Oor Krekel deur Annet Schaap – en oor die leesvoorkeure van kinders in Nederland: ’n onderhoud met Solet Scheeres

  • 0

https://www.zwijsen.nl/product/krekel-9789045131153/

Krekel
Annet Schaap
Uitgeverij Zweisen
9789045131153

Solet Scheeres praat met Naomi Meyer oor ’n onlangse Facebook-inskrywing wat sy oor ’n Nederlandstalige pryswennerkinderboek geplaas het, en oor Nederlandse kinders en tieners se leesvoorkeure.

Solet, jy woon in Nederland en tog skryf jy ook boeke in Afrikaans. Vertel asseblief vir LitNet se lesers wie jy is, waarmee jy besig is – en van ’n onlangse inskrywing oor ’n kinderboek wat jy op sosiale media gedeel het. 

Ons woon nou al 21 jaar in die suide van Nederland. Ek het hier aangekom as joernalis; lank-lank gelede het ek by die SABC as joernalis en programmaker gewerk. Uiteindelik het ek hier in Nederland kom studeer om ’n Engels-onderwyser (“2de graads docent Engels") te word. Ek het 10 jaar lank by die plaaslike hoërskool skoolgehou. Met die Glam Divas-reeks, Die leeutemmer se assistent, en ’n klompie kortverhale in jeugbundels op die rak, het ek na my 60ste verjaarsdag besluit om tog vir oulaas te probeer om voltyds skrywer te wees. Die aftree-ouderdom in Nederland is 67, dus is ek nog lank nie met pensioen nie. Op die oomblik skryf ek aan ’n Afrikaanse kinderboek wat hopelik iets sal word. Ek is maar lugtig om in Nederlands te skryf – ek dink in Afrikaans, en Nederlands het ’n ander vloei en ritme. Ek is ook nie aldag so seker van my Nederlandse taalbeheersing nie. Verder het ek ook ’n weeklikse podsending waar ek probeer om met al my wonderlike FB-vriende te gesels. Daar is nogal baie skrywers, insluitend kinderboekskrywers, op die lys.

............
My skrywe op FB het ook gegaan oor die feit dat daar so baie “reëls” bestaan vir die skryf van Afrikaanse kinderboeke. Nie dat die reëls verkeerd is nie – só maak uitgewers seker dat hulle boeke verkoop, want Afrikaanse ouers en skoolbibliotekarisses is bitter kieskeurig as dit kom by die koop van kinderboeke.
................

My skrywe op FB het ook gegaan oor die feit dat daar so baie “reëls” bestaan vir die skryf van Afrikaanse kinderboeke. Nie dat die reëls verkeerd is nie – só maak uitgewers seker dat hulle boeke verkoop, want Afrikaanse ouers en skoolbibliotekarisses is bitter kieskeurig as dit kom by die koop van kinderboeke. Maar diep in my hart wens ek daar was meer waaghalsige kinderboekuitgewers in Afrikaans. In Nederland kan skrywers subsidies kry om te skryf, en biblioteke en skole koop ook ruimskoots kinderboeke aan. Gevolglik word daar buiten al die boeke wat die kommersiële reëls volg, ook boeke geskryf wat al die grense van die “reëls” ondersoek. Ek dink dat Krekel en Lampje voorbeelde is van sulke boeke. Die heel eerste paragraaf in Krekel sal waarskynlik al vir ’n Afrikaanse uitgewer té veel wees. Onthou de lesersmark is 8–12 jaar:

Het zee is groot, het stadje is maar klein. Wat huizen, rondgestrooid tussen de duinen, wat hobbelige steegjes, een stationnetje, een rij schamele winkeltjes langs de kade. Het allerschamelste is dat van Leo. Een raam met een donker hokje erachter, meer is het niet.

Er kan nauwelijks daglicht door naar binnen, zo volgeplakt is het raam, met  vergeelde papieren voorbeelden:  harten en ankers, inktvissen, doodshoofden, zeemeerminnen met half blote borsten. Ook een paar met helemaal blote, waar altijd wel een groepje vissers naar staat te kijken en om staat te grinniken.

