Tydens die nagvlug met KLM na Amsterdam is daar genoeg tyd om twee flieks te kyk. Vir my was dit onlangs die pragtige en ontroerende Lady Bird en die oordonderende Black Panther. Lady Bird is snaaks, klein, “lewenseg”, wat met ’n Engelse term omskryf sou kon word as “quirky”. Veral die twee ouers is goed getref en die akteurs Laurie Metcalf en Tracy Letts doen ’n wonderlike ding as die betrokke, liefdevolle en sukkelende ma en pa. Black Panther blaas my selfs op die klein skermpie in stoel 55 H omver, terwyl ek deurgaans nie baie omgee vir aksie of fantasie nie – die werklikheid is fantasties genoeg. Black Panther is uiteraard die ene vermaak, met tiperende Hollywood one-liners (“Don’t scare me like that, coloniser!”) en dramatiese musiek, maar veral is dit ’n rolprent waarin die good guy sowel as die bad guy swart is, ewenas die meeste ander karakters. Black Panther is ’n aantreklike mengsel van Afrika folklore, “blaxploitation” en science fiction, maar ek was veral verras deur die uitgesproke politieke lading, en die subteks van trots en dekolonisering.
Die fiktiewe ryk Wakanda is in wese die hart van die Afrika-kontinent. Maar om uit die hande te bly van die verdorwe Weste, wat slegs op die onskatbare “vibranium” belus sou wees, word Wakanda vir die wêreld verborge gehou. En dit terwyl Wakanda sowel op tegnologiese as op etiese gebied ver voor lê op die res van die internasionale gemeenskap. Wakanda word deur die vervaardigers van Black Panther gepresenteer as ’n hoogs hoogwaardige en tegnologies voortgedrewe gemeenskap, terwyl ou waardes en tradisies op ’n natuurlike wyse in stand gehou word. Dus lyk die strate steeds soos die oorvol strate van byvoorbeeld Lagos terwyl blitsvinnige treine deur die lug jaag, en is daar ’n sterk agrariese kultuur en ’n vanselfsprekende verbond met dier en natuur.
Die verwysings na slawerny, uitbuiting, kolonialisme, maar ook na burgeroorlog, magswellus en politieke wraak en verantwoordelikheid word op ’n speelse wyse met mekaar vervleg, soos in elke goeie aanskoulike of spannende epos. Dit sou mooi wees as dit oor 20 jaar nie meer besonder of merkwaardig is om so ’n hoofstroomfliek te sien nie; met vroue as die sterkste karakters, en met ’n groot meerderheid van niewit akteurs.
In die oggend, ’n paar uur voor die Boeing op Schiphol land, besluit ek om Blade Runner 2049 en Three billboards outside Ebbing, Missouri te bewaar vir die terugvlug huis toe, en eerder ’n paar kort dokumentêre flieks te kyk. Die “slick” maar mooi en opregte Britse program Black is the new black (2016) is ’n groot kontras met die ideaal soos in Black Panther geskets. Uiteenlopende figure uit die wêreld van sport, kultuur, politiek en sake praat oor swart wees in Engeland, oor migrasie, oor rassisme. Opvallend, Naomi Campbell, Thandie Newton, Dizzie Rascal, Les Ferdinand en ander, almal sê dieselfde: die opvoeding was liefdevol, maar ook baie streng. Die ouers, dikwels veral die ma, het besef dat jy as ’n bruin of swart persoon van buite Engeland jouself ekstra moes bewys, om nie net gesien te word as die fisieke, intimiderende “Ander” nie, maar as iemand wat inpas, ’n goeie inkome verdien en lyk soos ’n wit persoon. “Working twice as hard” – dit is iets wat ek herken, en ook mense van kleur in Nederland sal dit herken, of hulle van Antilliaanse, Surinaamse, Marokkaanse of Turkse afkoms is. Gewoon jou bes doen, soos die wit Nederlanders, is tien teen een nie genoeg nie.
Terwyl ek luister en kyk, iewers bo Noord-Afrika, dink ek aan die hele Ashwin Willemse-storie, en veral die reaksie van die publiek, die gebrek aan werklike empatie, die onwil om te probeer verstaan, te probeer luister, die hele goedpratery; deesdae is die reaksie van die publiek op gebeurtenisse in die nuus dikwels interessanter as die gebeurtenis self. En ek dink weer aan die brief van 28 Mei van Meindert Jonge Poerink in Hermanus (“Land op rand van afgrond weens wanbestuur”) in die al hoe meer regse en sensasiebeluste koerant Die Burger – ’n brief vol klagtes oor die huidige stand van sake in Suid-Afrika, en die ellendige en alewige fokus op ras en velkleur. Ag, shame tog. “Werk hard en sit skouer aan die wiel, dit het ek ook gedoen” is die strekking, waaruit blyk dat daar geen benul is van die worstelinge van so baie van sy niewit landgenote wat ewe hard of dalk selfs harder werk as hy, maar in die verlede definitief nie kanse gekry het nie, en eintlik steeds nie kry nie: kyk maar elke oggend na die vol stadsbusse, treine en taxibussies, op pad na die stad en mooi plekke soos Hermanus om die vuil werk te doen. Hoeveel skouers hulle ook aan die wiel sit, daar is nie eintlik beweging nie.
