeur sal Jansen opnuut aansluiting vind by die generasie van struggleskrywers in wie se geselskap sy haar eerste publikasiegeleenthede as ’n jong Afrikaanse digter gekry het. Dit was onder die herderskap van die ontslape dominee-digter Patrick Petersen se Prog-uitgewery dat haar werk in die bundels Optog en iQabane Labantu, albei in 1990 uitgegee, verskyn het.
Dié bloemlesings se versweë doelstelling was “die kollektiewe intrede van ’n groot aantal digters”, het Hein Willemse in 1995 in sy referaat by die Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium vertel. “Met die gebrek aan Afrikaanse letterkundige tydskrifte wat aspirantdigters publiseer en so blootstel aan hul tydgenote, [het] die bloemlesings as aanmoediging en bekendstelling van jonger swart Afrikaanse digterlike talent [gedien].”
Ook was dit, soos wat Willemse dit in ’n 1991-artikel in Karring (“Uitgeslotenes begin spore laat”) stel, ’n “tydvak vir die koestering van vertroue; die vertroue om te kan skryf, die geloof in ’n eie boodskap en die moed om daardie boodskap in druk te sien en te publiseer”.
Jansen was dus reeds teenwoordig, ofskoon misken weens die literêre politiek van haar tyd, lank voor nuwe stemme soos Kamfer, Jolyn Phillips, Shirmoney Rhode en Lynthia Julius aan ons bekend geword het.
In die Paternoster-simposiumbundel word Jansen se eie referaat ook geplaas: “Skryf – ’n selfontdekkingstog”. Die eerste simposium tien jaar vroeër het sy as ’n student “met net so ’n paar tentatiewe gedigte uit my potlood” bygewoon.
Te midde van “groot druk op swart skrywers om polities te skryf”, die kampus by die Universiteit van Wes-Kaapland wat ’n paar maande ná die simposium “aan die brand” was en geen lesings meer nie, het sy op ’n dag haar weg kampus toe gevind “en in die middel van die uitgebrande lesingsaal gaan staan en net gekyk”. Agterna het sy buite in die winterson gaan sit en ’n gedig geskryf – maar “niks oor bloed en bomme nie”; wat sy geskryf het, was “primêr ’n liefdesgedig”.
Op haar eie vraag oor waarom sy nie politiese gedigte geskryf het nie, antwoord sy dat dit dalk ’n tipe van ontvlugting was; dat sy “moeg en geestelik uitgeput [was] van die politiek en die geweld wat daarmee saam gegaan het”.
Haar skryftemas handel daarom eerder oor die liefde en oor die lewe en oor ervarings van die vrou, soos gedemonstreer deur een van haar gedigte uit Optog en opgeneem in Poskaarte – Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Dit heet “‘’n Vrou se genade”:
ek moet
my elke maand
soos ’n wond behandel.elke maand
moet ek
my gesig
op myself rig –die gewapende wond
verkrag
elke dag.elke maand
al die bloed
en verbande.miskien
is dit tog goed:
grasie
vir ’n paar dae.
Jansen se oorslaan na prosa waarmee sy destyds reeds begin het, hoewel sy nou eers haar eerste prosawerk gepubliseer het, was “nie doelbewus nie; maar het spontaan gebeur,” het sy ook op Paternoster gesê. En: “My skryfwerk is vir my ’n natuurlike proses wat tot ’n groot mate sy eie gang gaan. Maar al wat ek van myself vra, is dat ek weer later my gedigte sal kan skryf.”
In haar eerste gepubliseerde prosawerk is dit tog nogmaals die digter aan die woord:
uiteindelik bestaan die lewe meestal uit momente oomblikke wat vinnig verbygaan ’n enkele oomblik in die wind wat wegwaai nog voor mens dit kan vasvat en jare later is dit dié momente wat jy onthou en jy steek jou hand uit en staan verstom dat jy dit laat verdwyn het
Die toekenning van die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs vanjaar aan hierdie begaafde, betrókke, eiesoortige en onopgesmukte woordkunstenaar is dalk die naaste wat die beurskomitee al daaraan gekom het om deur hul besluitneming voldoende erkenning aan Rabie en Wallace se bedoeling daarmee én nalatenskap te gee.
Buro: MvH