Suid-Afrika se jongste misdaadstatistiek wat Dinsdag bekendgemaak is, dui op ’n onrusbarende beeld van ’n gewelddadige gemeenskap waar moord en ernstige aanranding aan die orde van die dag is.
Dit is die reaksie van politieke leiers en burgerlike organisasies na die bekendmaking van die land misdaadstatistiek van die laaste kwartaal van die huidige verslagjaar.
Die minister van polisie, Bheki Cele, se stelling dat dit voorkom of die misdaadgolf in Suid-Afrika besig is om ’n keerpunt te bereik, is oor die algemeen met skeptisisme begroet.
Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, was een van talle wat opnuut Cele se kop geëis het. Maimane het op Twitter gesê die land is nie veilig met Cele aan die stuur van die polisie nie.
Crime has increased every quarter for the last year. Bheki Cele must resign.
The murder rate in the 4th quarter has increased by 3,4% in South Africa. 70 people were murdered every day between January and March this year.
We are not safe with Bheki at the helm! pic.twitter.com/ohfr7unEiz
— Mmusi Maimane (@MmusiMaimane) May 30, 2023
Die moordsyfer in die vierde kwartaal het met 3,4% toegeneem en 70 persone is elke dag tussen Januarie en Maart vanjaar vermoor.
Al toon van die misdaadstatistieke wat Dinsdag deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vrygestel is, ’n geringe afname sedert die vorige drie maande, moet Bheki Cele onthou dat werklike mense agter daardie syfers sit. Dit is in werklikheid geen rede om fees te vier wanneer meer as ’n kwartmiljoen mense oor ’n dekade vermoor word nie, sê Ian Cameron van Action Society.
Hy sê as die huidige tendens voortduur, sal daar in die volgende 10 jaar 300 000 mense in Suid-Afrika vermoor word, en het Suid-Afrika op Twitter as ’n bloedbad bestempel.
South Africa is a bloodbath:
Some #CrimeStats to take note of:
In last 12 months-27000 murders per year
76 per day
3 per hourRape 43000 per year
120 per day
5 per hourChildren murdered
245 per month
3 per dayWomen murder
11 per day
1 every 2 hours— Ian Cameron (@IanCameron23) May 30, 2023
Die statistieke toon dat 11 vroue en drie kinders per dag vermoor word. Dit wys ook dat 15 vroue en vier kinders daagliks ’n poging tot moord oorleef. Byna 25 000 mense in Suid-Afrika was die afgelope jaar slagoffers van poging tot moord.
Verder word daar elke dag 120 gevalle van verkragting aangemeld, maw vyf per uur. As die erge onderaanmelding van hierdie sake in ag geneem word, is ’n verkragtingsyfer van 50 000 per jaar baie konserwatief, sê Action Society in ’n verklaring.
PRESS RELEASE | To the state, innocent victims are just statistics.https://t.co/Z8kCsttBwG #CrimeStats
— Action Society (@ActionSocietySA) May 30, 2023
“Hierdie statistieke, nie net vir misdaad nie, maar ook vir skuldigbevinding, maak dit vir ons baie moeilik om enige sukses in die toekoms te sien,” het Cameron gesê. “Tensy die regering dringend ’n geïntegreerde plan tussen die Departemente van Polisie, Justisie, Korrektiewe Dienste en Maatskaplike Ontwikkeling implementeer, beteken die misdaadstatistieke niks,” het Cameron gesê.
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het in sy reaksie gesê die jongste polisiemisdaadstatistiek bied ’n weerspieëling van misdadigheid wat die gevolg is van ’n krimpende ekonomie en die desperaatheid van werklose Suid-Afrikaners wat hulle toenemend tot misdaad wend om te oorleef.
Groenewald sê in ’n verklaring dit skets ook ’n onrusbarende beeld van ’n gewelddadige gemeenskap waar moord en ernstige aanranding aan die orde van die dag is.
Verlede jaar is 27 066 mense vermoor. Dit is 2 256 per maand of 76 elke dag. Daar is meer as drie moorde elke uur van die dag en nag in Suid-Afrika. @GroenewaldPJ https://t.co/767xYVsRm6
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) May 30, 2023
In die eerste drie maande vanjaar is 6 289 moorde aangeteken, teenoor 6 083 ’n jaar gelede. In die vierde kwartaal (Januarie tot Maart) van die 2018/19-boekjaar was daar 4 896 moorde; dit beteken ’n toename van 1 393 vir dieselfde tydperk binne net vier jaar.
Verlede jaar is 27 066 mense vermoor. Dit is 2 256 per maand of 76 elke dag. Daar is meer as drie moorde elke uur van die dag en nag in Suid-Afrika.
Van die 6 289 moorde van Januarie tot Maart vanjaar was 872 weens vigilantes en boendoehofgeregtigheid, teenoor 350 in die laaste kwartaal van 2019. Vigilantisme word ook as rede gegee vir 1 181 voorvalle van poging tot moord en 16 645 voorvalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
“Dit dui daarop dat die publiek die polisie al hoe minder vertrou en toenemend die reg in eie hande neem. Dit is ook duidelik dat die regering se pogings om geweld teen vroue en kinders hok te slaan, klaarblyklik nie suksesvol is nie,” het Groenewald gesê.
Moord op vroue (969 teenoor 898 ’n jaar gelede), poging tot moord (1 485 teenoor 1 222) en ernstige aanranding (15 141 teenoor 15 034) het toegeneem. Misdaad teen kinders toon wel ’n afplatting.
Ander geweldsmisdade wat skerp toegeneem het sedert die ooreenstemmende tyd verlede jaar, is poging tot moord (8,3%), aanranding (7,6%), roof (8,9%) en gewapende roof (5,1%).
Misdaad soos inbrake, diefstal en vragmotorkapings het ook skerp toegeneem.
Rooftogte by woonhuise, een van die gevreesde triomisdade, het met 5,9% toegeneem sedert die ooreenstemmende tydperk verlede jaar (5 267 voorvalle tot 5 578). Roof van kontant in transito het met 20,8% toegeneem (53 tot 64) en winkeldiefstal met 20,3%.
Enkele ligpunte is ’n afname in seksuele oortredings soos verkragting (2,8%) en seksuele aanranding (14,9%). Motorkapings het met 5,2% afgeneem.
Plaasmoorde het luidens die statistiek afgeneem van 17 moorde in die eerste drie maande verlede jaar tot agt vanjaar. Groenewald sê hier moet egter in gedagte gehou word dat boere toenemend self maatreëls tref om hul veiligheid te verseker.