’n Lens op die nood in Noord-Nigerië: Aisha se storie

  • 0

“There was a kidnapping just a couple of weeks ago at a school in Zamfara State. I’ve been to these schools several times. How they got in, nobody can say. There are fences and security in place. But they still walked in, kidnapped girls, got away.”

Ek sit agter in ’n Prado saam met A van UNICEF. Ons ry tussen Katsina en Kankiya in die Kano-provinsie, Noord-Nigerië. Ons sal vir die res van die week hierdie stuk pad elke dag twee maal ry na waar ons verfilm aan ’n kort dokumentêr in en om Kankiya. Agter ons is die res van die span, voor ons ry die militêre polisie. Gewere steek by die bakkie se ruite uit. Buite die venster is dit klein dorpie ná klein dorpie met modderstrate, houtstellasies wat bottels olie en petrol verkoop. Daar is ook Nigeriese wortelvrug “yam”, piesangtrosse en talle mense op fietse en motorfietse. Kinders op straat dra groente en vrugte op hul koppe. Elke meisie het ’n hijab oor haar kop en skouers.

Die besige strate in enige van die villages tussen Katsina en Kankiya in die Kano-provinsie, Noord-Nigerië. Foto: Fanjan Combrink 

’n Algemene straattoneel in Kankiya – houtstellasies waar groente, olie en ander staples verkoop word. Foto: Fanjan Combrink  

Nog ’n straattoneel; daar is in 2023 verkiesings, vandaar die politici op plakkate. Foto: Fanjan Combrink  

 “So is one of the end goals child trafficking?” Ek het baie vrae – as ons beter verstaan, sal ons die storie beter kan vertel.

“When they started in the East, we thought it was Boko Haram. Islamic extremists looking for attention. But it has gone beyond that, and beyond the East. And it’s no longer just schools where they can easily abduct a large number of girls at once, they also go into villages, communities, mosques, killing people, families, children. They take money, cattle, wives or boys for their gangs, ask for ransom. They are vindictive, angry; it feels like they want to settle a score.”

“So who are they? Who’s the enemy?”

“I don’t know. Nobody knows.”

A werk al sedert 2005 in die noorde. As sy nie weet nie, weet niemand nie. S bestuur, M sit voor met een selfoon op elke knie. Elke kort-kort kom ’n oproep deur en dan word daar reëlings getref, ons ligging deurgegee.

UNICEF verskaf skryfbehoeftes en boeke om veral meisies te help met skoolwerk. Skooluniforms, skryfbehoeftes en ander uitgawes is van die talle redes waarom ’n basiese opvoeding vir kinders in Nigerië buite bereik bly. Foto: Fanjan Combrink  

UNICEF voorsien boeke en skryfbehoeftes by ’n paar skole in hierdie streek. Foto: Fanjan Combrink  

UNICEF-Nigerië het ons so 2 weke vantevore gekontak en gevra of ons ’n video kan maak om ’n storie te vertel deur die oë van ’n jong meisie in Nigerië. Die doel is om die nood onder hooggeplaastes en donateurs in die Weste se aandag te bring. Volgens die VN-syfers het onveiligheid oor die afgelope 12 jaar die ontheemding van sowat 2,2 miljoen mense veroorsaak. Daar is sowat 7,6 miljoen meisies van skoolgaande ouderdom wat nie in ’n skool is nie. Duisende kinders word elke jaar ontvoer, talle word steeds vermis.

Borno in die noordooste is, soos ons weet van die #bringbackourgirls-veldtog in 2014, vir lank een van die episentrums van gewelddadige ekstremisme. Die geveg het egter intussen net vererger en in onlangse jare ook drasties posgevat in die noordweste se Zamfara- en Sokoto-state – sowat 200 km van waar ons nou rondbeweeg. Hier is daar verskeie stamgroepe, soos die Hausas en Fulanis, vanwaar baie van die sogenaamde “bandiete” glo hul oorsprong kry. Daar is ook die kwessie van die versteekte of onduidelike grens na Nigerië.

Ons ry op ’n stadium verby ’n spul windturbines wat nie klaar gebou is nie. Toe ons daarna vra, verduidelik hulle dat hulle die projek gestaak het ná die derde of vierde Noorweegse span ontvoer is. Deur die einste “bandiete”.

Die krisis is multi-dimensioneel en word aangevuur deur hongersnood, wrywing, verplasing en klimaatsverandering.

Die meeste Nigeriërs noem hulle “bandiete”, maar die naam dra vir elkeen ’n ander betekenis – van tradisionele terrorisme, nasionalistiese rebelle of net bloot gewelddadige, gewapende en gesiglose jagters. Saam dryf hulle ’n humanitêre krisis en konfliksituasie wat bly ontwikkel en verander. Brutaal, nihilisties en sinloos.

