Moord op Suid-Afrikaanse gay imam maak wêreldwyd opslae 

  • 0

Die dood van Muhsin Hendricks, die wêreld se eerste openlik gay imam wat die afgelope naweek koelbloedig in Gqeberha doodgeskiet is nadat die motor waarin hy gery het, in ’n lokval gelei is, maak steeds wêreldwyd opslae.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) vra vir ’n vinnige en deeglike ondersoek na die moord op Muhsin Hendricks, terwyl huldeblyke regoor die wêreld die afgelope week ingestroom het, maar so ook aanlyn kommentaar dat sy dood geregverdig was.

Die polisie ondersoek die dood, met ’n sterk vermoede dat dit ’n haatmisdaad was, aangesien Hendricks voorheen dreigemente ontvang het oor sy standpunt oor selfdegeslagverhoudings binne die Islam.

Sy dood het ’n golf van veroordeling en protes opgelewer van die LGBTQ+-gemeenskap, regeringsamptenare en internasionale organisasies soos ILGA World, wat ’n deeglike ondersoek na die moontlikheid van ’n haatmisdaad geëis het.

Die 58-jarige Hendricks is geskiet terwyl hy as passasier agter in ’n motor gesit het, op pad na ’n huwelik wat hy moes bevestig.

“Twee onbekende verdagtes met bedekte gesigte het uit die voertuig geklim en verskeie skote op die voertuig begin vuur,” het die polisie in ’n verklaring gesê.

Hendricks was die stigter van die Al-Ghurbaah Foundation, ’n instansie wat ondersteuning aan gemarginaliseerde Moslems op grond van seksuele oriëntasie en geslagsidentiteit bied. Hierdie stigting het ook selfdegeslaghuwelike gesanksioneer.

Die SAMRK sê in ’n verklaring hulle veroordeel hierdie gewelddadige daad ten sterkste en doen ’n beroep op wetstoepassingsowerhede om ’n deeglike en spoedige ondersoek te doen om die motief agter sy moord te bepaal.

“Sou dit bevestig word dat imam Hendricks geteiken is vir sy voorspraak ter ondersteuning van die LGBTQI+-gemeenskap, sal hierdie misdaad die dringende behoefte aan die volle en effektiewe implementering van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdade en Haatspraak beklemtoon,” lui die SAMRK se verklaring .

Hendricks is in 1967 gebore en het in Kaapstad in ’n tradisionele Moslem-huishouding grootgeword. Sy oupa was ’n Islamitiese geestelike. Hy het aan die Universiteit vir Islamstudies in Pakistan gestudeer.

In 1996 het hy as homoseksueel uit die kas gekom. Twee jaar later begin hy byeenkomste vir LGBTQ+-Moslems in sy geboortestad organiseer. Hy het ’n moskee in Kaapstad opgerig wat bedoel was as ’n veilige hawe vir gay en ander gemarginaliseerde Moslems.

Sy heengaan verskerp ’n wêreldwye debat oor die vraag of openlik homoseksuele Moslems toegelaat mag word om aan die geloof te hoort.

President Cyril Ramaphosa het in ’n verklaring sy innige meegevoel betoon met die familie, vriende en medeaktiviste van Hendricks wie se lewe wreed deur gewapende mans in Gqeberha beëindig is.

Ramaphosa sê terwyl daar gewag word op die uitslag van ondersoeke, is hy bekommerd oor die gerapporteerde waarskynlikheid dat dit ’n haatmisdaad teen ’n godsdienstige leier is wat hom vir die regte en beskerming van LGBTQ+-Moslems en landgenote in die breë beywer het.

“Soos alle Suid-Afrikaners, verwag ek dat die skuldiges aangekla sal word vir hierdie gruwelike aanval,” het Ramaphosa gesê.

Die SAMRK sê die kommissie sal die aangeleentheid monitor en beoordeel in ooreenstemming met sy grondwetlike mandaat om menseregte te beskerm en met die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie.

“As deel van sy oorsigmandaat sal die kommissie onder leiding van kommissaris Tshepo Madlingozi, wat verantwoordelik is vir die Gelykheidsfokusgebied (Equality Focal Area) en die Oos-Kaapse provinsiale kantoor, hierdie week na Gqeberha reis om met die SAPD te praat om die omvang en status van hul ondersoek te bepaal. Daarbenewens sal die kommissie ook met die imam se familie en LGBTQI+-aktiviste vergader om sy innige meegevoel en solidariteit uit te spreek.”

Die SAMRK het ’n beroep op alle relevante owerhede gedoen om hierdie saak te prioritiseer, geregtigheid vir Hendricks te verseker, en Suid-Afrika se verbintenis tot die beskerming van alle individue teen diskriminasie en geweld te bevestig.

Die kommissie sê hulle sal die polisie-ondersoek noukeurig monitor en in enige uiteindelike verhoor ’n toesigopdrag hê.

Lees ook:

Ook mý imam Muhsin

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top