Moederstad se waterbeperkings ná jare se droogte opgehef

  • 0

Ná die ergste droogte in 100 jaar kan Kapenaars vanaf 1 November vir die eerste keer die afgelope paar jaar weer onbeperk water gebruik.

Die stad Kaapstad se burgemeesterskomitee het dié week eenparig besluit om ’n aanbeveling te steun dat waterbeperkings opgehef word en na die laagste watertarief oor te skakel.

Die stadsraad sê in ’n mediaverklaring die opheffing van waterbeperkings en goedkoper watertariewe in die Moederstad tree op 1 November in werking.

Tydens die hoogtepunt van die droogte was die waternood in die Kaapse metropool só ernstig dat die stadsraad voorbereidings getref het vir “Dag Zero” wanneer daar nie genoeg water sou wees om in die stad se normale behoefte te voorsien nie. Op Dag Zero sou inwoners slegs 25 liter water per persoon per dag by 200 versamelpunte in die stad kon bekom.

Die situasie was in een stadium so ernstig dat die stadsraad gesê het die vraag is nie meer óf Dag Zero gaan aanbreek nie, maar wanneer. Daar is gevrees Dag Zero sou reeds in 2018 ’n werklikheid word. Die situasie was so ernstig dat die munisipale water in Kaapstad selfs in Maart 2018 kon opdroog as daar nie genoeg water gespaar kon word voordat dit begin reën nie.

Kaapstad se gemiddelde damvlak het in Januarie 2018 tot minder as 28% gedaal. In 2017 was die gemiddelde damvlak in die provinsie in die ooreenstemmende tyd 41,36%.

Kapenaars is maande lank nie toegelaat om hul tuine nat te lei nie. Mense met swembaddens kon ook nie hul swembaddens opvul nie. Verskeie munisipale swembaddens het ook hul deure gesluit in ’n poging van die stadsraad om water te bespaar. Slegs ’n sekere aantal munisipale swembaddens is oopgehou waar Kapenaars tydens die droogte in die versengende somerhitte kon gaan afkoel.

Daar is aanvanklik verwag dat Dag Zero op 22 April 2018 sou wees, maar dit is kort daarna na 12 April vervroeg. Paniekbevange inwoners (wat dit kon bekostig) het begin om rou sowel as behandelde water op te berg in afwagting van Dag Zero. Dit is later geskuif na 16 April 2018, en daarna weer verander na onderskeidelik 11 Mei, 4 Junie en 9 Julie daardie jaar. Ná die eerste reën in ’n lang tyd is Dag Zero onbepaald uitgestel, maar Kapenaars moes steeds ernstige waterbeperkings in die gesig gestaar.

In Desember verlede jaar het die stad se burgemeester, Dan Plato, nog gewaarsku dat waterbeperkings in die Kaapstad-metro daar is om te bly.

Volgens die stadsraad dui nuwe projeksies daarop dat die damme teen aanstaande winter nie weer onder 50% sal daal nie. Dit beteken dat die instelling van alle waterbewaringsmaatreëls opgehef kan word, behalwe die bestaande permanente waterregulasies.

Ná die goeie reën van die afgelope weke is die Wes-Kaapse waterverskaffingstelsel van die gedeelde damme, waarvan Kaapstad een van die gebruikers is, tans in die meeste gevalle 100% vol.

In ’n verklaring wat vandeesweek uitgereik is, het die metroraad al sy inwoners, raadslede, vennote en gemeenskappe bedank wat Kaapstad gehelp het om deur hierdie ongekende droogte- en herstelperiode te kom.

Die stadsraad sê ’n projeksie wat die jongste waterverbruikpatrone vir die komende somer aandui, toon dat daar voldoende water sal wees om ook die water- en sanitasietariewe te verlaag. 

  • Vir meer inligting oor die opheffing van die waterbeperkings en die permanente regulasies wat steeds van toepassing is, besoek die Stad Kaapstad se webwerf by hierdie skakels: www.capetown.gov.za / resource.capetown.gov.za.
  • Meer inligting oor die stad se oorhoofse waterstrategie kan hier gevind word.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top