Verskroeide Britte op die strand langs die reste van gemorskos en met uitspattige sonbrille op het van Martin Parr een van die wêreld se mees gesogte fotograwe gemaak. Die verkwisting, vulgariteit, verveling en rigtingloosheid van die verbruikersbestaan spreek oorvloediglik uit sy perfekte kleurfoto’s van feitlik afstootlike tonele wat tog kuns word weens die geniale komposisies.
Hy het ’n hele boek gewy aan verveelde paartjies in restaurante. Afgeleefde omies en tannies, jonges op wittebrood, ouers op vakansie, daar sit hulle almal, kyk verby mekaar, staar in die verte, kenne op die hand … Wat dit laat werk, is die gewoonlik “tacky” dekor van palmbome, goue strande, Europese pleine vol toeriste, heeltemal uit wans met die leë siele op die stoele.
Restaurante is deesdae in die nuus. Hul eienaars kla steen en been oor die grendelgruwels, en van laas week af oor ’n nuwe ding: dat die staat hulle wil dwing om aan hul werkers Krismisbokse te gee. Dis die laaste van die laaste strooie, koor hulle; hulle gaan nie oorleef nie, werkers gaan hul werk verloor, jan taks sal moet toebroodjies werk toe vat.
Ek hou van restaurante, om dieselfde redes as Parr. Dis boeiend, die amperse soort performance art wat hul eienaars probeer pleeg om jou in ’n eksotiese plek te verplaas, in lewende tydskrifblaaie, lewende cultural studies-artikels. Maar as die geselskap nie goed is nie, of jy alleen en verlate is, kan hulle die mees ongemaklike, onuithoubare plekke op aarde word.
Het ons hulle eintlik nodig? In Melville kan jy hulle deur die jare sien kom en gaan, die swartskaap van ’n noordelike-voorstede-familie wat skielik by ’n oom erf en ’n restaurant kom oopmaak. Dit dril en hamer mure om, dis teëls uit Italië en meubels uit Korea; spanne ontwerpers staan tussen die wrakke van die vorige poging. Agtien maande, twee jaar later en die plek is bankrot en die volgende trustfondsknaap trek in.
Daar is natuurlik voortreflike restaurateurs, en lekker kos is lekker. Maar dit bly die wêreld van die simulakrum, Jean Baudrillard se woord vir die laag op laag van swak nabootsings van swak nabootsings van die postmoderne tyd, ’n ekologie van tekens waarin selfs die natuur ’n vervalsing is.
As jy verlief of deel van ’n lekker groep is en die duur wyn maak nie saak nie, val al hierdie dinge weg en jy het agterna ’n tyd om te onthou en word die dekor eintlik gepas vir jou magiese herinneringe. Maar daar kom tye wanneer hierdie wêreld in sy geheel verwerp word, vir ander magiese wêrelde, en dis wat met die pandemie ook gebeur het. Die syfers van handelaars soos Woolworths bewys dit: Laas week het hy bekend gemaak sy kosafdeling se prestasie het die hoogte ingeskiet.
Ontleders sê pront: Klante het restaurante verruil vir Woolies se varkschnitzels, sy stokvisgoujons en forelslaaie, sy malvapoeding en sommer net extra spicy hot cross buns wat so gewild is dat dit altyd Paastyd in sy winkels is – die sosiaal gedistansieerde Christus herrys elke dag tussen die rakke.
Dis nie lekker om nie nodig te voel nie, en schadenfreude is nie behoorlik nie, maar teen hierdie agtergrond maak die treurmares van die restaurantbedryf se segsmense jou lus om jou tande te gaan borsel om die slapslaaisalmonella uit jou mond te kry. Sulke mense vertel jou graag die staat moet opsy staan, die versteekte hand van die mark maak alles reg. Maar wanneer die mark sy werk dan doen, die rykes se waagkapitaal herversprei word terwyl die kaf van die koring geskei word, die verbrande pizza van die Siciliaanse caponata, is die staat die eerste wat beskuldig word.
Ek probeer nie verskoning maak vir ons duidelik onbevoegde regering nie, maar wat ’n mens pla is die toon van sakelui se soms werklik histeriese eise en boeliepogings. Duur prokureurs en advokate word nog ryker soos wat hulle die regering hof toe vat en hulle kliënte dan te pletter werp teen die muur van die rampwette.
In dieselfde trant kom die klagtes oor die “living wages” wat vakbonde in nuwe wetgewing probeer afdwing, ’n bonus tydens Kersfees, of ’n ekstratjie om uniforms te was. Wat mense nog restaurante toe laat gaan, is pryse wat vir hulle billik voorkom, en daarom is die bedryf afhanklik van goedkoop arbeid. Dis makliker om Zimbabwiese vlugtelinge in diens te neem en jou kostes te verlaag vir laer pryse op jou spyskaart as om ’n Michelin-sjef in die hande te probeer kry.
Daar is wonderlike restaurateurs en hulle is gewoonlik aangename en interessante mense, maar groot dele van die bedryf teer op die rampe van die wêreld, op diktators soos Mugabe en Mnangagwa wat hul lande vernietig, op natuurlike katastrofes wat sal sorg dat daar altyd vlugtelinge iewers is wat teen hongerlone sal werk om te oorlewe.
En dan is daar SA Brouery met sy totale aanslag teen die regering, die maatskappy wie se wortels in die biersale van (destyds genaamde) Bantoe-administrasie van die apartheidsdae lê, of die wynhandelaars in ’n bedryf wat gebou is op die dopstelsel en slawerny. Die syfers en verslae sê duidelik: Die alkoholverbod help dokters en verpleërs om kop bo water te hou in die uitmergelende stryd teen die koronavirus in ons hospitale, maar daar is nie eens soveel as ’n kopknik in hul rigting deur drankhandelaars nie, wat hul hande meer was om enige verantwoordelikheid vir die pandemie van geslagsgeweld daarvan af te kry as om die koronavirus te beveg.
In die breër debat eis die markfundamentaliste met die hulp van lang en duur projeksies dat ons so gou moontlik moet terugkeer na normaal, maar normaal beteken vir hulle letterlik “business as usual”, dit wil sê, toertjies en tierlantyntjies om verbruikers ’n rat voor die oë te draai, en die uitbuiting van wêreld se politieke en ekonomiese slagoffers vir wat soms nie so ver van slawearbeid is nie.