’n Nuwe pelgrimstog vir Suid-Afrika?

  • 0

In haar reaksie op ’n skrywe vir Vrye Weekblad waarin ek April as ’n maand van “goedheid en guns” besing het in navolging van C Louis Leipoldt se befaamde gedig oor Oktobermaand en TS Eliot se verwysing na April as “the cruellest month”, haal Sue Krummeck ook Geoffrey Chaucer se April-beskrywing in Middelengels by: “Whan that Aprill with his shoures soote,” lui die eerste reël daarvan – “April met sy soetruikende reën ...”

Waarop Krummeck veral haar vinger lê, is die begin van ’n pelgrimstog in Chaucer se storie deur pelgrims vanuit uiteenlopende omstandighede, op soek na die sin en betekenis van die lewe. Ter aansluiting by my eie herinneringe aan April 1994, toe Suid-Afrika ’n politieke omwenteling ondergaan het van verdrukking na vryheid, onthou sy dan: “Terwyl ons in lang rye gewag het om te stem, het ’n sagte reën geval. En ons het gepraat van die ‘wonderwerk’ van die nuwe Suid-Afrika.”

Die wêreld het ons daarvoor geprys. Dit was tot ’n groot mate bloedloos, ten spyte van die tekens dat dit so maklik anders kon verloop het. Ons het ’n “sagte revolusie” ondergaan. Ons het versoen – vratte en al – en die eerste treë na ’n nuwe, verenigde nasie gegee.

“Maar daar was toe nooit ’n perfekte plan of bloudruk vir ons om te implementeer nie,” skryf Krummeck nou. “En nou is ons eintlik maar op ’n pelgrimstog, met gevare en struikelblokke langs die pad, op soek na ’n beter lewe vir almal.”

Wat sy met “’n beter lewe vir almal” bedoel, is onduidelik; in die eerste demokratiese verkiesings was dit die regerende ANC se slagspreuk. Die hoop het egter beskaam – wat nie beteken dat géén vordering gemaak is nie: Huise is aan daklose gesinne voorsien; lopende drinkwater is gelewer; skole is gebou; staatstoelae word aan meer arm mense as ooit tevore uitbetaal. Openbare gesondheidsorg is een van die gebiede waar dienslewering egter nog veel te wense oorlaat. Oorhoofs beskou, loop die foutlyn van die verlede egter nog stérk: die kleur van armoede is swart, die kleur van welvaart is wit.

Hierdeur is ruimte geskep vir die sogenaamde radikale-ekonomiese-transformasie- (RET-) beweging, ’n begrip (gedaante, gedierte?) wat deur die skakelmaatskappy Bell Pottinger met Gupta-geld geskep is. Dit is teenoor ’n ander nuwe skepping, witmonopoliekapitaal, opgestel. Die aarde was goed voorberei daarvoor – tot so ’n mate dat RET-vegters nou ’n verbete stryd voer teen pres Cyril Ramaphosa en sy ondersteuners, wat bejeën word as marionette van “wit kapitaal”.

Dié tweestryd het die kenmerk geword van die ideologiese geveg – en hoeveel soortgelyke stryde was daar nie al nie – om beheer van die ANC terug te wen nadat Ramaphosa die grootvader van die RET-faksie se tjank by die party se Nasrec-leierskapskonferensie in 2017 afgetrap het. Terwyl Zuma tans sy rol van ’n afstand (en op sosiale media) speel, is sy hoofafdwinger die ANC se sekretaris-generaal en voormalige premier van die Vrystaat, Ace Magashule, wat teregstaan op klagte van bedrog en korrupsie.

Magashule skop vas teen ’n konferensiebesluit dat ampsdraers én gewone lede wat aan die verkeerde kant van die reg beland hul posisies moet prysgee. Watwou, sê Magashule, as dié rel streng toegepas word, sal daar weinig leiers in die party oor wees. Met ander woorde: Niemand is sonder sonde nie.

In die nuutste ontwikkeling het die nasionale uitvoerende komitee (NUK) ’n aangepaste weergawe van die besluit goedgekeur. Slegs diegene wat in werklikheid reeds aangekla en in die hof verskyn het, moet voortaan opsy staan, nie ook diegene wat slegs maar van ongerymdhede verdink (of beswadder) word nie. Hiervoor word die beskuldigdes 30 dae gegun. ’n Belangrike struikelblok (eintlik strydpunt) is hiermee uit die weg geruim – altans, só wil dit voorkom – hoewel Magashule voornemens is om eers met oudleiers, sóós Zuma, dié se voorganger, Thabo Mbeki, en ander oorleg te pleeg.

Waarom? Waarskynlik om hulle te waarsku oor die negatiewe gevolge (lees: voortgesette verdeling, moontlik ook ’n skeuring) wat die besluit teweeg kan bring. Dit kan so wees, of dalk nie. Wie sal nou weet? Wie sal akkuraat kan voorspel wat die nadraai hiervan sal wees? Dit sal in elk geval nie die eerste skeuring wees wat die ANC tref nie – een van die vernaamste skeurings was met die wegbreek in die sestigerjare van wat nou as die Pan Africanist Congress (PAC) bekend staan, ’n onbenullige teenwoordigheid in die politieke bestel. ’n Meer onlangse wegbreek was dié van die Julius Malema-groepering nadat Malema uit die Jeugliga geskors is en sy eie Economic Freedom Fighters gestig het. En nou is dit interessant om die toenadering tussen die Zuma- en Magashule-RET-voetsoldate te aanskou wat hul uitsprake en hul beleidsvoorkeure betref.

Hierdie April kan op sy eie manier ’n bepalende oomblik in die geskiedenis van ons land aandui as Magashule en sy maters besluit om wel terug te veg en vir grootskaalse ontwrigting en sosiale onrus te sorg, soos wat hulle reeds dreig. Dit sal nie ’n Arabiese Lente wees nie, want dit is ’n politieke oorlog wat op geen opregte en geloofwaardige gronde gevoer word nie; en mag eiebelang tog nooit gemeenskaplike belang troef nie. Maar desperate mense maak, na die spreekwoord, benoude spronge.

Nou sal ons moet wag om te sien of hierdie April polities gaan uitloop as Eliot se “wreedste maand” waarin ons, in Chaucer se woorde, sal “sleep all the night with open eyes”. Of as die hoop nie beskaam nie, sal ons dalk (in die afwesigheid van die Magashule-stok in Ramaphosa se wiel) ’n nuwe pelgrimstog kan aandurf in ooreenstemming met Krummeck se nostalgie van “die ‘wonderwerk’ van die nuwe Suid-Afrika”, met “sagte (April-) reën wat val”.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top