Byna ’n derde van alle Suid-Afrikaners is van regeringstoelaes afhanklik om aan die lewe te bly.
Dit blyk uit ’n geskrewe parlementêre antwoord op ’n vraag wat die DA in die parlement aan die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, gerig het. Volgens Zulu is 31% Suid-Afrikaners elke maand van regeringstoelae afhanklik om kos op die tafel te kry.
Die Minister het gesê meer as 18 miljoen mense in die land ontvang elke maand een of ander regeringstoelaag. Dit is ’n dramatiese styging vergeleke met die 7% wat in 1996 toelaes ontvang het toe daar vir die eerste keer op nasionale vlak data daaroor ingesamel is.
Vir talle huishoudings is dit nou die enigste bron van inkomste en vervang dit alle vorme van salarisse. Die DA sê in ’n verklaring hoewel die party die uitbetaling van toelaes ondersteun, is werkskepping van kardinale belang vir die land se ekonomie. “Suid-Afrikaners benodig werksgeleenthede, nie slegs ter wille van finansiële stabiliteit nie maar ook vir die menswaardigheid wat dit skep as mense ’n werk het.” Die DA sê die regering het klaaglik misluk om werksgeleenthede te skep.
The callous way SA’s poorest and most vulnerable are being treated, especially during the global Covid-19 pandemic, proves that the only interest the government has regarding the poor, are their votes. Their quality of life is an easy sacrifice on the altars of greed and power.
— Democratic Alliance (@Our_DA) January 5, 2021
Hoewel dit die natuurlike neiging is om al die skuld daarvoor aan die COVID-19-pandemie toe te dig, is die waarheid dat die eerste skerp toename van 20% van mense wat afhanklik is van staatstoelaes reeds in die 2004/5-boekjaar plaasgevind het. Sedertdien het dit elke jaar stelselmatig aanhou styg tot die huidige sowat 30% van Suid-Afrikaners wat seder 2010/11 op regeringstoelaes moet vertrou om te kan oorleef.
Die enigste logiese gevolgtrekking wat daar volgens die DA kan wees, is dat Suid-Afrikaners toenemend besig is om in armoede te verval as gevolg van die mislukte ANC-regering en hulle beleid.
Die DA sê die data toon baie duidelik dat die regering en sy beleid ’n aktiewe rol gespeel het in die verarming van Suid-Afrikaners lank voor die globale ekonomiese insinking. Staatskaping of die COVID-19-pandemie het ook hulle merk ook op die geskiedenis gemaak, sê die DA.
Die party sê ANC-beleid en -strategieë wat dikwels opgehemel word as ekonomiese reddingsboeie wat weer die ekonomie in rat sal kry en werkskepping tot gevolg sal hê, dien egter slegs die korrupte mense en diegene met politieke ambisies wat die regte politieke kontakte het.
Die skandalige manier waarop Suid-Afrika se armstes en mees weerlose mense uitgebuit en behandel is, veral gedurende die COVID-19-pandemie, bewys dat die enigste belang wat die regering by die armes het, hulle stemme tydens verkiesings is, het die DA gesê. Hulle sê die armes se lewenskwaliteit is ’n maklike offer wat deur die regering op die tafel geplaas word ter wille van hulle eie gulsigheid en strewe na meer mag.
Servaas van der Berg, ’n uitgelese hoogleraar verbonde aan ReSEP (Research on Socio-Economic Policy) in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, sê die tentakels van COVID-19 is oral.
Uit ’n ekonomiese perspektief het dit ’n direkte uitwerking op die behoefte om die gesondheidstelsel te versterk en uit te brei. Maar die indirekte ekonomiese impak is veel groter weens die grendeltydperk en al die gepaardgaande gevolge, asook die wêreldwye resessie wat selfs na afloop van die grendeltyd sal voortduur. In ’n artikel getitel “Poverty rises, inequality shifts as Covid-19 impact continues unabated” vroeër vanjaar op News24 sê hy baie Suid-Afrikaners is afhanklik van daardie bekende laaste uitweg in Suid-Afrika, naamlik die uitgebreide familie. Dit sal tyd verg voordat die volle uitwerking van COVID-19, die grendeltydperk en die resessie duidelik word, skryf Van der Berg.
Sommige ekonome voorspel reeds ’n afname van 10% in ekonomiese aktiwiteite vanjaar, en selfs dit kan optimisties wees.