’n Gesonde hoof van ’n siek party probeer sy voorskrif verkoop

  • 0

President Cyril Ramaphosa (Foto: Cesar Itiberê/PR [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons)

President Cyril Ramaphosa het al die hulp wat hy moontlik kon kry, nodig gehad toe hy verlede Donderdag (7 Februarie) die laaste staatsrede van die huidige parlement moes lewer.

Sy party, die African National Congress, is in geslepe en woedende faksies verdeel, die land se ekonomie is benard, die onderwysstelsel is mank, opspraakwekkende, haas ongelooflike bewyse van korrupsie word met reëlmaat bekend, en op 8 Mei moet hy sy huidige benarde party in ’n algemene verkiesing lei.         

Toe lag die gode hom toe.         

Twaalf uur voor hy die jaarlikse staatsrede moes lewer, word aangekondig dat aardgas aan die Suid-Afrikaanse kus raakgeboor is. Geen staatsleier kon vir ’n beter toeval gevra het nie.         

En Ramaphosa het selfs ’n charismatiese aansien gekry toe hy sy staatsrede op ’n snikhete Kaapse middag gelewer het. Die staatsrede is ’n jaarlikse praalvertoning met eindelose orkesparades, opmarse van verskeie vloot- en leërafdelings, ruitery en ook ’n verblyvlug. Kanonskote is afgevuur. Die hittegraad was 38. Vroue daag op in soms uitermatig uitspattige drag en die meeste mans in toegeknoopte pakke klere.

Die skares en TV-kykers was ook nie teleurgestel deur die teatrale Economic Freedom Fighters (EFF) wat in rooi werkerspakke, met rooi mynwerkerhelms, met luide sang in hul aantog na die parlement gedraf het nie. (Die verwagting was dat hulle, soos gewoonlik, die rede sou onderbreek, hierdie keer om die President uit te daag oor ’n beweerde skenking wat hy uit ’n korrupte oord ontvang het. Dit het toe nie gebeur nie.)

Asof Ramaphosa besonder begeesterd was, het hy in ’n sjarme-offensief in sy twee uur lange rede besonder klem gelê op nie net die hupstoot wat die aardgasontdekking aan die ekonomie en meegaande werkverskaffing gaan gee nie, maar ook deeglik uiteengesit hoe die land haar sal skik om die vierde industriële revolusie tegemoet te gaan.         

Intensiewer aandag sou aan wetenskaplike en tegniese onderwerpe verleen word. Opleiding in die mynwese sou verdiep word. Sekere skole sou in tegniese skole omgeskakel word. Net wat Suid-Afrikaners wou hoor.         

Foto's: YouTube

Ook het hy die tans erg benadeelde onderwysstelsel aangespreek deur uitdruklik te verklaar dat elke, élke, voorskoolse kind in die land opleiding sou kry om hom of haar skoolgereed te maak. (Luide toejuiging.) Digitalisering sal, het hy aangekondig, verskerp word. Elke skoolkind sou sy of haar handboeke op tablette ontvang. (Luide toejuiging.)         

Die President (met ’n swetende voorhoof) hou aan die regte knoppies druk: nuwe inisiatiewe om werkskepping uit te brei.           

Ramaphosa, immer die diplomaat, het ook oor die kwelvraag oor grondonteiening aangekondig dat staatsbeheerde grond tans aan voornemende en opkomende boere beskikbaar gestel sou word.         

En, asof hy sy voornemens gestand gaan doen, het hy aangekondig dat die algemene verkiesing op 8 Mei sal plaasvind. Gouer is beter as later, het hy bygevoeg. Die subteks is dat hy in ’n nuwe parlement die leier sou wees, sy eie kabinet sou kon saamstel. (Hy sit steeds met hoogs onaanvaarbare kabinetslede wat hy van die vorige regime geërf het.)

En daarmee saam kom die onuitgesproke belofte dat die “nege vermorste jare” op ’n einde is.

Hiermee was dit ook die duidelik waarneembare “afskeid” van die vorige president, Jacob Zuma, en sy termyn. (Zuma het nie die staatsrede bygewoon nie, hoewel vorige presidente wel daar was.)

Die nou onteerde Zuma-termyn en misnoeë met sy verregaande misbruik van staatsentiteite en aanstellings gaan duidelik ’n rol in die komende verkiesing speel. Tot heel onlangs het Ramaphosa ’n uiters vriendelike houding teenoor Zuma probeer handhaaf.

Hierdie kammakastige verering is baie duidelik verby.

Dis bekend dat Zuma tans besig is om politieke faksies (knoeiery?) teen die Ramaphosa-bewind op te sweep. Zuma staar etlike ernstige klagte van korrupsie in die gesig, asook miljoene rande se skuld. Soos ’n gekweste bul in die Zoeloe-tradisie veg hy terug deur sy eie belange, en ondersteuning, sterker te maak.

Sy termyn wat as die “nege vermorste jare” nou slagspreukhoogte bereik het, sal dus beslis as ’n groot aanslag in die komende verkiesing gebruik word. Die subteks is: Ramaphosa sal die land wat Zuma deur sy korrupsie en gierigheid wou versink, red deur deursigtige regering en oorsig daar te stel.

Maar Ramaphosa is nog steeds “die ANC”. Sal sy duidelike begrip van regeerkunde, sy ernstige beloftes, sy blote beskaafdheid en intellek genoeg wees om die diepgewonde ANC op 8 Mei tot ’n klinkklare oorwinning te lei?

 Kan ’n gesonde hoof ’n siek party herstel?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top