Naby Koda stop ons vinnig om toestemming te kry om ons drone te vlieg; ons beweeg naby ’n militêre basiskamp. Ons wag buite terwyl die UNICEF-span gesels met die polisiehoof van hierdie streek. Toe die hoof uitstap om ons te kom ontmoet (goeie teken), groet hy my manskollegas eerste voor hy my ook nader roep en sy hand uitsteek om myne te skud. Dis glo geweldig progressief en onder bespreking vir die res van die rit.

Ek en John kyk na Kankiya van bo soos ons die drone-inhoud verfilm. Foto: Fanjan Combrink  

“There’s a bigger question around where culture begins and where religion ends. ‘Boko’ means book, ‘haram’ means forbidden. There is a deep social belief that girls should not go to school or be allowed a ‘western’ education. Personally, I don’t think the enemy is religion. It’s poverty and patriarchy. We live in a world where men listen to men.”

Tydens elke security briefing was dit duidelik: bedek jou kop, moet nie blad skud met ’n man nie – veral nie as hy getroud is nie. Hulle verduidelik ook dat die sekuriteitspan te alle tye by ons sal bly. Ons mag nie sonder sekuriteit die hotel in Katsina waar ons bly verlaat nie, en ons kan ook nie verfilm voor 8:00 of ná 15:00/16:00 bedags nie. As iets sou gebeur, moet dit wat ons verfilm en ons kameras eerder in die slag bly – plaas die werk tweede, jul lewens eerste.

“Is anything shifting in the men and the way they think?”

“Generally in the North – it’s not shifting. The extremists are making it worse. Parents are scared to send their children to school which, again, fuels the cycle of children and families not getting out of poverty.

“We realise that even if the girls are strong, they cannot break through. They can’t decide their own fate. They are the ones suffering the most. For man’s best interest. The only way is to build strong support systems within their homes and communities.”

UNICEF werk met elke hulpbron binne hulle bereik om skole en gemeenskappe vir kinders en mense te beveilig. Hulle werk veral nou hard om meisies gevestig te kry ná verplasing, en hulle ook die nodige vaardighede te leer om veilig te bly. Daar’s ook ’n moederkomitee wat meisies terugbring skool toe as hulle voltyds kos verkoop by die plaaslike markte. Dit gebeur ter wille van oorlewing, maar ook grotendeels weens kulturele norme en vrees.

Die middag ontmoet ons vir Aisha, een van ’n paar Hausa-meisies uit die streek wat gekies is om met ons te gesels. Sy en haar maatjie Gadija (albei 12) pas saam op een stoel oorkant ons in die hoof se kantoor waar hulle sitgemaak is. Twee pare glinsterogies wat loer na ons. Afwagtend.

Ek’s selde vraagloos, maar in hierdie oomblikke weet ek nie waar om te begin nie. Wat eet sy vir ontbyt? Wat haar gunstelingspeelding is? Het sy speelgoed? Of sy broers en/of susters het; wat haar ouers doen vir ’n lewe, vra ons vir eers nie – want ons vermoed hulle het in die slag gebly. Die slag wat sy en haar ouma oorleef het, en waarvan ons meer wil hoor.

Abbass is ’n wonderlike vertaler op wie ons later die week baie staatmaak. Hy vertel haar dat ons ook van Afrika is, dat ons dink dis ’n pragtige land en dat dit vir ons so lekker is om hier te wees en haar te ontmoet. Sy lag lekker toe ek verduidelik hoe my mond brand as ek jollof (geurige rys) eet.

Ons stel hulle weer gerus: daar is geen druk of verpligting om ons vrae te beantwoord nie. Dis belangrik dat hulle veilig voel.

Aisha praat egter baie gemaklik en oop-oog oor alles wat met haar gesin gebeur het: hoe die manne met die gewere in die nag gekom het. Hoe haar ouma haar wakker gemaak het en hulle moes hardloop om te gaan skuiling soek in ’n nabygeleë bos. Hoe hulle sonder skoene vir kilometers geloop het na die volgende dorp. Daar het hulle gebly vir ’n paar dae voor hulle terug is huis toe om te kyk of die “bandiete” al weg is. Baie mense is vermis; ’n hele spul is vermoor, onder andere nege lede van hul direkte gesin.

