Moedverlore restaurante vaar strate in

  • 0

Restaurante regoor die land het Woensdag deelgeneem aan ’n vreedsame betoging om die aandag te vestig op die verknorsing waarin die bedryf hom bevind as gevolg van die regering se inperkingsregulasies.

Verskeie restaurante moes reeds hulle deure sluit as gevolg daarvan en talle ander restaurante se toekoms hang aan ’n draadjie; hulle sal waarskynlik ook moet sluit as daar nie na hulle versoeke geluister word nie.

Restaurante mag ingevolge inperkingsregulasies kos aan aansitklante bedien solank daar aan streng protokol voldoen word, maar mag geen alkohol bedien nie.

Restaurantwerkers landwyd het deelgeneem aan protesoptrede op sypaadjies om aandag te vestig op al die werksgeleenthede wat in gedrang is.

Die onafhanklike sakegroep Sakeliga het Woensdag sy lede aangemoedig om restaurante en koffiewinkels te ondersteun as deel van die Suid-Afrikaanse restaurantvereniging Rasa se Million Seats on the Streets-veldtog. Die grendelstaat kos hierdie bedryf volgens Sakeliga reeds soveel as R7 miljard per maand, oftewel sy totale omset.

Op sosiale media het dit gegons soos wat restaurante en klante foto’s en video’s geplaas het van restaurante wat aan die betoging deelgeneem het.

In Kaapstad is ’n deel van Breestraat met tafels en stoele versper en betogers het gedreunsing “Jobs save lives.” Die straat moes deur die verkeerspolisie afgesper word. Video’s daarvan is ook deur die fotojoernalis Ashraf Hendricks van GroundUp op Twitter geplaas.

Die uitvoerende hoof van Sakeliga, Piet le Roux, sê in ’n mediaverklaring dat na maande se onnodig skadelike, buitensporige en impulsiewe regulasies, verskeie industrieë op hul knieë is. Hy sê in besonder het die kleinhandel-, voedsel- en drankbedryf die totale ineenstorting van sy omset van bykans R7 miljard per maand, wat dit in April sou gewees het, tot minder as R1 miljard ervaar. Restaurante en koffiewinkels, ’n beduidende onderafdeling van dié industrie, se omset het van meer as R4 miljard tot nul in April gedaal, volgens voorlopige statistieke van Stats SA wat Maandag uitgereik is.

“Ons moedig alle sakepersone aan om ’n drankie of ete by restaurante en koffiewinkels te koop en te geniet. Ons moedig hulle aan om ’n foto te neem en dit op sosiale media te plaas, met kommentaar oor die grendelstaatregulasies en die impak daarvan, of wenke oor hoe om skadelike regulasies teë te werk.” het Le Roux gesê.

Rasa se Million Seats on the Streets-veldtog het behels dat restaurante en koffiewinkels regoor die land hul tafels buite en selfs in strate plaas om te betoog teen die skade wat deur die regering se COVID-19-regulasies aan die bedryf aangerig is.

Die bestuurshoof van Rasa, Wendy Alberts, het vroeër gesê 30 persent van restaurante het reeds permanent hul deure gesluit, terwyl 50 persent onseker is of hulle ooit weer sal kan oopmaak. Sy sê hulle hoop die regering sal na hulle griewe luister en instem om met die bedryf te vergader.

“Wat die regulasies veral onaanvaarbaar maak, is die onnodige skade aan lewens en lewensbestaan. Dieselfde gesondheidsvoordele sou verkry kon word deur meer sinvolle beleide [maar met] minder ekonomiese skade,” het Le Roux gesê.

Le Roux het gevra betogings moet op ’n manier geskied wat nie ander besighede of persone benadeel nie. Hy het versoek dat geen toegangsroetes volledig afgesper word nie en dat geen persone of privaat besighede belemmer of benadeel word nie. “Reg en orde, persoonlike gesondheid en veiligheid, sowel as die lewensvatbaarheid van ander ondernemings wat ook onder geweldige druk is, moet gekoester en beskerm word.”

In Wellington in die Wes-Kaap is stoele en ’n leë tafel van 200 m lank as deel van die veldtog uitgepak om die aandag te vestig op die werkverlies wat die restaurantbedryf ervaar.

RSG berig dat lede van Rasa in KwaZulu-Natal ook ’n beroep op die regering gedoen het om restaurante toe te laat om ten volle te heropen solank hulle aan protokol vir ontsmetting en sosiale distansiëring voldoen.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top