Iewers in Suid-Afrika loop daar ’n potensiële multimiljoenêr rond wat onbewus is van sy rykdom (wat meer as R20 miljoen werd kan wees), maar wat dalk teen volgende week nie ’n sent daarvan sal hê nie.
Die maatskappy wat die Suid-Afrikaanse loterymaatskappy Ithuba bedryf, het dié week op hulle webwerf ’n laaste oproep gedoen dat die gelukkige persoon wat verlede jaar ’n reuse-Lotto-bedrag van altesaam R20 569 105 gewen het, die prysgeld teen Sondag moet opeis, anders word dit verbeur.
Dit sal nie die eerste keer wees dat iemand ’n skatryk sorgvrye lewe verbeur het omdat hulle nie hulle prysgeld opgeëis het voordat die tyd waarin die geld geëis kan word, verstryk het nie.
Volgens Charmaine Mabuza, uitvoerende hoof van Ithuba, is die wenkaartjie gespeel met ’n weddenskap van R40 op Lotto-trekking nommer 2130 deur iemand wat self die wennommers ingevul het .
Die trekking is op 29 Mei 2021 gehou en die gelukkige Carletonville-gebaseerde wenner het nog glad nie van hom of haar laat hoor om die reusebedrag van R20,569,105 op te eis nie. Die wennommers was 16, 18, 20, 22, 26, 29, 41.
“Alhoewel spelers 365 dae het om hul boerpotpryse op te eis, moedig ons hulle aan om so vroeg as moontlik na vore te kom,” het Mabuza gesê.
Mabuza sê hulle het al voorheen ’n beroep op die wenner gedoen om die prys op te eis, maar niemand het opgedaag nie en die wenkaartjie sal eerskomende Sondag, 29 Mei verval.
Indien die wenkaartjie onopgeëis bly, sal die geld na die Nasionale Loteryverspreidingsfonds (NLDTF) gaan, waar dit vir “’n goeie doel” aangewend sal word.
Sosialemediagebruikers het voorgestel dat die onopgeëiste prysgeld gebruik word om slaggate in paaie reg te maak nadat ’n raadslid van die Merafong Munisipaliteit ook die wenner aangemoedig het om die prysgeld op te eis.
“Ek sê steeds Ithuba moet daardie geld aan Merafong skenk. Ons het dit nodig om die sinkgate en slaggate hier reg te maak. Ons het finansiering nodig en die geld behoort aan Merafong,” het Lerato Mokotjo op Facebook geskryf. Sy sê die geld moet egter nie aan die munisipaliteit gegee word nie, maar aan die private sektor, wat ’n behoorlike werk sal doen
Ithuba sê op hulle webwerf Lotto-spelers word aangemoedig om hulle kaartjies na afloop van elke trekking na te gaan en Ithuba se kantore so gou as moontlik daarna te kontak indien hulle meer as R50 000 wen.
“Om die kaartjies vir ’n lang tyd te hou voordat die wengeld opgeëis word, vergroot die risiko dat die wenner van sulke kaartjies sal vergeet en die spertyd sal misloop,” het Ithuba se uitvoerende hoof gesê.
Mense wat ’n klein bedrag geld wen, kan dit by die winkel waar die kaartjie gekoop is, opeis. Alle plekke wat kaartjies verkoop, is verplig om pryse tot R50 op die plek te betaal, maar die meeste plekke wat Lotto-kaartjies verkoop, betaal prysgeld van tussen R2 000 en R5 000 self uit.
Diegene wat meer as R2 000 maar minder as R50 000 wen, kan hulle wengeld ook by ’n poskantoor opeis.
In die geval van mense wat kaartjies met hulle banktoepassing koop, sal al die wengeld tot R50 000 outomaties in hulle bankrekening inbetaal word. Wenners van groter bedrae sal deur hul bank in kennis gestel word van die gelukskoot, maar die geld sal by Ithuba self opgeëis moet word.
Intussen het die yslike R126 miljoen-Powerball-boerpot die afgelope week ook ’n gelukkige wenner opgelewer. Die jongste Lotto-multimiljoenêr het die kaartjie in Florida, Johannesburg gekoop. Die persoon het van die Quickpick-metode gebruik gemaak met ’n weddenskapbedrag van R22,50 wat op die spel geplaas is.
In Durban het ’n vrou dié week R39 miljoen met die FNB-banktoepassing in die Lotto gewen.