Modigliani, Livorno en die Blou Vis in Woodstock

  • 0

Pesce Azzurro Bistro, Woodstock

Roodebloemweg 113, Woodstock, Kaapstad
Telefoonnommer: +2721 447 2009
https://pesceazzurrobistro.com/pesce-azzurro
pesceazzurro113@gmail.com

Alle foto's deur Paul Murray

Terwyl ek kamera in die hand oorkant die straat van Pesce Azzurro in Roodebloemweg, Woodstock staan – die lug kobaltblou, die maan helder en die aand soel – om foto's te neem vir ’n artikel oor hierdie Kaapse seekosbistro, kom ’n Volkswagen Beetle in die straat verbygevlieg. Sonder om twee keer te dink, neem ek toe onmiddellik ’n klompie foto's – met die onderstaande foto as ’n produk daarvan. Dit was soos iets uit ’n Fellini-fliek; ’n bietjie retro met die potensiaal vir ’n insnit (intercut).

Die gebou by Roodebloemweg 113, Woodstock, waarin Pesce Azzurro gehuisves word, die nommer duidelik op die pilaar sigbaar, en ’n VW Beetle wat verbygevlieg kom – ’n retrotoneel as daar nou al ooit een was!

Die Franse deure lei jou na die binnekamer met mure vol kuns, die tafels en stoele elkeen verskillend, die restaurant knus en die verwelkoming vriendelik. Al wat oorbly, is om lekker te eet. Soos die Latynse digter Catullus vir sy vriend Fabullus gesê het: "Cenabis bene, mi Fabulle, apud me" (“Fabullus, you will dine well at my house”).

Vars vis is aan die orde van die dag, en die eienaar en sjef, Andrea Volpe, kies dit elke dag self by die vismark uit. Pesce azzurro vertaal na "blou vis", wat verwys na ’n groepering van olierige seekossoorte wat onder andere tuna, ansjovis, sardien en garnale insluit. Dit is byna asof jy kan verwag dat die klein hartmotief van die Hart-en-beroerte-stigting op elke vissie gestempel is ter erkenning van die hartvriendelike eienskappe in die omega-olies.

Die personeel van Pesce Azzurro gesels oor die dag se  disse voordat hulle om 18:30 oopmaak vir aandete. Van links is Petronela Toro, Lynn Muganiwa en Andrea Volpe. Al die disse word op ’n spyskaart teen die muur geskryf en disse word nie elke dag herhaal nie, wat verseker dat die aanbod interessant bly.

Andrea is afkomstig van Livorno, die Italiaanse hawe in die Tirrheense see (deel van die Mediterreense see) wat vernoem is na die Tirrhene wat in die 16de eeu VHJ saam met die Etruriërs (Italië se eerste inwoners) die kuslyn en gedeeltes van die binneland beset het. Vis, visvang en vis eet is sedertdien onlosmaaklik deel van hul lewens. Mens kan daarom sê dat Pesce Azzurro na ’n tradisie van 2 600 jaar gelede terugdateer en vandag hier in die hartjie van Kaapstad se historiese Woodstock ’n tuiste gevind het.

Roodebloem, soos in die straatnaam, was oorspronklik ’n plaas, en die naam kom waarskynlik van die rooi aalwyne wat teen die hange van Duiwelspiek gegroei het. Besoek http://www.ilovewoodstock.co.za/2011/09/local-history-the-roodebloem-farm vir meer inligting oor die gebied en om te lees hoe blomme die plaasname van die 16de eeu, soos Zonnebloem, Lelieblom en Roodebloem, beïnvloed het en steeds vandag voortleef. Nadat die oorspronklike plase verdeel is, is huise sedert 1884 in die voorstad Woodstock gebou en is die residensiële eiendomme vandag steeds gesog, aangesien dit naby die middestad is. Voordat grondherwinning plaasgevind het, het Woodstock sy eie strand gehad en was dit ’n deftige voorstad. Vir ’n blik op die eertydse Woodstock, besoek https://www.theguardian.com/cities/2014/aug/12/gentrification-woodstock-cape-town-suburb-hipster-heaven.

Andrea se pa, Angiolo Volpe, is ’n bekroonde kunstenaar van Livorno en is afkomstig van Pozzuoli in die streek Kampanië in die suidelike gedeelte van die Italiaanse skiereiland. Die gebied is bekend vir sy onwelriekende swawelbronne, wat blykbaar baie goed is vir jou vel. Angiolo het noord na Livorno migreer en voor hy ’n kunstenaar geword het, was hy ’n beroepshengelaar. Die jong Andrea het reeds van vroeg af geleer van vis, die reuk en varsheid daarvan en hoe dit skoongemaak, gevlek en voorberei moet word.

Jy kry nie sommer varser vis as dié wat by hierdie restaurant voorberei word nie. Geen van die vis word gevries nie en dit word deur Andrea self uit die dag se vangs uitgesoek. Hy berei dit self voor en bedien dit ook op versoek self by die tafel (sien die foto hier onder). Die persoon wat die vis uitkies, moet ’n uitsonderlike reuksin hê om te onderskei watter vis die varsste is. Andrea het dit van jongs af by sy pa geleer, wat self ’n visserman was.

Bo: Sjef Andrea Volpe ontbeen die vis en dien dit vir sy kliënte op deur die grate van kop tot stert versigtig van die vlees te skei. By die meeste van die varsvisrestaurante, veral in die suidelike deel van Italië, byvoorbeeld aan die besonderse Amalfi-kus, is dit steeds ’n kuns en ’n kelner se trots om vis te fileer. Hier skryf Katie Caldesi, die bekende kosskrywer, oor die Amalfi-kus.