Vertel asseblief vir ons lesers van hierdie boek, die een waaroor jy die plasing gemaak het. Dit het die mooiste illustrasie op die buiteblad – sommer my persoonlike mening.

Die boek wat ek gepos het op FB is Annet Schaap se tweede boek, Krekel, wat in Maart hier by ons verskyn het. Die boek is nou al weke lank onder die top verkopers van alle boeke in Nederland. Dit is nogal besonders, want dit gebeur nie baie met ’n kinderboek nie.

............
Die boek wat ek gepos het op FB is Annet Schaap se tweede boek, Krekel, wat in Maart hier by ons verskyn het. Die boek is nou al weke lank onder die top verkopers van alle boeke in Nederland. Dit is nogal besonders, want dit gebeur nie baie met ’n kinderboek nie.
................

Annet Schaap se eerste boek, Lampje, was ook ’n top verkoper. Dit is ook in Afrikaans vertaal, deur Sandra Bezuidenhout. Sy het in 2024 die Akademieprys vir die vertaling ontvang.

In Nederland is Annet Schaap al baie jare ’n soort van popster as dit kom by kinderboekillustrasies. Sy het dekades lank Francine Oomen se gesogte jeugromanreeks Hoe overleef ik ...? geïllustreer. Die reeks het later ’n handelsmerk geword en daar is uiteindelik 17 kinderboeke, agt volwasseneboeke en ’n tydskrif wat sewe jaar lank tweemaandeliks verskyn het, uitgegee. Maar dit was lank nie die enigste boeke wat sy geïllustreer het nie. Haar lys van publikasies per jaar slaan ’n mens se asem weg. Sy het tot nou toe al meer as 200 boeke geïllustreer. Was dit die rede waarom dit so lank geduur het voor sy uiteindelik so ver gekom het om in 2017 self ’n poging aan te wend om ’n boek te skryf? Op haar webtuiste sê Schaap dat sy nog altyd ’n “late bloomer” was. Sy is laat getroud en haar seun, Jonas, is gebore toe sy 44 jaar oud was. Tydens ’n reis na Amerika het sy ’n vuurtoring gesien en dit het uiteindelik die saadjie geplant vir haar eerste boek – sy was toe 52 jaar oud.

...........
Haar lys van publikasies per jaar slaan ’n mens se asem weg. Sy het tot nou toe al meer as 200 boeke geïllustreer. Was dit die rede waarom dit so lank geduur het voor sy uiteindelik so ver gekom het om in 2017 self ’n poging aan te wend om ’n boek te skryf? Op haar webtuiste sê Schaap dat sy nog altyd ’n “late bloomer” was. Sy is laat getroud en haar seun, Jonas, is gebore toe sy 44 jaar oud was. Tydens ’n reis na Amerika het sy ’n vuurtoring gesien en dit het uiteindelik die saadjie geplant vir haar eerste boek – sy was toe 52 jaar oud.
...............

Schaap het besluit om ’n boek te skryf met ’n storie wat is soos wat sy self van kinderverhale gehou het toe sy klein was: ’n spannende meesleurende verhaal, propvol fantasie en met geloofwaardige karakters. Een resensent skryf dat Schaap skryf soos sy illustreer. Schaap self sê dat sy baie strenger met haarself is wanneer sy skryf as wanneer sy illustreer. Vir haar moet elke woord presies reg wees en sy hou nie op met oorskryf voor sy heeltemal gelukkig is nie.

Lampje was onmiddellik ’n groot sukses en het ’n hele paar pryse ontvang. Die boek is al in meer as 20 tale vertaal en daar is 130 000 kopieë in Nederland verkoop. En natuurlik het Schaap ook self die illustrasies in die boek gedoen.

Ek weet daar is ’n kinderboekmuseum in Nederland. Watter kinderboeke in Nederland is boeke na jou hart? En weet jy of sommiges van hulle in Afrikaans vertaal is, sodat ons lesers in Suid-Afrika ook daarvan kan koop en dit kan lees? 

