’n Godsdienstwis woed op die internet onder Afrikaanse Christene nadat ’n NG-predikant saam met Moslems en Christene ’n nagwaak op St George-katedraal in Kaapstad se trappe gehou het in solidariteit met hul “Moslembroers en -susters”.
Ds Riaan de Villiers, leraar van die Groote Kerk in Kaapstad, het ’n storm onder Afrikaanse Christene ontketen toe hy na die slagoffers van die massamoord op 50 biddende Moslems in Nieu-Seeland verwys het as sy broers en susters en ook dat hulle kinders van God is.
Die NG Kerk se koerant Kerkbode se Facebook-blad is met anti-Moslem kommentaar oorval nadat hulle daaroor berig het. Zacharias Venter het op Kerkbode se Facebook-blad geskryf: “Daar is net een ware God, Vader, Seun en Heilige Gees. Moslems verwerp die enige ware God en aanbid ’n afgod.”
Verskeie mense en selfs NG-predikante het De Villiers ernstig kwalik geneem omdat hy Moslems as sy broers en susters aanspreek. Hy is onder meer van kettery en dwaalleer beskuldig.
Ds Chris Saayman, predikant van die NG-gemeente Tafelberg in die Kaapstadse middestad het gesê daarmee word die eksklusiwiteit van die Evangelieboodskap en van Jesus Christus in sy kern verwerp en verloën in ruil vir ’n valse leer.
Hans Steyn het gevra dat De Villiers van sy amp ontneem en geskors word vir sy “skokkende” uitlatings.
Talle Christene was egter geskok oor die openlike Moslemhaat wat op Kerkbode se Facebook-blad losgebars het. Iris Allen het gesê sy skaam haar dat sy jare terug lid was van hierdie kerk wat blykbaar gevul is met liefdelose mense. “God het ons almal geskape en verwerp nie sekere groepe en omarm ander nie. Ek is siek van hoe mense altyd ander gewelddadige dinge uithaal wanneer so iets gebeur: “Two wrongs do not make a right”!
’n NG-dominee Johan Conradie, was ook geskok oor die anti-Moslem gevoelens van sommige Christene. “My gesondheid kan nie die lees van al die kommentaar waarvan so baie so veroordelend is en (grens aan) haatspraak hanteer nie,” het hy op Kerkbode se Facebook-blad geskryf.
Een van die NG Kerk se streeksmoderators het ook in die bres getree vir sy kollega was so verguis is omdat hy die nagwaak saam met Moslems bygewoon en vir hulle gebid het. Dr André Bartlett, moderator van die NG Kerk se Hoëveld-sinode het aan Netwerk24 gesê dit is ontstellend dat ’n humanitêre kwessie soos nood nou in ’n teologiese kwessie ontaard het. Bartlett sê “ons is saam met Christus bewoë oor die nood van die wat swaarkry. In plaas daarvan om te vra wie is my naaste, moet ons vra hoe kan ons mekaar ondersteun.”
Netwerk24 berig dat die moderator van die NG Kerk se algemene sinode, ds Nelis Janse van Rensburg nie wou kommentaar lewer nie. Die aktuarius van die NG Kerk, ds Charl Stander, het op sy beurt gesê sy “kennis oor die voorval is beperk” en hy is tans op geen manier daarby betrek nie.
Die twis het Maandag ook op die Hervormde Kerk se Facebook-blad uitgekring waar van die reaksies ewe kras was.
Riaan Riekert het gesê dit grens aan kettery om te sê dat mense wat “’n afgod aanbid” kinders van God is. “NEE HEMEL!” het Riekert op die Hervormde Kerk se Facebook-blad losgetrek.
Baie van die kommentaar op die kerke se Facebook-blaaie was blatante haatspraak.
Die adjunkpresident van die Moslem Juridiese Raad (MJR), Maulana Abdul Khaliq Ebrahim het aan Netwerk24 gesê die aangeleentheid sal by hulle volgende vergadering bespreek word. Hy het gesê hulle aanvaar en respekteer mense se verskillende interpretasies oor geloofsaangeleenthede maar haatspraak is onaanvaarbaar.
Buro: NB