My jaar van strengheid en plesier

  • 0

Foto: Pexels.com

Annus horribilis is die frase wat koningin Elizabeth van Brittanje aan ons geskenk het, waarskynlik die enigste wat sy ooit sal, synde nie die mees kreatiewe persoon op aarde nie. Ek is geen kenner van Latyn nie, maar ek verstaan dit moet eintlik annus terribilis wees, as die teenoorgestelde van annus mirabilis.

Soos dit ’n narsistiese monarg betaam, het sy verwys na die koninklike familie se treurmares in 1992, nie na die wêreld of selfs die volk s’n nie. "Horrible" is so ’n Britse woord, een van die eerstes wat ek by my Engelse familie geleer het, en een wat ons seker altyd aan Donald Trump sal koppel, saam met "so sad". "Terrible" het meer Roomse klanke en assosiasies en het aanvanklik meer met gesag te doene gehad. Dis ook wat hulle jou in Nigerië noem as hulle meen dat jy streng is en maar liewer gehoorsaam moet word, soos in "a terrible man".

Inderdaad was 2020 meer ’n streng jaar as een vol gruwels. Volgens verslae van slagoffers soos Willemien Brummer s’n, of Chad le Clos se vroeë waarskuwings, is COVID-19 geen kinderspeletjies, ’n kans vir lekker in die bed bly nie. Dis erg – ons weet nog nie regtig hoe erg in terme van verdere komplikasies nie. Maar dit is ’n weggesteekte siekte, soos die dood wat ons net in nagebootste vorm sien. Dis nog te vroeg vir die koronavirus om sy buiging voor die kameras te maak, om mense te laat sterf soos ’n digter aan longontsteking in ’n solderkamer in Parys.

Al die maanbasisagtige oorpakke van die mediese personeel wat hul in afsondering afsloof, staan in die teken van nougesette strengheid eerder as gruwel. Dit was ’n jaar van sweepklap, van leef binne ’n eng wêreldjie van kleuterskoolreëls, soos om jou masker op te hou, die elmboë te swaai, jou hande meer as die juffrou te was.

.........

Al die maanbasisagtige oorpakke van die mediese personeel wat hul in afsondering afsloof, staan in die teken van nougesette strengheid eerder as gruwel. Dit was ’n jaar van sweepklap, van leef binne ’n eng wêreldjie van kleuterskoolreëls, soos om jou masker op te hou, die elmboë te swaai, jou hande meer as die juffrou te was.

..........

As ek dus sê my jaar was ’n annus mirabilis, is dit geensins om mense se lyding te geringskat nie – ek was na genoeg daaraan weens my vriendskappe met dokters, joernaliste en ’n joller of twee. Maar annus mirabilis is in die verlede dikwels gebruik om revolusionêre ontdekkings in die wetenskappe te huldig, soos die publikasie van Isaac Newton se Principia in 1728, of Albert Einstein se bekendstelling van die teorie van relatiwiteit in 1905. En ’n jaar van ontdekking was 2020 beslis vir my.

Op ’n globale vlak ervaar ons lank reeds ’n strengheid wat alles deurpriem. Sekere filosowe sou praat van biopolitieke dogmas van besuiniging, een van die pilare van die neoliberalisme. Daarvolgens word die ondernemersklas vrygestel om meer geld te maak deur die verskraling van begrotings van staatsinstansies, ook dié van hospitale en gesondheidsdienste. Dit het teweeg gebring dat min lande, behalwe dalk China en Suid-Korea, gereed was vir die dag toe die jongste mutasie van die koronavirus deur die mens se immuunskanse breek, al was dit al vir dekades voorspel.

Die wêreld se leiers het China gevolg en drakoniese grendelmaatreëls afgekondig, hul weersin in sy konsentrasiekampe vir minderhede ten spyt, en heeltemal bereid om groot dele van die gemeenskap in dieselfde toestand van halfgeleefdheid af te kamp. Daarvoor het hul regerings vergoed deur, paradoksaal, heelwat ander dogmas van neoliberale besuiniging op te skort. Skielik is huisvesting vir die haweloses verskaf, pakkies kos vir die hongeres uitgedeel, geld aan sukkelventers geskenk.