Protea Boekehuis vertaal nogal baie Nederlandse kinderboeke met behulp van die Nederlandse Letterenfonds. En ek moet sê, die keuses wat hulle maak is uitstekend. Een van my groot Nederlandse gunstelinge is die Vlaamse skrywer Jean-Claude van Rijckeghem. Hy skryf historiese verhale vir tieners. ’n Paar van sy boeke, wat hy saam met Pat van Beirs geskryf het, is ook in Afrikaans vertaal: Jonkvrou en Galgmeisie. Maar ag, daar is nog soveel ander skrywers oor wie se werk ek mal is: Annie MG Schmidt, Paul Biegel, Tonke Dragt, Francine Oomen, Joke van Leeuwen, Thea Beckman, Bennie Lindelauf, Bibi Dumon Tak – die lys is oneindig lank. Een van my nuutste ontdekkings is die werk van Sanne Rooseboom. Sy skryf vreeslike jolige avontuurverhale. Sover ek weet, is haar werk nog nie in Afrikaans vertaal nie.

Kinderboeke is nogal ’n vergete genre, voel dit soms. Dit is soos die outydse gedagtes oor kinders, is dit nie? Hulle moet gesien word, maar nie gehoor word nie. Dalk maak ek ’n wilde stelling. Daar is natuurlik ouers wat kinderboeke vir hul kinders koop, en nogal baie van hulle ook. Maar die genre word nie aldag binne literêre kringe soveel geag nie. Wat is jou persoonlike gedagtes oor wat ek hier sê? Jy is welkom om te verskil.

Ek dink dit hang van land tot land af. In Suid-Afrika kry ek altyd die gevoel dat daar magte is wat veral hulle “opvoedkundige agendas” wil deurdruk in kinderliteratuur. So al asof die lees van kinderboeke nie net suiwer plesier mag wees nie, maar altyd ’n lessie moet bevat. Suid-Afrika ken ook sterk lobby-groepe wat tog te graag kinderboeke wil “suiwer of verban”. ’n Skrywer sê onlangs vir my dat ouers glad nie omgee wat hulle kinders in Engels lees of speel nie, maar die oomblik as ’n boek in Afrikaans is, dan is daar fout mee. So ek stem nogal met jou saam dat daar maar min gedoen word in Suid-Afrika om aan kinderboeke dieselfde status te verleen as aan volwasseneliteratuur. Dit help ook nie dat dit so moeilik gaan met biblioteke nie.

In Nederland is kinderboeke ’n saak van groot erns. Die jeug se leeskultuur (of gebrek daaraan) word uiters ernstig opgeneem en deur verskillende organisasies aangepak. Hier is byvoorbeeld ’n gesubsidieerde tydskrif vir die onderwys wat net fokus op die bevordering van leesvaardigheid en leesplesier onder kinders. Jaco Jacobs se vertaalde boeke het al ’n paar keer ’n draai gemaak in die tydskrif. Stichting Lezen is konstant besig met projekte om lees te bevorder. (Kyk hier: https://www.lezen.nl/publicaties/tijdschrift-lezen.)

Een van die bekendste podsendings in Nederland is vir volwassenes oor jeug- en kinderboeke, De Grote Vriendelijke Podcast (Luister hier: https://degrotevriendelijkepodcast.nl). Hulle het duisende luisteraars.

Hier is ’n Nationale kinderboekenweek wat elke jaar wonderlike aktiwiteite aanbied en ’n spesiale kinderboekgeskenk uitdeel as jy ’n boek koop. Die geskenk is natuurlik ’n gratis kinderboek wat spesiaal vir die week geskryf word. Dié week kry ruim blootstelling op televisie en alle ander media. (Kyk hier: https://onderwijs.cpnb.nl/campagnes/kinderboekenweek-2025.)

Die Nationale Voorleesdagen (kyk hier: https://www.hebban.nl/nationalevoorleesdagen-2025) is ’n dag waarop van die adel tot die tannie op die hoek van die straat vir kinders gaan voorlees.

By die geboorte van ’n kind is daar ’n spesiale boekpakket beskikbaar, en die kind kan dan ook gratis lid word van die plaaslike biblioteek (kyk hier: https://www.boekstartpro.nl).

