Kaapstad is bekend vir die helderkleurige Bo-Kaap, Tafelberg en die strande van Clifton en Kampsbaai. Die “alternatiewe” buurt vir jong reisigers en jong werkendes is Observatory.
’n Buurt weg van Observatory, langs Soutrivier, is die opgeknapte (“gentrified”) woonbuurt van Kaapstad, Woodstock. Dit is hiér waarheen studente en jong werkendes gaan vir hulle roosgeurige gin en naweekmark.
#gin
Tussen die kunsgalerye, boekwinkels en vintage meubelwinkels, troon daar nuwe, moderne woonstelblokke bo ou, vervalle geboue uit.
Maar alles is nie rooskleurig nie. Net soos Brooklyn in New York, word Woodstock deur “eilande van uitsluiting” gekenmerk. Inwoners en familiebesighede word uitgeskuif (’n storie op sy eie).
Op ’n ander noot: die grein van die buurt, buiten die inwoners wat reeds vir generasies daar woon, is in die muurkuns te vinde. Hiermee ’n fotogalery van ’n paar van die kunswerke (asook interessante feite oor Woodstock):
♦ Woodstock, een van Kaapstad se oudste woonbuurte, het dekades gelede ’n strand gehad. Woodstock was aanvanklik ’n kusdorpie genaamd Papendorp. Pieter van Papendorp het in die middel van die 18de eeu eiendom naby die Woodstrock-strand besit. Teen die vroeë 1800’s het die dorpie uit grasdakgeboue, vissershuise en plaashuise bestaan (in 1692 is drie plase teen Duiwelspiek gevestig: Zonnebloem, Leliebloem en Roodebloem, die grond waarop Woodstock gevestig is).
◊ Voordat die naam van die buurt na Woodstock verander het, was dit vir ’n kort tydjie New Brighton genoem weens die Engelse invloed tydens die Britse oorname van die Kaap.
⇒ Die meerderheid van New Brighton se inwoners in die laat negentiende eeu was vissermanne. In 1867 is hierdie buurt, op aandrang van die inwoners, na die Woodstock Hotel vernoem (wat gereeld deur die vissermanne besoek is).
#FreePalestine
♣ Beachstraat merk die kuslyn wat in die 1950’s vir grondherwinning en die skep van die voorstrand (“foreshore”) verwoes is.
> Die Woodstock/Soutrivier-buurt en die Bo-Kaap was die enigste twee areas wat die gedwonge verskuiwings van bruin en swart families uit sentrale Kaapstad tydens apartheid vrygespring het.
♠ Op die hoek van Springstraat (’n systraat van Albertstraat) en Treatystraat is ’n nasionale monument, die Treaty Tree. Hierdie melkhoutboom, wat in 1966 as nasionale monument verklaar is, is op Pieter van Papendorp se gewese erf geleë (die sg Treaty House het in 1935 plek gemaak vir ’n fabriek). Waarom Treaty House en Tree? Goewerneur-generaal JW Janssens se garnisoen is by die Slag van Blaauwberg (1806) deur die Britte verslaan. Die verdrag wat hierdie botsing amptelik beëindig het, is in 1806 onder hierdie boom onderteken. Die tweede Britse besetting van die Kaap het só tot stand gekom.
- Foto’s: Menán van Heerden
Bronne
- http://www.ilovewoodstock.co.za/area-history-2/
- https://www.capetownetc.com/entertainment/woodstock-beach-lost-in-the-sands-of-time/
- https://dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/6410/No_21%281987%29_Badham_A.pdf?sequence=1&isAllowed=y
- http://www.dag.org.za/wp-content/uploads/2018/09/Re-imagining-Woodstock-and-Salt-River.pdf
- https://www.daviesgroup.co.za/area-profiles/woodstock/
- http://www.ilovewoodstock.co.za/2011/11/the-woodstock-treaty-house-and-tree/
- https://www.sa-venues.com/attractionswc/woodstock-treaty-tree.php
- https://news.berkeley.edu/2019/04/10/new-york-city-gentrification-creating-urban-islands-of-exclusion-study-finds/