Munisipaliteit moet miljoene opdok vir besoedeling van waterbronne

  • 0

Die Govan Mbeki-munisipaliteit in Mpumalanga is deur de hof gelas om miljoene rand op te dok vir die oortreding van omgewingswette en die besoedeling van waterbronne.

Die munisipaliteit is skuldig bevind aan ses aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Nasionale Omgewingswet (van 1998), besoedeling van waterbronne, oortreding van die Nasionale Waterwet van 1998, versuim om aan die voldoeningskennisgewing te voldoen, en ongemagtigde wegdoening van water.

Die DA, VF Plus en die Departement van Water en Sanitasie het almal die swaar boete verwelkom.

Monica Nyuswa, woordvoerder van Mpumalanga Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê tussen November 2019 en September 2020 het die munisipaliteit ’n onregmatige daad gepleeg wat aansienlike besoedeling van die omgewing veroorsaak het.

Sean Phillips, direkteur-generaal van water en sanitasie, het gesê in Desember 2019 en Maart 2020 het die departement aan die munisipaliteit voorskrifte uitgereik om vertoë te rig wat die risikobepaling, ingryping en ’n potensiële rehabilitasieplan aanspreek, en om al die aanbevelings ten opsigte van die onderliggende probleem in hul jurisdiksiegebied na te kom.

Die munisipaliteit het egter volgens die regering se nuusdiens SA News versuim om binne die vasgestelde tydraamwerke te reageer en te voldoen aan die voorwaardes van die voorskrifte wat aan hulle uitgereik is.

Govan Mbeki-munisipaliteit se burgemeester, Nhlakanipho Zuma, het aan Newzroom Afrika gesê hulle aanvaar die boete van R200 miljoen wat die Bethal-landdroshof opgelê het vir die oortreding van omgewingwette.

Die DA sê in ’n verklaring hulle verwelkom die boete.

“Terwyl die plaaslike ANC-burgemeester probeer het om die blaam op mislukte infrastruktuur te plaas, is dit duidelik dat die hoofrede vir die ongekende omvang van besoedeling en agteruitgang in werklikheid die ANC-geleide regering is. Dit is ongelukkig die geval in baie gebiede van die land onder ANC-beheer,” het Dave Bryant, die DA se skaduminister van bosbou, visserye en omgewing gesê.

In 2022 het lede van die DA Mogalakwena in Limpopo besoek en ’n klag by die polisiestasie teen dié munisipaliteit gelê vir soortgelyke kwessies wat met die besoedeling van riviere verband hou. Ander klagte is ook deur die DA in KwaZulu-Natal aanhangig gemaak, waar onbehandelde rou riool vrylik in riviere en riviermondings inloop en waar die meerderheid van die watersuiweringsfasiliteite nie behoorlik werk nie.

“Die ANC het nie die wil, of die vermoë om ons riviere en oseane skoon te hou nie. Terwyl vooruitdenkende regerings in die DA-geleide Wes-Kaap met opgraderings aan waterbehandelingsfasiliteite begin en gebruik maak van nuwe en innoverende rivierskoonmaakinisiatiewe, gaan gebiede onder ANC-beheer steeds verder agteruit in ’n slyk van onbevoegdheid en wanadministrasie. Dit is nou die tyd om ons omgewing en ons land van die ANC te red,” het Bryant gesê.

Die VF Plus sê in hulle verklaring hulle verwelkom die boete van R200 miljoen wat die Bethal-landdroshof Dinsdag opgelê het aan die Govan Mbeki plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) vir die oortreding van omgewingswette.

Die VF Plus sê hulle het reeds sedert 2019 deurlopende druk op die munisipaliteit toegepas om die voortslepende rioolkrisis en -besoedeling aan te spreek.

In 2020 het die party die Groen Skerpioene versoek om die riooloortredings in die Govan Mbeki-munisipaliteit te ondersoek. In 2021 het die VF Plus ook ’n klag by die polisie op Secunda ingedien teen die destydse munisipale bestuurder, Lizzy Shabalala.

Die VF Plus het tot dié stap oorgegaan nadat versoeke aan die munisipaliteit om dringend die probleem op te los, op dowe ore geval het.

Die party het in 2020 ook die Groen Skerpioene gevra om die rioolbesoedeling in veral Evander te ondersoek.

Die party het in 2022 ’n saak by die Menseregtekommissie aanhangig gemaak oor die uitvloei van onbehandelde riool in die Emzinoni-nedersetting, die eMbalenhle-afvalwatersuiweringsaanleg, Trichardt-spruit en Blesbokspruit.

Die Govan Mbeki plaaslike munisipaliteit se versuim om infrastruktuur in stand te hou en betyds te vervang, maak inbreuk op die gemeenskap se grondwetlike reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie, soos vervat in artikel 24 van die Grondwet, sê die VF Plus.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top