Momentum neem toe om ANC te probeer verslaan

  • 0

Opposisiepartye en burgerlike organisasies in Suid-Afrika is op verskeie fronte besig om hande te vat met die oog op volgende jaar se verkiesing in ’n poging om die ANC uit die kussings te lig.

Verskeie ontwikkelings is besig om hernude momentum te gee aan samewerking tussen partye en die betrokkenheid van burgerlike organisasies. Verskeie burgerlike organisasies het begin om Suid-Afrikaners onder een sambreel, #Convergence4SA, saam te snoer en aan te moedig om volgende jaar te gaan stem.

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die land het nie hierdie vlak van verenigde samewerking op beide die vlak van politiek en die burgerlike samelewing ervaar sedert 1994 nie. Volgens Steenhuisen voorspel dit iets baie goeds vir volgende jaar se deurslaggewende verkiesing.

Dit is veral die aktivering van die burgerlike samelewing wat politici opgewonde maak.

Al die ondertekenaars van die Veelpartyhandves het die jongste inisiatief van die sameroepers van #Convergence4SA om ’n wye spektrum burgerlike organisasies rondom een ​​tafel byeen te bring, verwelkom. Dit behels ’n strategie om maniere te ondersoek om saam te werk en hul pogings te koördineer om kiesers te mobiliseer om te registreer en te stem vir verandering in die 2024 nasionale en provinsiale verkiesings.

’n Verklaring van die Veelpartyhandves lui dit word as ’n uiters bemoedigende ontwikkeling beskou en die hoop word uitgespreek dat dit meer groepe en organisasies tot verenigde optrede sal aanspoor.

“Net soos die United Democratic Front (UDF) die maatskaplike gronde gegenereer het wat ’n herstel vir Suid-Afrika in 1994 aangevuur het, so kan hierdie en ander sulke inisiatiewe help om ’n nuwe era van verantwoordbare, bekwame en sorgsame regering in 2024 in te lui.”

Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus sê dit is ’n baie positiewe ontwikkeling wat wyd gesteun behoort te word. Hy sê die afgelope aantal jare het die burgerlike samelewing ’n al hoe groter rol in Suid-Afrika begin speel.

Mulder sê in ’n verklaring dit het noodsaaklik geword vanweë die verval en inploffing van die staat wat nie langer in staat is om sy verantwoordelikhede teenoor die burgers van Suid-Afrika na te kom nie.

“Hierdie aanvanklike groep van 22 organisasies dui die pad aan vir die totale burgerlike samelewing in Suid-Afrika.”

Intussen het die ACDP besluit om ook by die Veelpartyhandves aan te sluit. Dit bring die aantal eendersdenkende ledepartye wat die handves onderteken het, nou op agt politieke partye te staan. Steenhuisen sê in ’n verklaring dit is verblydend dat hulle nou ook besluit het om aan te sluit by die strewe om ’n geloofwaardige alternatief te bied wat tydens volgende jaar se verkiesing gesamentlik kan wen.

Die samewerking tussen opposisiepartye wat van die ANC-regering ontslae wil raak, het nog ’n verdere hupstoot vir die opposisie-alternatief gekry in die vorm van ’n studietoer deur partyleiers na Duitsland.

Die reis het hulle in staat gestel om dieper na die nuanses en kompleksiteite van interpartysamewerking of koalisieregerings te kyk. Dit sluit kwessies in soos verskillende koalisiekonfigurasies oor streke heen gebaseer op verskillende verkiesingsuitslae, die interaksie tussen diverse streekkoalisies en ’n nasionale koalisieregering, sowel as die delikate balans wat betrokke is by veldtogte as individuele partye terwyl hulle nie die behoefte aan samewerking uit die oog verloor nie.

Steenhuisen sê om hierdie moeilike kwessies wat dikwels in die daaglikse onderlinge politieke stryd agterweë gelaat word, saam met medepartyleiers te kon ondersoek was ’n waardevolle oefening wat hulle ook gehelp het om hegter persoonlike bande te smee.

Hy sê dit was veral nuttig om hierdie kwessies as waarnemers eerder as aktiewe deelnemers te ondersoek. “Die feit dat ons almal objektief na die Duitse ervaring kon kyk, het ons gehelp om meer openlik oor die lesse vir ons in Suid-Afrika te besin. Al is ons land dalk betreklik nuut in die wêreld van koalisiepolitiek, was dit ook vertroostend om te besef dat Suid-Afrikaanse politieke partye nie alleen is om komplekse en soms stormagtige waters aan te durf terwyl ons ’n koers uitstippel om ons land van ANC-wanbestuur te bevry nie,” het Steenhuisen gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top