Haar storie is sterk, maar sy is sterker. Ons besluit om nie verder te soek nie en te begin verfilm – eers in en rondom die skool, later by die mark, en toe ook uiteindelik rondom hulle huis. Ons stuur die drone op om ’n beeld te kry van Kankiya, waar sy en haar ouma nou woon. Van bo kan ’n mens sien dit lyk oral dieselfde. Daar is nie ’n ryker deel met groot huise nie. Dis net wye groen landskappe rondom stofstrate, rye op rye houtstalletjies wat olie verkoop, karige geboue, kinders en mense op straat.

Met die gewapende manne wat ons werklik nooit los nie, die kameras en die konvooi trek ons baie aandag. Om in plekke soos die mark en die gemeenskap ’n realistiese skoot te kry, is moeilik. Groot groepe mense kom om te kyk wat ons doen. Die geweermanne probeer hulle met geweld verjaag, tevergeefs. Dis die enigste oomblikke wat ek werklik benoud raak en besef as een skoot klap, is dit verby.

Te midde van gewere, vrees en ’n oorheersende gevoel van wanhoop, blyk daar tog ’n kollektiewe verstaan te wees van hoe belangrik en noodsaaklik skool is. Asook die werk wat UNICEF hier doen. Onder die mense wat ek ontmoet en mee werk, veral die vroue en onderwysers, ervaar ek ’n soort onverklaarbare moed om te stoei met die onsekerheid en genadelose geweld wat hulle in die gesig staar.

Elke dag wag Aisha en haar klasmaats opgewonde en gereed vir aksie in hul skooluniforms (al is dit vakansietyd!) vir ons by die skool. Hulle speel om ons terwyl ons skote beplan, kyk na inhoud, besluite neem. Al verstaan ons mekaar nie, maak ek en Aisha gereeld oogkontak. Ons glimlag vir mekaar, lag saam. As my kopdoek afgly of as ek die bal saam met hulle skop, is sy en al die kinders in ekstase. Ek kan voel hoe Aisha gemakliker raak rondom ons – iets waarvoor ons gehoop het.

Die meisies in Noord-Nigerië dra ’n hijab skool toe, maar ook enige ander tyd van die dag. Foto: Ingrid van der Walt

Ek vang ’n leë klaskamer vas in ’n stil oomblik. Foto: Ingrid van der Walt

Toe ons in hulle woonplek begin verfilm, moet ek voor my manskollegas ingaan en haar ouma se toestemming vra. Sy is ’n weduwee en ongetroud, so sy laat nie sommer mans in haar woonplek toe nie. Hul onderhoude gebeur hier in die eenkamerplek waar hulle woon. Nie eenslaapkamer nie, maar net een enkele vertrek. In een hoek het hulle al hulle besittings netjies weggepak – twee of drie sakkies klere, Aisha se skooltassie en ’n matras. Alles wat hulle kon dra tot hier.

Aisha se skooltassie en uniform hang teen die muur in hulle huis. Foto: Ingrid van der Walt

Op die vloer is strooimatte wat hulle doelgerig rondskuif vir ons om op te sit. Dis warm en bedompig. Buite maak die bure kos vir middagete, stook vure en probeer die bokke stil hou.

Aisha stap in die mark rond ná skool om “kuli-kuli”-koekies te verkoop. Die geld wat sy maak, onderhou haar en haar ouma. Foto: Ingrid van der Walt

Sonder dat ons dit vir mekaar sê, werk, praat en loop ons saggies as ons met Aisha en haar mense werk. Ons lyftaal moet sê wat ons nie kan in Hausa nie. Die sagmoedigheid in Abbass se stem troos my, maar ek bly stilweg hoop hy vind die regte woorde. Want ek besef: Aisha en haar ouma het, soos duisende Noord-Nigeriërs, geen sekerheid of ondersteuning nie. Geen waarborg dat ’n migrasie soos dié die einde van hulle onsekerheid en hartseer is nie. Dis leef en oorleef. Laat leef.

Ons verfilm van die meisies op die skoolgronde. Alle meisies gaan skool met ’n hijab. Foto: Ingrid van der Walt

Uiteindelik moet ek vir Aisha vra wat sy weet en onthou van daardie nag, hoe haar lewe was voorheen. Of sy haar ouers mis. Toe trane oor haar wange begin rol, val daar sagte reëndruppels op die sinkdak, en toe al hoe harder tot ons moet stop vir klank. Diep asemhaal. Die oomblik en reën voel simbolies. Heilig. Nodig.

“Travel isn’t always pretty. It isn’t always comfortable. Sometimes it hurts, it even breaks your heart. The journey changes you; it should change you. It leaves marks on your memory, on your consciousness, on your heart, and on your body.” Anthony Bourdain

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top