Die Departement van Basiese Onderwys word daarvan beskuldig dat hulle besig is om Afrikaanse skole te kaap. Hulle wil glo ’n ANC-beheerde staatsgreep van stapel stuur wat gemik is teen die beheerliggame van skole wat onder andere skole se taalbeleid bepaal.
Die vakbondbeweging Solidariteit en die DA het albei in verklarings uitgevaar teen die jongste weergawe van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette.
Die wetsontwerp, wat in Desember verlede jaar by die parlement ingedien is, kan volgens alle aanduidings ’n nuwe taalstryd oor Afrikaans in skole ontketen.
Die DA se skaduminister van basiese onderwys, Baxolile “Bax” Nodada, sê in ’n verklaring die wetsontwerp gaan ’n staatsgreep teen die ouers en kinders van Suid-Afrika uitvoer deur skoolbeheerliggame te beroof van hul magte om die toelatings- en taalbeleide van skole in hul gemeenskappe te bepaal.
Solidariteit beskuldig op hulle beurt ook die Departement daarvan dat die beplande wysigingswetsontwerp niks anders is as staatskaping van skole nie. Hulle het reeds met ’n veldtog #vegvirafrikaans begin waarin hulle daarop aandring dat kinders die reg het om in Afrikaans te leer.
Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, sê dit gaan die moeder van alle gevegte wees. Hy het op Facebook gesê aan die een kant moet hulle kliphard veg om die staat se kaping van skole te keer. Aan die ander kant moet hulle kliphard bou aan ’n wêreldklas Afrikaanse onafhanklike skoolstelsel. “Daar is al wonderlike inisiatiewe (...), maar ons sal baie groter moet dink,” het Hermann geskryf.
“Ons sal meer aktief moet dink en bou aan die post-staat-onderwysbedeling. Die krag van die vierde industriële revolusie is dat dit antwoorde bring vir vrae waarvoor daar nie voorheen antwoorde was nie. Dit stel gemeenskappe in staat om antwoorde anderkant die nasionale staat te kry. So is dit ook met die onderwys.”
Die DA sê in hulle verklaring deur beheerliggame van hierdie magte te beroof, beplan die Departement om beheer oor openbare skole te sentraliseer. “Hulle wil toesien dat dit nie in die hande van die gemeenskappe en ouers is wat weet wat die beste vir hul kinders is nie, maar in die hande van ANC-kaders soos die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi.”
Sou die wetsontwerp aanvaar word, sal die nasionale Departement van Basiese Onderwys, onder leiding van Angie Motshekga, volgens die DA ’n gelaaide wapen aan mense soos Lesufi oorhandig om die oorlog wat hy lank teen beheerliggame en moedertaalonderrig gevoer het, te beëindig.
Artikel 4 van die wetsontwerp bemagtig amptenare en LUR’e om die toelatingsbeleide van enige van die 24 000 openbare skole in die land te wysig.
Artikel 5 van die wetsontwerp – die “Lesufi-klousule” – gee LUR’e soos Panyaza Lesufi dit waarna hy, volgens die DA, nog altyd gesmag het: die mag om die taalbeleid van enige van die duisende openbare skole in die land te verander en om enige openbare skool te beveel om sy beleid te verander.
Artikel 13 van die wetsontwerp gee amptenare en LUR’e die mag om enige openbare skole in Suid-Afrika saam te smelt en te benoem.
Alhoewel die wetsontwerp ’n aantal prosedurele stappe uiteensit wat in elk van hierdie gevalle gevolg moet word, bepaal dit uitdruklik dat “die finale gesag” nie in die skoolgemeenskap berus nie.
Die DA sê buite die DA-beheerde Wes-Kaap is Suid-Afrika se basiese-onderwys-stelsel in ’n krisis. Die wortels van hierdie krisis lê volgens hulle in die feit dat die ANC en sy bondgenote, insluitend die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersvereniging (Sadtu), die onderwysstelsel gekorrupteer het om hul politieke belange te dien.