“Wat gaan nou weer in Frankryk aan?” As ek ’n euro kon kry vir elke keer die afgelope twintig jaar wat ek dié vraag van bekommerde kennisse oral in die wêreld probeer antwoord het, was ek teen dié tyd seker al ryk.
Let wel, ek sê “probeer”, want ondanks die feit dat ek al twee dekades lank ’n bevoorregte binneblik op die Franse samelewing het, ondanks my Franse man en kinders, Franse vriende en bure, bly dit ’n turksvy van ’n vraag, vol klein dorinkies.
Dikwels is die beste antwoord steeds daardie frase wat op Facebook gebruik word om ’n verwarrende verhoudingstatus te beskryf: “It’s complicated.”
Dis ingewikkeld, ja.
En die huidige landwye opstand deur die gilets jaunes of “geel baadjies” is selfs meer ingewikkeld as soveel ander stakings en betogings wat onvermydelik deel word van jou daaglikse lewe as jy in Frankryk woon. Die Franse beskou die reg om in die openbaar protes aan te teken as ’n onontbeerlike deel van wat dit beteken om Frans te wees. Omtrent soos die Amerikaners die reg om vuurwapens te besit as ’n onlosmaaklike deel van hulle nasionale karakter beskou.
En ek is dankbaar, glo my, dat ek in ’n land woon waar mense eerder na ’n banier met ’n slagspreuk gryp as na ’n gelaaide vuurwapen wanneer hulle ontevrede voel. Die woedende betogings sou beslis bloediger verloop het as die helfte van die skare gewapen was.
En tog voel hierdie groeiende geel oproerigheid vir my soos ’n klassieke geval van “aan die een kant dit” en “aan die ander kant dat” ‒ en hoe op aarde gaan die twee kante ooit by mekaar uitkom?
Aan die een kant maak dit my bitter bang, want dis bowenal ’n populistiese opstand wat dui op ’n enorme gaping tussen die politieke elite in Parys en die “gewone mense” in die res van die land. En ons het mos almal gesien hoe skaamtelose populisme die afgelope paar jaar gelei het tot die verkiesing van skaamteloos-regse leiers in die VSA, Italië, Brasilië en ander demokratiese lande.
Dis waar dat Marine Le Pen se verregse Nasionale Front nog nie die oorhand gekry het in die Franse protesoptogte nie, want Jean-Luc Mélenchon se verlinkse ondersteuners maak hulle stemme net so dik. Maar indien die regering onmiddellik ontbind word - waarop Le Pen en Mélenchon albei aandring - gaan die verregses heelwat beter vaar in ’n verkiesing as die verlinkses. Die toenemende swaai na verregs onder “gewone Franse” is immers die laaste dekade of wat in verkiesing ná verkiesing bewys.
Aan die ander kant lewe ek al jare lank tussen die “gewone mense” op die platteland, ver weg van Parys, ver weg van enige groot stad. Ek verstáán die frustrasie en die moedeloosheid van la France profonde, “die diep Frankryk”, omdat die welgestelde Paryse politici heeltemal afgesny is van die landelike bevolking se probleme.
Aan die een kant stem ek honderd persent saam met president Emmanuel Macron dat iets drasties gedoen moet word om Frankryk meer ekologies vriendelik te maak. Die “groenste” lid van Macron se regering, Nicolas Hulot, minister van omgewingsake, het onlangs tydens ’n regstreekse radio-onderhoud dramaties uit sy pos bedank weens sy ontevredenheid met die “klein treetjies” wat die regering bereid is om te gee om die aarde te probeer red.
Wat die mensdom nou nodig het, beweer Hulot, is gróót en dapper spronge op ekologiese gebied. Maar elke keer wat onlangse Franse regerings selfs net ’n kleinerige tree in die rigting van ekologies vriendeliker wetgewing gewaag het, het grootskaalse protesaksies hulle amper onmiddellik laat terugdeins. En dan bly alles maar nes dit altyd was. Frankryk is Frankryk, sal die Franse vir jou sê, c’est comme ça. Dis nou eenmaal soos dit is.