Andrea vertel verder oor sy pa, die bekende Toskaanse kunstenaar Angiolo Volpe. ’n Internetsoektog lewer verskeie skakels na sy werke op. Een webtuiste noem dat hy in Livorno gebore is en dat hy hom van jongs af en lewenslank tot kuns verbind het. Hy behoort tot die Macchiaioli-skool, wat beteken hy skilder natuurtonele en poog om lig, skaduwees en kleur vas te vang. Sy skilderkuns beeld sy liefde vir die landskap om hom uit en is beïnvloed deur prominente Italiaanse figure soos Renato Natali. Volgens Andrea het sy pa die werk van Natali nagevolg en het self ook begin verf toe hy klein was, sonder ’n onderwyser – ’n ware outodidak.

Riflessi (“Refleksies”) deur Angiolo Volpe, olie op doek, 130 x 90 cm. Hierdie skildery van waterlelies weerspieël die post-Macchiaioli-invloed, met die klem op lig, skaduwee en kleur. Pesce Azzurro se mure is vol kunswerke, sommige deur Volpe.

Die kuns teen die bistro se mure weerspieël vis en vismotiewe; op die opdientafel in die middel van die bistro is daar ook verskeie voorwerpe wat met vis of die see te doen het; elke dag se spyskaart word teen die muur geskryf; en die disse word kreatief bedien. Dit alles dra by tot die vis-estetika en baie aandag en kreatiwiteit is ingespan om hierdie atmosfeer te bewerkstellig. Die beelde is so goed uitgedink dat dit amper voel of die visse uit die foto's uit in jou bord in kan val. In elke hoekie en gaatjie van die bistro is daar óf ’n foto van ’n vis óf die een of ander beeld van ’n vis, klein seiljag, bootjie of ’n skildery van die see.

Amedeo Clemente Modigliani se werke is ook prominent teen dié bistro se mure. Modigliani is waarskynlik een van Livorno se mees bekende figure, of selfs een van Italië se mees glansryke kunstenaars sedert Michelangelo. Hy is op 12 Julie 1884 in Livorno gebore en op die jong ouderdom van 35 (24 Januarie 1920) in Frankryk oorlede. Hy is bekend vir sy moderne naakportrette wat gekenmerk word aan die verlengde gesigte en figure, wat in daardie tyd nie goed ontvang is nie. As hulle destyds maar geweet het wat ons vandag weet! Vandag verkoop sy werke vir ongeveer $70 miljoen en selfs meer in sommige gevalle.

Twee belangrike replikas van Modigliani se skilderye hang teen Pesce Azzurro se mure. Die skildery aan die linkerkant is van Marios Varvoglis, ’n goeie vriend van die kunstenaar, wat ’n bekende musiekkritikus en dirigent was. Varvoglis se vervolging vir sy politieke standpunte was waarskynlik die belangrikste van al die aspekte van sy lewe. Alhoewel die oorspronklike skildery (116 x 73 cm, olie op doek, in 1919 geskilder) in ’n privaat versameling is, is replikas wêreldwyd te sien. Die oorspronklike skildery se waarde is astronomies, omdat dit moontlik Modigliani se laaste werk was. Vandag is dit ongeveer $50 miljoen werd, alhoewel dit nie naastenby so baie werd is soos sy naakskilderye nie. ’n Skildery wat waarskynlik die Kaapse restaurantgangers sal interesseer, is die een aan die regterkant van die Suid-Afrikaanse Beatrice Hastings. Hastings en Modigliani het saam in ’n woonstel in Parys gewoon en die portret is een van verskeie skilderye waarvoor sy poseer het. Die Suid-Afrikaanse digter en skrywer Stephen Gray het ’n magnum opus oor die besonderse lewe van Beatrice Hastings gepubliseer, en veral die deel waar sy saam met die kunstenaar rondrits, is beslis iets om te lees. Een webtuiste het die volgende oor Beatrice te sê: "Beatrice Hastings, a South African-born English poet and journalist for The New Age had a violent, drink and drug-fuelled  relationship with Modigliani for the first two years of the war."

Die tapas

Scoglio

Die tapas onverbeterlik: delikate "blou vis" (wat Andrea mooi verduidelik het), seekat op aartappel, sardines à la Venezia, tunacarpaccio en caponata (’n Sisiliaanse  eiervrugdis) as bykos. Die held was egter die scoglio (skulpvispasta).

Die vereiste vir uitsonderlike spaghetti à la scoglio is dat dit op spaghetti bedien moet word, en geen ander pastavorm nie, sodat dit al die geure kan absorbeer. Daar heers nog ’n debat oor watter bestanddele deel vorm van dié fantastiese dis. Scoglio se letterlike vertaling is "rotsbank", en dit verwys na die vis wat spesifiek in hierdie onderwater-rotsstrukture gevind word – mossels, garnale, calamari en vis.

Afgesien van die skulpvis, mag ander mense dalk sê dat Pesce Azzurro se spesialiteit spesifiek die vars vis is. Ek het een aand saam met die alombekende Kaapse kunstenaar William "Beezy" Baily en sy gesin daar gaan eet, en terwyl ons nie uitgepraat kon raak oor die delikatesse en smake van die vis nie, het William kalm opgemerk: "Ek dink die vis geniet dit om só gaargemaak te word." Ons het dit gerusstellend gevind.

Terwyl jy hierdie unieke restaurant se vars vis geniet, sal die verbintenis tussen Kaapstad en Livorno, en dié twee plekke se verbintenis in see en lug, kuns en geskiedenis, beslis interessante gesprekke om die etenstafel aanwakker.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top