In die gegoede lande was dit asof ’n Praagse lente uitgebreek het. Koerante het hul geldmure afgebreek soos in Berlyn in 1989. In April, Mei reeds het teaters met mekaar begin wedywer om hul produkte gratis aan die publiek vry te stel. Voorheen het die dogmas van neoliberalisme dikteer dat jy jou net ten duurste met die semels van die aristokratiese klasse by die National Theatre in Londen kon meng. Daar was vir enkele maande ’n soort konsensus: Pleks van die god van eksploitasie waaraan besture hulle moes onderwerp, het hulle besluit: Gooi die argiewe se deure oop, nooi die gepeupel in, digitaal maar darem.

..........

Pleks van die god van eksploitasie waaraan besture hulle moes onderwerp, het hulle besluit: Gooi die argiewe se deure oop, nooi die gepeupel in, digitaal maar darem.

............

Dit was ’n fees. Nou kon jy elke week vir ’n paar maande lank ’n nuwe ou stuk op jou rusbank sit en kyk, sonder ’n masker, pofkoring op die skoot, skelm brandewyn-en-Coke in die hand. Ek kon nie bybly nie. Heelwat van die hoogtepunte van my lewe as toeskouer sal uit hierdie tyd moet kom. Daar was die Schaubühne van Berlyn, die Washington Ballet, La Monnaie De Munt in Brussel, Münchner Kammerspiele en die fantastiese Stanislawski Elektroteater in Moskou – laasgenoemde is digitaal nie minder nie as 3 771 624 keer besoek.

Ek het gevoel daar is ’n ander konsensus ook ter sprake. Temas van ontgogeling en verset het deur etlike van die stukke geloop en my naderhand laat wonder: In ’n tyd dat revolusie nie meer moontlik is nie, kan ’n mens die virus as die nuwe draer van insurgensie sien? Moet sy naam eerder SARS-Che-2 wees, of die Guevaravirus? Want dit het die skille van ons oë laat afvrot oor die onvermoë van die globale korporatiewe vorm van kapitalisme om ons teen iets so gering soos ’n mikrobe te beskerm.

Daar was die Schaubühne se opvoering van Henrik Ibsen se Vyand van die volk, wat in 2018 verfilm is. Die stuk loop uit op ’n konfrontasie tussen die held, ’n dokter wat die vergiftiging van die dorp se drinkwater aan die kaak wil stel, en die inwoners, wat geld maak uit besoekers van buite wat die spa kom beproef. Die gehoor word betrek by die debat, en hoewel die Duits moeilik was om te volg, was die kollektiewe woede vir omtrent ’n halfuur lank oor hoe niks verander het sedert 1862 toe Ibsen die stuk geskryf het, iets om te aanskou.

China is natuurlik die oorblywende inkarnasie van verraad teen die humanitêre waardes van die revolusie; en ’n ander kopoopblasende stuk was The arrest of Ai Weiwei deur Howard Brenton in die Hampsteadteater in Londen. Dit is gebaseer op werklike gebeure: die aanhouding van die beroemde kunstenaar in Beijing in 2011. Die stel was sy nagebootste sel waarin ’n wag te alle tye ’n meter van hom af moes staan, selfs in sy minuskule badkamer. Dat George Orwell se 1984-wêreld wel bestaan, is skreiend genoeg, en so ook dat Ai, anders as ander Chinese kunstenaars, gelukkig was dat die Duitse kanselier, Angela Merkel, dit haar persoonlike obsessie gemaak het om hom vrygelaat te kry.

Maar wanneer die stroewe wagte na maande se robotagtigheid opeens met Ai begin praat, om hom te berispe oor die beste manier om noedels gaar te maak, sien ’n mens met beklemming die verband, weer eens, tussen sulke absurditeite, dié van Nkosazana Dlamini-Zuma en haar "class suicide" en haar grendelreëls, en die bewondering van die ANC vir die Chinese vorm van globale kapitalisme.

Ballet en moderne dans is eintlik die kuns van in die rondte draai op soveel sensuele maniere as moontlik, maar vir ’n paar maande lank kon ’n mens ’n oorsig kry oor hoe baie verruklike permutasies daar inderdaad is, iets wat net die top-kritici van Europese publikasies of baie ryk miljardêrs beskore is. In hierdie eeu het die revolusie in dans ’n ekspansionistiese volwassenheid bereik wat meer as net eksperimentele klei van liggame maak. Dansers soos Akram Khan en Sylvie Guillem, en choreograwe soos Alexander Ekman produseer stukke wat satiriseer, asemrowende nuwe wêrelde skep en boeke vol stellings maak oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe.

