Munisipaliteite is besig om die land onder vullis te begrawe

  • 0

Talle munisipaliteite in Suid-Afrika stuur op een groot rommelhoop af. Meer as 85% van die vullisterreine in ons land voldoen nie aan die minimum vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur nie, wat tot ’n algehele ineenstorting van afvalbestuur in die land kan lei.

Dit blyk uit die burgerregteorganisasie AfriForum se jongste vullisterreinouditverslag wat Dinsdag by die munisipale vullisterrein in Bethal bekend gemaak is.

Weinig munisipaliteite gee gehoor aan die relevante afvalbestuurswetgewing wat bedoel is om die omgewing teen besoedeling en gemeenskappe se gesondheid te beskerm.

Die jongste vullisterreinouditverslag dui daarop dat Suid-Afrika wesenlike probleme met die bestuur van vullisterreine ondervind. Die oudit wys ook dat indien hierdie probleme nie dringend die hoof gebied word nie, dit tot ’n algehele ineenstorting van afvalbestuur in die land sal lei.

Die verval van vullisterreine neem toe en is so omvangryk dat hoewel AfriForum vanjaar 28 meer terreine geoudit het as verlede jaar, selfs minder vullisterreine vanjaar dié onafhanklike oudit kon slaag.

Die oorgrote meerderheid (85,8%) van dié terreine het nie eens aan die minimum vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie.

AfriForum sê in ’n verklaring hulle beplan reeds ’n vergadering met die minister van omgewing, bosbou en visserye, Dion George, om ’n formele ondersoek teen die betrokke munisipaliteite te versoek.

Die burgerregteorganisasie gaan ook voorstel dat die Departement van Omgewingsake ’n fasiliterende rol speel om wesenlike vennootskappe met die privaat sektor aan te moedig.

Indien dié vennootskappe suksesvol is, sal munisipaliteite as skeidsregters eerder as diensverskaffers optree en sodoende verseker dat vullisterreine wetlike vereistes nakom, lui die verslag.

AfriForum doen reeds sedert 2014 verslag oor die land se vullisterreine om te bepaal of hierdie terreine die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur nakom.

AfriForum se landwye netwerk van 160 takke het gedurende Februarie 185 munisipale vullisterreine en vier private vullisterreine geoudit. ’n Vraelys is saamgestel om die belangrikste aspekte van goeie afvalbestuur, soos toegangsbeheer en sekuriteit, infrastruktuur, personeel, toerusting, herwinning, monitering en rekordhouding, te bepaal. Punte is toegeken vir elke kategorie wat aan die ouditvereistes voldoen, en na ’n finale nakomingspunt uit 100 verwerk. Om die oudit te slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het.

Uit die 189 terreine wat geoudit is, is bevind dat slegs 27 (14,3%) aan 80% of meer van die vereistes voldoen het, en 162 (85,8%) dus nie die oudit geslaag het nie.

Van die vullisterreine wat geslaag het, is 12 in die Wes-Kaap gesetel en ses in Gauteng. Beide hierdie provinsies het ook ’n veel hoër nakomingspunt as die nasionale gemiddeld (39,4%) behaal.

Die swakste presterende provinsies is die Vrystaat en die Noord-Kaap. Vir die sewende agtereenvolgende jaar het geen enkele vullisterrein in die Vrystaat die oudit geslaag nie.

“In ag genome dat die ouditslaagsyfer bepaal of daar slegs aan die minimum vereistes vir afvalbestuur voldoen word, en hoe min vullisterreine wel geslaag het, is dit duidelik dat daar groot gebreke in terme van munisipale afvalbestuur is,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake.

Hy sê dit is boonop kommerwekkend dat minder vullisterreine die oudit geslaag het as in 2023, aangesien AfriForum verlede jaar se bevindings met al die betrokke munisipaliteite sowel as die destydse minister van bosbou, visserye en die omgewing  gedeel het.

“Dit blyk dus dat geen daadwerklike stappe in die afgelope jaar gedoen is om die tekortkominge te takel nie. Die vullisterreinouditverslag se bevindings is net nóg ’n bewys dat munisipaliteite se vermoë om hulle verpligtinge ten opsigte van afvalbestuur na te kom, heeltemal ontbreek.

“Die Departement van Omgewingsake sal dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep sodat die land nie onder vullis begrawe word nie. Die struikelblokke is enorm,” het De Vaal gesê.

  • Lees die volledige ouditverslag hier.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top