’n Busongeluk, probleemsjokolade, kopseer dagga en beter verpakking

  • 0
Twee dood en talle beseer in Belgiese busongeluk

’n Bus met ’n Franse nommerplaat het Sondagmiddag naby die Belgiese stad Antwerpen teen die relings gebots en omgeslaan. Twee mense is dood en 10 is in die ongeluk beseer, van wie vyf in ’n kritieke toestand verkeer. VRT NWS berig die Franse busbestuurder was vermoedelik onder die invloed van dwelms nadat hy positief op ’n speekseltoets getoets het. Hy is in hegtenis geneem en sal eersdaags in die hof verskyn. Sy rybewys is vir 15 dae opgeskort. Volgens VRT NWS was 33 mense tydens die ongeluk op die bus, wat van Lille na Amsterdam op pad was. Die E19-snelweg tussen Antwerpen en Breda was ure lank gesluit terwyl die polisie die toneel ondersoek het en beseerdes na hospitale geneem is.

Bejaarde man dood in die water aangetref

VRT NWS berig ’n stapper het Sondagoggend afgekom op die liggaam van ’n bejaarde man wat in die water in Oude Durme naby Hamme in Oos-Vlaandere gelê het. Die stapper het onmiddellik die nooddienste laat weet. Met hul aankoms kon die brandweer en ambulans niks meer vir die slagoffer doen nie. Daar word vermoed dat dit die liggaam van ’n 87-jarige man is wat reeds sedert Saterdag vermis is en vir wie ’n grootskaalse polisiesoektog onderneem is, maar sonder sukses. Dit is nog nie duidelik hoe die man in die water beland het nie. Die saak word verder ondersoek.

Kommer oor salmonella-uitbreking afkomstig uit België

Die Italiaanse sjokoladevervaardiger Ferrero, bekend vir handelsmerke soos Kinder en Ferrero Rocher, het uit voorsorg al sy Kinder-sjokoladeprodukte teruggeroep ná ’n salmonella-uitbreking onder kinders en daar vermoed word dat die kinders die besmetting opgedoen het nadat hulle Kinder-sjokolade geëet het. Die Nederlandse voedselowerheid, die NVWA, het verbruikers gewaarsku om nie Kinder-sjokolade afkomstig uit ’n fabriek in België te eet nie. Die Belgiese voedselowerheid, die FAVV, het reeds verlede Dinsdag verbruikers aangeraai om nie Ferrero-produkte te eet nie en verlede Vrydag daarop aangedring dat die fabriek in Aarlen tydelik gesluit word nadat dit bekend geword het dat salmonella reeds in Desember in die fabriek ontdek is. Volgens Ferrero is daar onmiddellik maatreëls getref om die besmetting te keer, maar ongelukkig was daar wel kinders wat reeds siek geword het, berig VRT NWS. Dit is nie bekend presies wat ondersoek word nie. Volgens ’n woordvoerder van die vakbond ACV, Bart Vannetelbosch, is die gebeure ’n verrassing, aangesien die fabriek besonder streng is. Die sluiting van die fabriek en terugtrekking van produkte kom op ’n slegte tyd vir die maatskappy ’n week voor Paasfees.

Toeriste gewaarsku oor straathandelaars

Die NOS berig dat Amsterdam met ’n veldtog gaan begin om toeriste teen straathandelaars te waarsku. LCD-skerms met waarskuwings sal voortaan in die middestad en rooiligdistrik aangebring word. Volgens die burgemeester van Amsterdam, Femke Halsema, lok die sogenaamde coffeeshops – kuierplekke waar ’n mens cannabis mag gebruik – toeriste wat spesifiek om dié rede na Amsterdam kom. Straatverkopers spits hulle ook juis op hierdie groep toe. Dit veroorsaak op sy beurt probleme met asosiale gedrag en onrus. Dit is veral vir inwoners in die middestad ’n kopseer.

As bykomende maatreël sal die kringtelevisiekameranetwerk in die middestad uitgebrei word en ’n stelsel van inligtingsbeamptes sal opgerig word. Die beamptes sal besoekers groet, maar ook daarop wys indien hulle ongewenste gedrag vertoon.

Die burgemeester is ook van plan om die verkoop van sogenaamde sagte dwelms aan toeriste onmoontlik te maak. Halsema skryf in ’n brief: “Veel van de grote problemen in de stad worden gevoed vanuit de cannabismarkt: van overlast door drugstoerisme tot zware misdaad en geweld. Een verbod op verkoop aan toeristen is wat de driehoek betreft een noodzakelijke ingreep om de cannabismarkt af te koelen in een eerste stap naar regulering.”

Eienaars van coffeeshops is uiteraard minder bly oor die planne en sê die maatreëls sal die onwettige verkoop van dwelms juis stimuleer.

Supermark bied voedsel sonder verpakking

Die bekende Nederlandse supermarkgroep Albert Heijn het bekend gemaak dat hy eersdaags ’n konsep gaan bekendstel wat klante sal toelaat om hul eie houers te gebruik om sekere produkte te koop. Die produkte sluit in muesli, pasta, broodsmeer, tee en neute. Die inisiatief is deel van die supermarkgroep se strewe om 20 miljoen kilogram minder verpakkingsmateriaal teen 2025 te gebruik. Ongeveer die helfte van die nagenoeg 70 produkte sal organies wees. Die eerste winkels wat die konsep sal gebruik, is in Rotterdam, gevolg deur die Albert Heijn XL in Amsterdam en Leidschedam. Die groep wil die inisiatief in die komende jaar by nog 50 winkels toepas.

Prinses Ariane word 15

Die jongste lid van die Nederlandse koningshuis, prinses Ariane, het Dinsdag haar 15de verjaardag gevier. Hoewel niks bekend gemaak is oor hoe die prinses haar verjaardag sou vier nie, is dit wel die eerste keer in twee jaar dat daar geen inperkingsmaatreëls is nie en sy weer lekker kan partytjie hou. Prinses Ariane deel haar verjaardag met prins Floris, die jongste seun van prinses Margriet en Pieter van Vollenhoven. Die 47-jarige prins hou sy lyf soms platejoggie en gaan vanjaar weer tydens die Kingsland-fees in Amsterdam optree.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top