Suid-Afrikaners se demokratiese reg om op 27 Oktober na die stembus te gaan vir die verkiesing van nuwe munisipaliteite hang in die weegskaal. Dit volg nadat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aangedui het dit is onmoontlik om op dié datum ʼn vry en regverdige verkiesing te hou as gevolg van die COVID-19-pandemie in die land.
Die OVK het Woensdag aangedui hulle gaan die Konstitusionele Hof op ’n dringende basis versoek om die verkiesing uit te stel. Dit spruit uit ’n aanbeveling in ’n verslag deur regter Digkang Moseneke waarin hy voorgestel het dat vanjaar se plaaslike verkiesing tot Februarie 2022 uitgestel word.
Die OVK het Moseneke in Mei aangestel om die ondersoek te lei. Volgens Moseneke is die beperkings op byeenkomste, ander COVID-19-regulasies en gesondheidsrisiko’s ’n rede tot kommer. Daarom beveel hy aan dat die verkiesing uitgestel word.
The Electoral Commission has carefully considered and resolved to adopt the final report of the ‘Inquiry into Ensuring Free and Fair Elections during COVID-19’ by former Deputy Chief Justice Dikgang Moseneke. For more into the IEC's statement: https://t.co/MhEa0GdPzB pic.twitter.com/1MKTymZ7RE
— IEC South Africa (@IECSouthAfrica) July 23, 2021
Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, sê in ’n verklaring die aansoek aan die Konstitusionele Hof sal op alle politieke partye beteken word en dat alle stukke op die OVK se webtuiste beskikbaar sal wees.
Om die verkiesing uit te stel verg buitengewone stappe. Dit kan slegs deur die Konstitusionele Hof of die parlement met ’n buitengewone meerderheid gemagtig word. Sommige politieke partye en belangegroepe het reeds aangedui dat hulle dit sal teëstaan.
Cyril Ramaphosa het op 21 April 2021 aangekondig dat die verkiesing op Woensdag 27 Oktober 2021 gehou sal word. Tydens die verkiesing moet daar rade vir alle distriks-, metropolitaanse en plaaslike munisipaliteite in elk van die land se nege provinsies verkies word. Dit sal die sesde munisipale verkiesing in Suid-Afrika wees sedert die einde van apartheid in 1994; munisipale verkiesings word elke vyf jaar gehou. Die vorige munisipale verkiesing is in 2016 gehou.
Die DA en die burgerregteorganisasie AfriForum het reeds aangedui dat hulle nie ten gunste daarvan is dat die verkiesing uitgestel word nie.
Die ANC se waarnemende sekretaris-generaal, Jessie Duarte, het in haar reaksie gesê die party sal by die OVK se aansoek aansluit. Sy sê die ANC glo politieke partye moet voldoende tyd hê om stemme te werf en hulle kandidate te verkies.
Duarte sê die ANC gaan egter voort met voorbereidings vir ’n Oktober-verkiesing, omdat dit steeds die amptelike datum is. Sy sê 80% van ANC-takke het reeds kandidate verkies, maar het nog nie die vergaderings afgehandel waar gemeenskappe oor die kandidate geraadpleeg word nie.
ANC DEPUTY SECRETARY GENERAL COMRADE JESSIE DUARTE TOGETHER WITH THE HEAD OF ELECTORAL COMMITTEE COMRADE KGALEMA MOTLANTHE TO BRIEF THE MEDIA https://t.co/VZJQriNt7f
— African National Congress (@MYANC) August 5, 2021
AfriForum sê hulle is van plan om aan te sluit by ’n aansoek teen die OVK se poging om die verkiesings uit te stel. Hulle sê in ’n verklaring hulle het ’n regsmening bekom oor die meriete van die OVK se aansoek.
“Uiteraard gaan ons die inhoud van die aansoek oorweeg en ons stukke dienooreenkomstig aanpas. Chaos heers in munisipaliteite, en die Grondwet maak voorsiening vir gereelde verkiesings sodat burgers die samestelling van die munisipale raad kan verander,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir plaaslikeregeringsake.
𝗠𝗲𝗱𝗶𝗮𝘃𝗲𝗿𝗸𝗹𝗮𝗿𝗶𝗻𝗴
.@afriforum tree toe tot regsgeding; burgers se stemreg moet beskerm word https://t.co/EC8hTFROd9
— AfriForum (@afriforum) August 4, 2021
Hy sê hulle glo dat die inwerkingstelling van die regte maatreëls dit moontlik maak dat die verkiesing veilig en binne die raamwerk van die Grondwet kan voortgaan.
Die DA sê in hulle verklaring daar bestaan steeds ’n moontlikheid dat die verkiesing op 27 Oktober kan plaasvind, omdat die Konstitusionele Hof nie ’n rubberstempel is wat noodwendig die verkiesing sal uitstel nie.
Die DA se skaduminister vir samewerkende regering en tradisionele sake, Cilliers Brink, hou vol die verkiesing moet voortgaan soos beplan. “Nie slegs omdat dit sleg is om aan die Grondwet te peuter oor verkiesingstydlyne nie, maar ook omdat gemeenskappe die geleentheid gegun moet word om vir verandering te stem.”
Die OVK het ook ’n gewysigde kalender aangekondig om te verseker dat dit aan die verpligtinge voldoen om op 27 Oktober met die verkiesing te kan voortgaan indien daar so besluit word.