Macron was dus vasberade om onverbiddelik te bly toe hy hoër belasting op brandstof aankondig en dieselpryse verhoog. Om nie, soos al sy voorgangers, hom bleek te skrik vir die betogers nie. En Franse betogers kán skrikwekkend wees – soos beeldmateriaal van gewelddadige tonele rondom die Arc de Triomphe in Parys weer vir die res van die wêreld gewys het.
Maar hierdie betogings is nie ’n eenvoudige geval van “geel” teen “groen” nie. Dit beteken nie as jy ’n geel baadjie dra, is jy ’n ontkenner van aardverwarming en ’n teenstander van alle groen maatreëls nie. Want die ander kant van die saak - ja, weer eens ’n ander kant - is dat miljoene Franse op die platteland woon, of aan die verste buitewyke van groot stede, gedwing om uit die stede te vlug omdat behuising in die stede onbekostigbaar geword het. Hierdie mense se lewens word veel erger ontwrig deur hoër brandstofpryse as enigiemand wat in Parys woon.
Ek ken hierdie mense want ek woon tussen hulle. Ek kan seker sê ek is een van hulle. Ek kan nie sonder ’n motor klaarkom nie, want openbare vervoer is nie ’n opsie nie. Ons huis is ’n halfuur se ry van die naaste stasie af ‒ en sonder ’n private motor is dit onmoontlik om by die stasie uit te kom. In hierdie omgewing is daar geen gerieflike metrotreine of trems nie en slegs enkele busse per dag na omliggende dorpe. En ons huis is ’n uur se stap van die bushalte af.
Trouens, in my gesin het ons twéé motors nodig om aan die lewe te bly. My man het sy stokou Renault Kangoo nodig om by die werk uit te kom en heeldag vir werkafsprake rond te ry - ’n skandalig ekologies-onvriendelike affêre wat diesel gebruik, maar ons kan nie nou ’n nuwe motor bekostig net omdat diesel al hoe duurder word nie - en ek het my stokou Citroentjie nodig om kos te koop en by dokters en skole uit te kom en kinders by stasies te gaan aflaai of oplaai.
Ons móés al noodgedwonge vir meer as ’n jaar met ’n enkele motor oor die weg kom toe my man weens nalatige verkeersoortredings al die punte op sy Franse rybewys verloor het – en dit was so ’n logistieke nagmerrie dat ek nou nog in koue sweet uitslaan as ek net daaraan dink.
Daarom begryp ek dat soveel landelike Franse om my hoogs ontstoke is oor die brandstofbelasting wat hulle soveel swaarder “straf” as die stedelinge wat sonder motors kan lewe en openbare vervoer kan gebruik.
Vir hulle is hierdie nuutste belasting bloot die laaste strooi in ’n lang sage van vervreemding tussen Parys en die provinsies, tussen welgestelde stedelinge en sukkelende boere, tussen die intellektuele elite by universiteite en die onopgeleide werkloses in dorpe wat al hoe armer word, al hoe minder hulp van Parys kry, al hoe meer sukkel om kop bo water te hou.
En hoewel die sensasionele beeldmateriaal van die betogings in Parys ’n wêreldwye skokreaksie uitgelok het - verbrande motorwrakke en geplunderde winkels in die deftige Champs Elysees, die statige staalheining van die Jardin des Tuileries vlak langs die Louvre wat deur ’n woedende skare uit die grond geruk word - moet ons onthou dat hierdie protesaksie diep gewortel is in die lyding van die landelike bevolking en wyd ondersteun word op klein dorpies dwarsdeur die land.
Die betogings is weliswaar minder gewelddadig hier in my omgewing - dalk juis omdat dit so ver van internasionale media-kameras geskied - maar jy kan nie anders as om intens bewus daarvan te wees nie.
Dit ráák jou lewe wanneer elke verkeersirkel op elke dorp beset word en alle paaie wat toegang tot snelweë gee, versper word. Dikwels deur mense wie se gesigte jy ken. Die bakker op die dorp, ’n afgetrede onderwyser in wie se klas jou kinders gesit het, ’n jong ma wat agter die kassier in die naaste supermark werk.
Die feit dat platttelandse betogers nie die anonimiteit van stedelinge het nie - niemand kruip hier weg agter maskers of balaklawas soos die plunderaars in Parys nie - verseker ook meer empatie tussen die betogers en die res van ons.