Die biblioteke hier se kinderafdelings is ongelooflik goed ingerig en daar is voortdurend aktiwiteite vir die kinders. Ek deel sommer ons plaaslike biblioteek se webtuiste vir kinders: https://www.bibliotheekwb.nl/jeugd-en-jongeren.

Daar is verskeie gesogte boekpryse elke jaar, ook die Kinderjury se prys, waar kinders self die beste boeke kies. En dan is daar ook boektoekennings wat behoorlik stewige prysgeld toeken. So kry die ontvanger van die Boon-kinder- en jeugliteratuur ’n netjiese Є50 000. Ek stuur ’n skakel na die Woutertje Pieterse-prys, omdat dit altyd in samewerking met die openbare uitsaaier gedoen word: https://woutertjepieterseprijs.nl.

Nog iets wat ek omtrent jou inskrywing op Facebook wil opmerk: Jy het reageer op kommentaar wat iemand gelewer het en gesê kinders in Nederland lees dalk nie meer as kinders in Suid-Afrika nie en hulle koop ook nie die boeke vir hulself nie – hul ouers koop die boeke. Wat dink jy van tieners en die aankoop van tienerboeke in Nederland? Hoe lyk hierdie genre daar?

Oor die algemeen koop kinders nooit self boeke nie. Hulle kry dit as geskenke, neem dit uit in die biblioteek of kry dit op skool. Ook wanneer ouers kinders na ’n boekwinkel toe vat om self boeke te kies, sal die ouer steeds seker maak dat die keuse gepas is. Tieners en jong volwassenes is natuurlik ’n ander saak.

Ek het dalk te vinnig gepraat as dit kom by die aantal kinders wat in Nederland lees vs dié in Suid-Afrika. Daar is nie syfers hieroor bekend nie, dus was my stelling op niks gebaseer nie – mijn excuses.

............
Kinders hier lees beslis minder as vroeër, en daar is veral groot kommer oor kinders se onvermoë om met begrip te lees. Dit word nou op nasionale vlak en binne die onderwysinspeksie aangepak.
.............

Kinders hier lees beslis minder as vroeër, en daar is veral groot kommer oor kinders se onvermoë om met begrip te lees. Dit word nou op nasionale vlak en binne die onderwysinspeksie aangepak. Hier is ’n verduideliking: https://www.lezen.nl/nieuws/resultaten-pirls-2021-daling-leesvaardigheid-nu-ook-zichtbaar-in-het-basisonderwijs.

Tieners hier by ons is dol oor fantasie en liefdesverhale, en die Nederlandse mark sukkel om by te hou. Daar word duisende boeke in Nederlands vertaal, maar die jeug lees al hoe meer Engels. Die afgelope tyd is daar ook ’n toename in Nederlandstalige indie-skrywers wat eerder in Engels as Nederlands skryf. Sedert 2018 was daar ’n toename in jong volwasse lesers in Nederland (18–32 jaar). Die toename word veral toegeskryf aan BOOK-Tok en ander boek-influencers. Meer as die helfte van die marksegment dui aan dat hulle eerder Engels as Nederlands lees.

Die toekoms bly interessant. In ons politiek word daar groot lawaai gemaak om weer terug te keer na Nederlands by tersiêre onderwysinstellings, en die afgelope Boekenweek se tema was “In je moerstaal”. Of dit jong volwassenes so ver gaan kry om weer in Nederlands te lees, sal net die tyd leer. Gelukkig is lees onder kinders van hierdie ouderdomsgroep darem nou weer in die mode, na baie jare van “weg-gewees”.

Lees ook:

Berig vanuit die Bologna Kinderboekbeurs

Cliff-hanger: Die ware avonture van Adelie en Riley deur Felicia Snyman-Du Toit – ’n kinderboekresensie

The South African Festival of Children’s Literature 2025: an interview with Darryl David

Leesstof vir die skoolvakansie! Speurhond Willem in Japan: ’n onderhoud met Elizabeth Wasserman

 

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top