Suid-Afrika se politieke landskap gaan onherroeplik verander na die afgelope week se algemene verkiesing.
Met ’n groot persentasie stemme wat reeds getel is, blyk dit dat die ANC die groot verloorder in vanjaar se verkiesing was.
Dit het reeds kort na die eerste uitslae duidelik geword dat die ANC se steun nasionaal drasties daal. Die MK-party se gewildheid in veral KwaZulu-Natal het die ANC harde bene laat kou. Die kans dat die ANC sy meerderheid in KZN sal behou, is ’n ronde nul.
THANK YOU
To all our supporters, members and revolutionaries for coming out in your numbers to vote for the MK Party.
Your unwavering support and commitment to our cause are the driving forces behind our mission to ensure a better life for all South Africans.
From the MK… pic.twitter.com/HNSisJsdee
— uMkhonto WeSizwe Party (@MkhontoweSizwex) May 30, 2024
Dit lyk ook na ’n uitgemaakte saak dat die ANC sy beheer oor Gauteng gaan verloor. Geen party in Gauteng sal waarskynlik meer as 50 persent van die stemme kry nie, wat ’n koalisieregering ’n uitgemaakte saak daar maak. Dit sal beteken dat die drie belangrikste en rykste provinsies in die land, naamlik die Wes-Kaap, Gauteng en KZN, nie meer in die ANC se hande sal wees nie.
Projection: Gauteng is all but lost for Panyaza Lesufi's ANChttps://t.co/kmdgc0n3HN pic.twitter.com/1ujh97kVEM
— News24 ???????? (@News24) May 30, 2024
Die politieke kommentator Thobani Zikalala het aan IOL gesê die ANC se arrogansie het hulle in die verkiesings duur te staan gekom. As huidige peilings ’n aanduiding is, sal die MK-party die meerderheid van die stemme in KZN kry, het hy gesê.
“Die ANC moes sy huis in orde gekry het. Die kiesers sê duidelik dat hulle iets anders en iets beters wil hê. Die MK-party verteenwoordig ’n breuk in die status quo,” het hy gesê.
“Dit gaan oor die politiek van persoonlikhede. Mense sal persoonlikhede volg, en Zuma het dit geïllustreer. Dit maak nie saak waarheen die betrokke persone mik nie, die mense sal vir hulle stem,” het hy aan IOL gesê.
Die finale uitslae sal waarskynlik eers Sondag amptelik bekendgemaak word, maar die tendens van die verkiesing, hoe die resultate gaan uitspeel, het reeds gister (Donderdag) duidelik geword.
Wat die kleiner partye betref, het die Patriotiese Alliansie van Gayton McKenzie heelwat steun gewen en baie van die DA se bruin kiesers weggelok. Dit wil egter voorkom of die DA van sy wit steun teruggewen het en dat die Vryheidsfront Plus nie vanjaar groot getalle van die DA se stemme kon afrokkel soos in die vorige verkiesing nie.
Drie van die ander nuwe partye wat in die aanloop tot die verkiesing redelik in die nuus was en gehoop het om ’n impak te maak, naamlik ActionSA, Rise Mzansi en Bosa, het nie veel hond haaraf gemaak nie.
Dit lyk of die kiesers hulle eerder na die groter partye gewend het, en na die nuwe MK-party, wat die politieke kaarte heeltemal deurmekaar gekrap het.
Die bestuurskonsultant Dawie Scholtz het Donderdag op X voorspel dat die Vryheidsfront Plus 1,5 persent van die stemme sal kry, ActionSA een persent, Rise Mzansi 0,4 persent en Bosa 0,3 persent.
My projection also covered four more parties for those interested:
FF+ 1.5%
ActionSA 1%
RISE 0.4%
BOSA 0.3% https://t.co/qj5D4CvD4s— Dawie Scholtz (@DawieScholtz) May 30, 2024
Onafhanklike kandidate, wat vanjaar vir die eerste keer aan ’n verkiesing kon deelneem, kon ook geen hond haaraf maak nie. Die aktivis Zackie Achmat, wat die grootste gunsteling onder die onafhanklike kandidate was om die paal te haal, het teen Donderdagmiddag nog minder as 2 000 stemme gehad. Die diamantsmous Louis Liebenberg, wie se naam in twee provinsies op die stembrief was, naamlik Gauteng en die Vrystaat, het hopeloos gevaar. Teen Donderdagmiddag het hy nog slegs 102 stemme in Gauteng gehad en ’n skamele 47 stemme in die Vrystaat. Onafhanklike kandidate moes ongeveer 60 000 stemme kry om ’n setel in die parlement te wen.
Die vraag op almal se lippe is hoe Cyril Ramaphosa se politieke toekoms na dese gaan lyk. Die parlement moet twee weke nadat die amptelike verkiesingsuitslag aangekondig is, bymekaar kom. Die eerste item op die agenda sal wees om ’n speaker en ’n president te kies. Die president word met ’n meerderheid van minstens 50 persent plus een deur die Nasionale Vergadering se 400 lede verkies.
My projection also covered four more parties for those interested:
FF+ 1.5%
ActionSA 1%
RISE 0.4%
BOSA 0.3% https://t.co/qj5D4CvD4s— Dawie Scholtz (@DawieScholtz) May 30, 2024
Indien die ANC minder as 45 persent van die stemme kry, bestaan daar ’n sterk moontlikheid dat Ramaphosa nie weer as president van die land verkies sal word nie. Dit sal waarskynlik dan die einde van sy politieke loopbaan wees. Dit is ’n ope vraag wie hom sal opvolg, maar die moontlikheid bestaan dat dit nie noodwendig iemand uit die geledere van die ANC sal wees nie, maar ’n kompromiskandidaat, soos die IVP-leier, Velenkosini Fiki Hlabisa.