Maar dit bly ’n enorme ontwrigting. Elke keer wat jy kos gaan koop of stasie toe moet ry, weet jy nie hoe lank dit jou gaan vat nie, want elke dag word ander paaie beset. Jy weet nie of jy hoegenaamd kos sal kan koop nie, want die paaie na groot winkelsentrums word ook onverwags versper, en die rakke in die kleiner winkels raak leeg, want die afleweringsvragmotors kan nie by die winkels uitkom nie.
Brandstof raak skaars en jy weet nie wanneer dit weer afgelewer sal word nie, daarom probeer jy so min as moontlik ry.
’n Eenvoudige ete by vriende verg die beplanning van ’n generaal op die vooraand van ’n veldslag. Theo en Christine van Nîmes het onlangs by ons kom eet, en ’n rit wat gewoonlik vyftig minute op die snelweg duur, het in ’n safari van drie ure verander omdat soveel paaie versper was. Toe hulle eindelik ná tienuur die aand by ons opdaag, was die cassoulet lankal koud en die wyn amper opgedrink.
Toe hulle in die vroeë oggendure terugry, was hulle ietwat gelukkiger. Betogers het steeds die toegang tot die snelweg versper, maar was tog gaaf genoeg om vir hulle ’n onwettige manier aan te dui om die versperrings te omseil ‒ deur ’n ent oor McDonalds se parkeerterrein te ry en ’n eenrigtingstraat in die verkeerde rigting aan te durf.
Sulke tegemoetkomende gedrag van betogers word bon enfant genoem, “soet kind”, maar selfs op die platteland gedra alle betogers hulle helaas nie altyd soos soet kinders nie.
Die mense is diep ontstoke, erg verontwaardig, so kwáád dat hulle kan slange vang – die soort intense emosies wat maklik handuit ruk. Op ’n buurdorp het betogers onlangs ’n paar ou bome op ’n verkeersirkel afgesaag om hout te verskaf vir die vure wat hulle heelnag moes warm hou.
Dit het my amper my laaste bietjie empatie met die geel golf laat verloor. Om winkelvensters te breek, is reeds erg vandalisties, maar jy kan seker nog redeneer dat die winkels verseker is en die vensters maklik vervang kan word. Ou bome word ongelukkig nie oornag vervang soos winkelvensters nie.
Maar aan die ander kant - weer eens die ander kant - sê ek vir myself dat ’n ganse groep tog nie veroordeel kan word weens die gedrag van ’n klein persentasie ongedissiplineerdes nie.
Veral nie ’n groep soos die “geel baadjies” nie, ’n beweging wat skynbaar spontaan ontstaan het, sonder enige spesifieke landwye leiers, met ’n steeds groeiende verskeidenheid van griewe.
Dis tog demokrasie in sy suiwerste gedaante, is dit nie? Die soort massagedrag wat tot revolusies kan lei, of hoe?
Ek weet eerlikwaar nie. Ek kan nie volkome simpatiseer óf kritiseer nie, ek sit op die draad tussen twee kante, en my oorwegende emosie is angstigheid.
Die polisie het die regering gevra om ’n noodtoestand te verklaar en die weermag in te bring om die betogings te beheer. Die weermag is inderdaad ontplooi, waarskynlik net betyds, want intussen moes die oorwerkte veiligheidsmagte ook die nuutste terrorisme-aanval by ’n Kersmark in Strasbourg hanteer, maar tot dusver is ’n amptelike noodtoestand vermy. Tot dusver.
In Parys was daar die afgelope naweek heelwat minder protesteerders, maar op minstens twee van my buurdorpe kampeer die bittereinders steeds op verkeersirkels. En baie van hulle is bereid om ’n koue Kersfees langs ’n verkeersirkel deur te bring as dit moet.
Populisme maak my bang, gespierde reaksies op populisme maak my nog banger, eintlik maak alles wat op die oomblik in Frankryk aangaan, my bang.
Ja, selfs hier op die sogenaamde veilige platteland. Dis ingewikkeld – en dit gaan nog ingewikkelder raak voor dit oor gaan wees.
Buro: MvH