Munisipaliteite stuur af op ’n ramp

  • 0

Die meeste van die land se munisipaliteite verkeer in ’n haglike finansiële toestand en die situasie is besig om verder te versleg, wat die land duur te staan gaan kom.

Die Wes-Kaap is die enigste uitblinker as dit kom by die bestuur van munisipaliteite. Net agt persent van Suid-Afrika se munisipaliteite het die afgelope boekjaar skoon oudits ontvang waarvan feitlik almal in die Wes-Kaap is.

Selfs in die Wes-Kaap is dit egter nie net maanskyn en rose nie en die provinsie het aansienlik swakker gevaar as die vorige jaar.

Khayelitsha, Kaapstad (Foto: Olga Ernst [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)

Die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, sê in sy jongste jaarverslag elke enkele munisipaliteit in die Vrystaat verkeer in ’n benarde finansiële situasie as gevolg van ’n gebrek aan verantwoordbaarheid. Daar bestaan feitlik geen kontrole en leierskapaksies in etlike van die land se munisipaliteite nie.

Makwetu sê die gebrek aan die doeltreffende regering van munisipaliteite kan omgekeer word slegs indien die plaaslike regerings se leiers die voortou neem om skoon en doeltreffende administrasies daar te stel.

Van die land se 257 munisipaliteite kon slegs 18 daarin slaag om ’n skoon oudit te kry. Dit is ’n afname van 14 persent teenoor die vorige boekjaar. Twaalf van hierdie munisipaliteite wat skoon oudits ontvang het, is in die Wes-Kaap. KwaZulu-Natal, Gauteng en die Oos-Kaap het elkeen net een munisipaliteit met ’n skoon oudit gehad.

Makwetu sê daar is ’n neiging dat munisipaliteite nie die aanbevelings van die ouditeur-generaal in werking stel nie. Hy sê die verandering in wetgewing bring egter nou mee dat sy kantoor afdwingbare maatreëls sal kan instel. Makwetu het die ouditverslag oor die land se 257 munisipaliteite vir die 2017/2018-boekjaar in Pretoria bekendgemaak. Hy sê finansiële bestuur het in die algemeen agteruitgegaan.

Hoewel die munisipaliteite se onreëlmatige besteding afgeneem het tot R25 miljard teenoor die vorige jaar se R29 miljard, is dit steeds skrikwekkend hoog. Die syfer kan egter aansienlik hoër wees aangesien baie munisipaliteite nie betyds hulle oudits afgehandel het nie.

Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap is een van die munisipaliteite met die swakste rekord en het die bedenklike “eer” om grootliks verantwoordelikheid te aanvaar vir R7 miljard se ongeoorloofde uitgawes deur munisipaliteite. Makwetu sê in sy verslag plaaslike regerings se verantwoordbaarheid is besig om nog verder te versleg.

Die verslapping van die Wes-Kaap se skoon oudits is ook kommerwekkend. Die provinsie se skoon oudits het van 70% tot 40% gedaal. Munisipaliteite in die Wes-Kaap wat skoon oudits ontvang het, is onder andere Swellendam, Witzenberg, Bergrivier, Breedevallei,  Kaap Agulhas, Cederberg, Hessequa, Matzikama en Overstrand.

Ander munisipaliteite wat deurlopend skoon oudits ontvang, is Senqu in die Oos-Kaap, Midvaal in Gauteng en Okhahlamba in KwaZulu-Natal. Dit is munisipaliteite waar daar stabiele leierskap, sterk beheer en doeltreffende regering is.

Makwetu waarsku dat die land hom in ’n finansiële doodloopstraat te pletter gaan loop indien daar nie iets drasties aan die situasie gedoen word nie, aangesien daar slegs ’n beperkte hoeveelheid geld is.

Van die munisipaliteite wat geoudit is, het 63 se oudits versleg, terwyl 22 munisipaliteite s’n verbeter het.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top