Mr Fix wil spoorweë regruk, maar niemand glo hom nie

  • 0

Beloftes deur die minister van vervoer, Fikile Mbalula, dat sy departement die haglike toestand waarin die land se spoorvervoerstelsel verkeer, binne enkele maande gaan regruk, is met sinisme en skeptisisme deur Suid-Afrikaners begroet.

Mbalula sê in ’n verklaring die proses om die toestand van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) aan te spreek, is stewig op koers. Hy sê aansienlike vordering is reeds op ’n aantal gebiede gemaak.

Die minister, wat homself op Twitter Mr Fix noem, sê pogings om Prasa om te keer sal nie 30 jaar neem nie, maar sal in die komende jaar reeds tasbare resultate lewer. “Die meeste van die spoorlyne wat gesluit is, sal in die nuwe jaar weer in volle werking wees, insluitend die sentrale lyn in Kaapstad en die Mabopane-lyn in Tshwane,” het hy belowe.

Hy sê in sy verklaring hulle het kennis geneem van medianavrae oor die stand van Prasa. “Dit is ’n saak wat ons ten volle beoog om aan te spreek.”

Volgens Mbalula het hulle ’n “gebroke Prasa” geërf. “Maar ons sal dit regmaak,” het hy beloof te midde van ’n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) na 44 amptenare se beweerde onregmatige optrede in die departement.

Mbalula het gesê hy is ingelig oor ’n aantal belangrike besluite wat die direksie geneem het, wat die diensbeëindiging van die hoof- uitvoerende beampte insluit, ’n aangeleentheid wat tans voor die howe is.

“Die direksie gee eweneens dringend aandag aan ernstige aantygings wat teen een van die uitvoerende beamptes gemaak word, terwyl hulle onder andere die uitdaging van spookwerkers deur ’n interne veldtog, Operasie Ziveze, aanpak,” het die Minister gesê.

 “Almal stem saam dat ons ’n gebroke organisasie geërf het wat in die moeilikheid was. Deur die aandeelhouersooreenkoms wat ons met die direksie gesluit het, poog ons om die uitdagings vinnig, op ’n sistematiese en gefokuste wyse aan te spreek,” het Mbalula Maandag gesê.

Bantu Holomisa van die UDM wou op Twitter weet by wie hulle die gemors geërf het. “Moet ons asseblief nie flous nie. Die ANC het Prasa gestig. By wie is die gemors geërf? Die meeste van julle, indien nie almal nie, was sedert 1994 in die kabinet van die ANC-regering,” het Holomisa getwiet.

Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het ook op Twitter uitgevaar oor die haglike toestand van die spoorwegvervoerstelsel.

Hy het ’n foto van die vervalle Kliptownstasie in Soweto geplaas en gesê dit is die spoorwegstasie naby waar hy grootgeword het om by sy tante se familie in White City te gaan kuier. “Jy het van die trein afgeklim, en daar sou ’n Putco-bus wag om pendelaars na verskeie bestemmings te neem.”

Die finansiële kommentator Magnus Heystek het ook op Twitter reageer. Heystek sê dit moet lekker wees om in die werklikheid waarin Fikile leef, te leef.

“Uitstekende voorbeeld van kaderontplooiing in volle swang.”

Fikile het behoorlik wal gegooi in sy verklaring oor die kritiek teen hom en sy departement. Hy sê toe hy in 2019 in diens getree het, is ’n proses begin om die toestand waarin Prasa hom bevind het, aan te spreek.

Hy hou vol die proses is stewig op koers en dat aansienlike vordering reeds op ’n aantal gebiede gemaak is.

“Die narratief wat ’n indruk wil skep dat daar ’n krisis by Prasa is, vereis dat ons die rekord regstel. Die beheerraad wat ons in 2020 aangestel het, maak vordering met die bou van die nodige kapasiteit, terwyl dit leierskap verg om Prasa in staat te stel om sy mandaat na te kom, ” het Mbalula gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top