Die stuk wat egter die beste die grendelbestaan vasgevang het, was Toshiki Okada se Die stofsuier, wat net enkele dae voor die Chinese alarm gemaak het oor die nuwe koronavirus, in München gedebuteer het, in Desember 2019. Dit is die verhaal van ’n hikikomori, een van die sowat miljoen Japannese wat nog nie in die nuwe millennium hul slaap- of badkamers verlaat het nie. Hierdie terugtrekking uit ’n wêreld en lewe wat vir hulle te ontoereikend is, is dikwels nie genoeg nie; wanneer hulle ook hul familielede agter die papierdun minkamure wil uitsluit, skakel hulle huistoestelle soos stofsuiers aan vir daardie ekstra privaatheid.

..........

Dit is die verhaal van ’n hikikomori, een van die sowat miljoen Japannese wat nog nie in die nuwe millennium hul slaap- of badkamers verlaat het nie. Hierdie terugtrekking uit ’n wêreld en lewe wat vir hulle te ontoereikend is, is dikwels nie genoeg nie; wanneer hulle ook hul familielede agter die papierdun minkamure wil uitsluit, skakel hulle huistoestelle soos stofsuiers aan vir daardie ekstra privaatheid.

...........

Okada maak so ’n stofsuier die hoofkarakter, gewoon ’n akteur wat die nodige geluide maak en op rukkerige, danserige maniere met die ander in gesprek tree. Die ander gesinslede maak gereeld rusie met die 50-jarige kluisenaar in hul midde, maar hul eie lewens verskil nie veel nie: Die broer maak of hy elke dag werk toe gaan, maar gaan sit op dieselfde bankies in ’n park of ’n winkelsentrum en verwyl die tyd deur na ander mense te kyk. Die vader wei tot vervelens toe uit oor die beste ding in sy lewe: aarbeigegeurde koffie.

Okada kon nie voorsien het dat feitlik die ganse wêreld enkele dae later vir maande lank net so sou lewe nie. Hy wys hoe dit eintlik die logiese uitkoms is van die verbruikersbestaan wat ons almal in die grendels van slawerny geslaan het; met maatskappye soos Naspers se Prosus aan die spits is die ideale verbruiker homo sapiens hikikomori – passief, totaal afhanklik van andere, met hope vrye tyd, en tegnologies ingeprop by alles. ’n Mens moet lag as jy lees dat een van die Japannese regering se oplossings telemedisyne is.

Een karakter lyk of hy deel van die hodo-hodo zoku kan wees, die "stam" jongmense wat werk maar bevordering weier en altyd antwoord "so-so" as jy vra hoe dit gaan. Hy gaan werk toe in ’n Amazon-pakhuis net sodat hy meer tyd met sy geliefde skandeerder vir produkte kan deurbring en raak opgewonde oor ’n reis na Chili, waar hulle nie die takke van die straatbome afsaag nie. Maar dan hoor jy die reis was ’n virtuele een.

As die grendelstaat in Suid-Afrika iets bewys het, is dit hoe oorbodig die meeste werksoorte geword het: "bullshit jobs", in die woorde van die antropoloog David Graeber (wat vanjaar dood is aan ’n hartsiekte). Net ’n handjievol "essensiële werkers" is nodig. As ’n mens die neoliberale besuinigingsdogmas kan omkeer en hulle op korporasies toepas, dink net hoeveel geld sal beskikbaar raak vir werklik produktiewe en kreatiewe werk.

My annus mirabilis het eintlik net ’n paar maande geduur. Soos wat die grendels weer oopgeskuif is, moes die teaters hul virtuele deure toesluit en nog harder as ooit veg vir hul voortbestaan. Nou is daar selde nog iets wat gratis aangebied word, en dan moet jy nogtans registreer sodat jy deel kan bly van die toesigkapitalisme ("surveillance capitalism") of voer kan word vir borge se jongste verkoopseksperimente.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top