Ongelyke steenpaadjies en huise, winkels, geboue op mekaar en aanmekaar soos hulle plek maak vir ’n afdraaistegie elke dan en wan. Dit is hoe ek die stede van België in my herinneringe gestoor het.
Vanaf 9 tot 10 Junie 2022 het ek die geleentheid gehad om aan die simposium “Binnenlandse vogels, buitenlandse nesten: Nederlands en Vlaams cultuurbeleid, internationale uitgevers en de verspreiding van Nederlandstalige literatuur in vertaling” deel te neem wat by die KU Leuven Brusselkampus aangebied is en deur die Nederlandse Taalunie befonds is. As ’n eerstejaarmeesterstudent aan die Universiteit Stellenbosch is die navorsing waaroor my aanbieding gegaan het, gebaseer op my honneursnavorsing. Met dit gesê, was dit ’n besonderse geleentheid wat vir my gegun is, en ek het dit aan die begin van 2021 met graagte aanvaar. Ek het wel reeds in my onderhoud met Naomi Meyer van LitNet meer oor hierdie navorsing uitgebrei.Die ervaring het my oë op verskillende maniere oopgemaak. Ek het gesien wat België vir my kan gun as akademikus-in-wording, maar terselfdertyd het ek opnuut ’n waardering vir Suid-Afrika gekry en die besonderse akademici waaronder ek leer. By die kongres het ek die geleentheid gehad om skouers te skuur met akademiese reuse soos Paula Gentile, Sara van Meerbergen en Jack McMartin, om maar net ’n paar te noem. Dit was vir my wonderlik om in gesprek te tree met hierdie mense by wie ek graag wil leer, maar wat tydens die interaksies vir my veral uitgestaan het, was die belangstelling wat die ander deelnemers gehad het in my navorsing. Ek was nie vir hulle slegs ’n honneursstudent nie, maar ’n medenavorser wat in dieselfde veld as hulle werk en saam met hulle verduidelikings soek vir die vertaling van verskillende werke, in hierdie geval die vertaling van Nederlandstalige literatuur.
Tydens die afsluitingsaand van die simposium is ons bederf met ’n aand by Greenwich Modern – ’n restaurant wat jou laat voel asof jy ’n tree terug neem na die 1920’s toe, soos ons net in films en televisiereekse sien. Ek was in vervoering. As ’n mens hierdie soort argitektuur sien, besef jy dat die gevestigde Europa veel ouer is as die geboue in Suid-Afrika en beide lande op hul eie tempo moes ontwikkel. Ek het my eerste ontmoeting met tradisionele Belgiese kos gehad: kaaskrokette vir voorgereg, stoofvlees en frites vir hoofgereg, en ’n eenvoudige sjokolade mousse vir nagereg. Dit kon egter nie kers vashou by die vuurwarm, vars Liègewafel wat ek en my studieleier die tweede oggend voor die kongres op die sypaadjie van ’n straatkafee geniet het nie. Ek het ten minste een keer ’n dag een van hierdie lekkernye iewers gekoop – net so met versiersuiker soos die plaaslike inwoners dit geniet. My kulinêre avonture het nie daar gestop nie, want soggens het ek elke keer na ’n ander bakkery gestap om van hul vars gebak te geniet – my gunsteling was by verre Charli in Brussel se escargot aux raisin (ook pain aux raisin of ’n rosyntjie-skilferdeegwieletjie). Ja, ek het gegaan om te leer sowel as eet, omdat ’n mens so baie leer by ander kulture deur dit wat hulle eet. So het ek ook geleer dat bakkerye hul ou produkte omskep in broodpoeding wat ’n baie stywer weergawe is as die een waaraan die meeste Suid-Afrikaners gewoond is, wat met eiervla gemaak word.
Die kulinêre avontuur het elke dag ’n nuwe rigting ingeneem. Die dag dat ek en my studieleier deurgebring het, was besonders. Ons het die dorp op ’n Saterdag besoek en die oggendmark was iets waaraan ek nie gewoond is nie. Alhoewel ek gewoond is aan die wonders van Suid-Afrikaanse vrugte en groente, het ons min geleentheid om dit in soveel oorvloed by ’n opelugstalletjie te sien en as jy dit so wil sien, moet jy dikwels na die middestad van Kaapstad toe ry om dit te ervaar. Bo-op die vrugte en groente was daar natuurlik die kouevleistrokkies, die kaas-, bakkery-, Mediterreense en blommestalletjies – elkeen was besonders en ek kon myself verkyk aan die groot verskeidenheid wat elke maker en verkoper het om te bied, teen ’n billike prys ook nog. Om te sê dat ek sensoriesoorlaai was, is glad te min gesê. Die geure was besonders soos die reuk van vars produkte gemeng het met die warm speserye van die spekulaas (beide Antwerpse en Hasseltse spekulaas), die sterk kaas en die soet blomme.
Ek het later daardie dag my eerste Belgiese Lindemans Kriek op die Leuven Oude Markt geniet. So teen daardie tyd kon ek darem sê ek het ’n bier geknak, ’n wafel geëet, en spekulaas probeer (die Afrikaanse outydse soetkoekie bly egter my gunsteling). My studieleier het my deur die strate van Leuven geneem waarin sy en haar gesin vir ’n jaar in die Groot Begijnhof gebly het. Sy het vir my die wêreld oopgevou en ’n voorsmakie gegee van wat dit kan beteken om ook hier te kom studeer en leef.
Ons het daagliks ons voete afgestap en die dae in onder andere Gent, Brugge en Antwerpen was oorweldigend anders. Ek het by Antwerpen se Sentraalstasie myself verkyk aan die anderwêreldse argitektuur en vakmanskap; in Gent en Brugge by die kanale geposeer vir menige foto’s sodat ek alles in die oomblik kon vasvang en later vir my gesin kon wys terwyl ons smul aan die vyftien kilogram sjokolade wat ek in ’n toksak teruggebring het saam met die Delft wat ek by die kringwinkel in Leuven gesmous het.
Vir ’n Suid-Afrikaner voel hierdie stede en dorpe wat eeue reeds bestaan, nuut en vreemd; voel die strate wat kronkel soos een groot doolhof en laat die bedrywigheid van straatkafees en restaurante jou verlang na ’n lewe waar jy met meer vrymoedigheid tot tienuur die aand steeds kan wandel, verken en kuier saam met vriende oor ’n koffie. My reis deur België was kort, maar ek kan met sekerheid sê ek het my weg deur die land geëet en sal graag terugkeer om hierdie toer voort te sit.
Ek sou boekdele kon skryf oor elke liewe minuut en uur van hierdie avontuur, maar sal eerder die storie kortknip en vashou aan die heimwee waarmee ek nou terugkyk.
Mareli Swart
MA (Vertaling)
Universiteit Stellenbosch
Lees ook op LitNet:
Buro: MvH