So baie mense moet “twice as hard” werk, en dan nóg sien hulle nie resultate nie – en dit terwyl hulle, woonagtig in Kuilsrivier, Athlone, Elsies, Gugulethu of waar ook al, nie eers afkomstig is van ouers wat immigrante was nie, maar gewoon van Suid-Afrikaanse ouers, grootouers en so verder. En dan wonder party mense nog hoekom so baie mense al hoe meer woedend is. En mense soos Poerink van Hermanus maar kla oor die huidige bestel wat so sleg is en so korrup. Nie dat dit onwaar is nie, maar mens hoop maar (teen beter wete in?) dat mense soos hy in die apartheidsjare ook so tekere gegaan het teen die korrupte staat en onmenslike bewind.
In de Volkskrant van Saterdag 3 Junie skryf Martin Sommer oor die nuwe voorspellings oor die samestelling van die Nederlandse bevolking:
Die [prognose, AS] luidt dat Nederland in 2060 nog aanzienlijk diverser zal zijn dan nu. Van de achttien miljoen verwachte bewoners, zal tegen die tijd zes miljoen een buitenlandse achtergrond hebben. Nu eenvijfde, straks eenderde van de bevolking. Desondanks moeten we de boel bij elkaar houden. Liefhebbers van de diversiteit breken zich daar het hoofd niet over.
Ag, shame tog. Sommer se stelling kan mens langs Poerink s’n sit; dit gaan oor hard werk in die algemene belang van die gemeenskap, dit gaan nie oor individuele identiteitsproblematiek nie. Want diversiteit is mos gevaarlik:
Laat iedereen vooral zijn levensverhaal vertellen. Maar als grondslag voor de samenleving heb je er niets aan. Het tegendeel van diversiteit als ideaal heet burgerschap. Het uitgangspunt van burgerschap is niet het uitdragen van je eigenste eigenheid, maar juist het loskomen daarvan.
Ja, dit is maklik vir iemand om te sê wat erken word, wie se agtergrond, geskiedenis en lewensverhaal nie gemarginaliseer word nie, maar elke dag bevestig word. Asof die niewit Nederlanders heeltyd net oor diversiteit, identiteit en rassisme wíl praat; asof vroue heeltyd wíl praat oor gelyke regte en gelyke kanse. Asof hulle nie gewoon hulle werk wil doen, in die belang van die groter gemeenskap nie. Dit is soos met die verraderlike woord “inklusiwiteit”: dit klink mooi, maar wat beteken dit feitelik? Wie bepaal wie waar by hoort, wie moet aanpas by wie?
Uiteraard moet ’n liberale maatskappy wat oop en tolerant wil bly, nie tolereer dat ’n nuwe konserwatisme sorg vir probleme soos ’n kind met ’n Islamitiese agtergrond wat nie langs ’n homoseksuele skoolseun wil sit nie. Maar intoleransie is nie ’n probleem wat (uitsluitend) hoort by ’n samelewing met mense afkomstig uit verskillende wêrelddele en met verskillende velkleure nie. Inteendeel. (Kyk net na die “gay-debat” binne Afrikaanse “christelike” kringe.) Die kortsigtigheid van Martin Sommer is dalk tiperend vir hom as ’n Nederlandse, regs-liberale rubriekskrywer, maar waarskynlik eggo hy baie Nederlanders se opvattings oor die “angstige” toekoms wat voorlê vir ’n diverse maatskappy. Ek is bevrees arme Sommer se gesondheid sou in Suid-Afrika gou verslegter: al daardie multikulturele diversiteit sou hom aanhoudend paniekaanvalle besorg!
Die bekende Britse komediant sir Lenny Henry praat in Black is the new black oor die taamlik hardhandige opvoeding wat so baie kinders van ouers wat na Engeland geëmigreer het, ontvang het: “There was a lot of whacking going on.” Maar, sê Henry, eintlik het dit dikwels nie eers oor jóú gegaan nie, maar om iets anders. Dink jou in dat jy elke liewe dag, dag na dag, vreeslik hard en baie lank moet werk vir ’n appel en ’n ei, en dat jy, maak nie saak hóé hard jy werk nie, elke dag die evidente Ander is en bly. Dit doen moontlik iets aan ’n ma of ’n pa – hulle is ook net mense.
Wat is dit wat Henry hier op my skermpie wys? Empatie, inlewingsvermoë. Kenmerke van goeie burgerskap en leierskap en ’n teken van medemenslikheid.
We will work to be an example of how we, as brothers and sisters on this earth, should treat each other. Now, more than ever, the illusions of division threaten our very existence. We all know the truth: more connects us than separates us. But in times of crisis the wise build bridges, while the foolish build barriers. We must find a way to look after one another, as if we were one single tribe.
Wie is die persoon wat dié ware en wyse woorde gesê het? Martin Luther King? Nelson Mandela? Nee, ongelukkig is dit die fiktiewe koning T’Challa, die nuwe leier van die fiktiewe koninkryk Wakanda, uit die fiktiewe Amerikaanse blockbuster Black Panther.
You may now unfasten your seatbelts.
Buro: MvH