’n Nuwe regering, ’n nuwe wêreldkampioen en ’n nuwe variant

  • 0
Eindelik ’n regeerooreenkoms

Na nie minder nie as 271 dae ná die nasionale verkiesing is ’n ooreenkoms uiteindelik bereik. Dit was die langste onderhandeling na ’n verkiesing in die geskiedenis van Nederland. Die proses is deur verskeie skandale en openbare verwyte gekenmerk. Die leier van D66, Sigrid Kaag, beskryf die ooreenkoms as “een mooi gebalanceerd akkoord”, Gert-Jan Segers van die ChristenUnie sê hy is “opgelucht dat het er op zit”, en Mark Rutte van die VVD noem dit ’n “goed akkoord”. Wopke Hoekstra van die CDA was effens minder entoesiasties toe hy die pers te woord gestaan het: “Ik ben blij dat wee ruit zijn. Het heeft lang geduurd. Het had iets van een tangverlossing.” Die vier koalisiepartye het intussen almal met die regeerooreenkoms ingestem.

Wat moet nou gebeur?

  • Woensdag word die ooreenkoms bekendgestel.
  • Donderdag of Vrydag word die ooreenkoms in die Tweede Kamer gedebatteer.
  • Premier Rutte soek nuwe ministers.
  • Kandidate ondergaan ’n veiligheidsklaring.
  • Hierna word die beoogde ministers se staatsekretarisse aangewys.
  • Die formasie sal na verwagting in Januarie voltooi wees.
  • Hierna sal die koning die formasie beëdig.
  • Rutte skryf dan ’n regeringsverklaring.
  • Ten slotte volg ’n debat in die Tweede Kamer oor die regeringsverklaring.

Wat staan in die ooreenkoms?

Tot dusver is die volgende bekend:

Omgewing en energie

  • Miljarde euro word geoormerk om die effek van klimaatsverandering te beperk.
  • Op lang termyn beplan die inkomende kabinet om ’n vorm van tolgeld in te stel ingevolge waarvan motoriste sal betaal vir elke kilometer wat hulle ry.
  • Die bou van kernkragsentrales sal ondersoek word om klimaatdoelwitte te bereik.

Onderwys en gesinslewe

  • Dagsorg vir kinders word grotendeels gratis.
  • Die leenstelsel in die onderwys sal hersien word.

Behuising en stikstofkrisis

Na verwagting sal miljarde aan die bou van wonings bestee word. Eerste kopers, bejaardes en huurders in die middelsegment moet voorkeur kry.

Wat die stikstofprobleem betref, is sake nog onduidelik. Die VVD en CDA praat van ’n spesiale fonds om boerderye uit te koop en die natuur te herstel, maar die ander koalisievennote moet nog duidelikheid oor hul benadering verskaf.

50% vroue

Regeringsverteenwoordigers sal met ses uitgebrei word en die helfte van die poste sal aan vroue gaan.

Lae Lande in ekstase ná Max Verstappen se oorwinning

Ondersteuners was Sondag op die punte van hulle stoele tydens die laaste Grand Prix-wedren van 2021 in Abu Dhabi. Verstappen het eerste weggespring, maar Hamilton het hom gou ingehaal. Naby aan die einde van die wedren het daar ’n ongeluk plaasgevind waartydens Latifi se motor die baan versper het. ’n Veiligheidsmotor is ontplooi wat daartoe gelei het dat Verstappen hom skielik (op nuwe bande) direk agter Hamilton bevind het. Met die voortsetting van die wedren het Verstappen sy kans aangegryp en daarin geslaag om Hamilton verby te steek om as wenner in die wedren te eindig. Daardeur het Verstappen die eerste Nederlander geword om die titel van wêreldkampioenrenjaer te beklee. ’n Emosionele Hamilton het Verstappen en sy span geluk gewens met die oorwinning, hoewel Mercedes nie so beïndruk was nie en gedreig het om teen die beslissing te appelleer. Nietemin was Nederlanders en Belge vol lof vir Verstappen se oorwinning. Hoewel Verstappen ’n Nederlandse burger is en in dié land skoolgegaan het, is hy in België gebore. Hy woon egter op die oomblik in Monaco.

Gelukwensinge van die koningshuis en regering

Verstappen se sege het selfs reaksie van die koning ontlok. Koning Willem-Alexander en koningin Máxima skryf op twitter: “Op achterstand bleef Verstappen tijdens de race zijn geduld bewaren. Tactisch sterk speelde zijn team ronde na ronde. Een bloedstollende slotfase.” Die koning en koningin het die wedren saam met hul kinders, prinsesse Amalia, Alexia en Ariane, op die TV gevolg. “Net als heel Nederland hebben ook wij vijven de races vol spanning gevolgd. Onze welgemeende felicitaties met het wereldkampioenschap,” aldus die koning en koningin.

Demissionêre eerste minister Mark Rutte het ook sy gevoel op Twitter gedeel: “Een historische dag voor de Nederlandse sport. Max Verstappen wint na een bizarre ontknoping de allesbeslissende race van het wereldkampioenschap in de Formule 1. @Max33Verstappen; gefeliciteerd met deze fenomenale prestatie. Werkelijk fantastisch!”

Rutte was tydens die wedren in die Catshuis in Den Haag besig om oor die bestryding van die koronavirus te vergader.

Fees in Belgies- én Nederlands-Limburg?

VRT berig die goewerneur van Nederlands-Limburg, Emile Roemer, is van plan om ’n groot fees saam met Belgies-Limburg ter ere van die kampioenrenjaer te organiseer. Verstappen se ouers kom van Belgies- en Nederlands-Limburg en volgens die goewerneur is dit genoeg rede om saam fees te vier. “Er moet geen strijd worden gestreden tussen steden. Het is een eerbetoon aan Max Verstappen. Het gaat erom waar hij zich prettig bij voelt. Het is gewoon een kwestie van samenwerking,” sê hy. Die goewerneur van Belgies-Limburg, Jos Lantmeeters, het al laat weet dat hy graag sal saamwerk aan so ’n fees. Dit is nog nie duidelik waar die fees beplan word nie, maar die uitstalsentrum, die MECC in Maastricht, het verlede week al bekend gemaak dat hulle ’n groot onthaal vir Verstappen wil hou.

Covid

Bekende viroloog is keelvol vir dreigemente

Die openbare ondersoeker in Nederland het die bekende viroloog Marion Koopmans gevra om ’n klag van aanlyn dreigemente te lê sodat die saak ondersoek kan word. Koopmans het Maandag op die sosiale media ’n aantal berigte gedeel waarin sy gedreig word. “Zullen we van dit soort zaken komend jaar echt werk gaan maken?” vra sy in ’n ope vraag aan die openbare ondersoeker. “Ik ben er wel klaar mee, eigenlijk,” sluit sy haar twiet af. In ’n onderhoud op NOS Radio 1 Journaal sê sy: “Het is niet zozeer dat ik er zelf last van heb, dat heb ik wel, maar dit is heel gewoon voor heel veel mensen. En ik vind dat het moet stoppen.” Die Erasmus Mediese Sentrum het intussen bevestig dat ’n klag wel gelê sal word.

Koopmans sê sy het dit al oorweeg om op te hou om boodskappe op Twitter te plaas – dieselfde platform waar sy ook talle dreigemente kry. “Maar mijn werk stopt niet en ik vind dat eigenlijk de omgekeerde wereld.”

Die openbare aanklaer sê intussen dat bedreigings teen mense in die openbare oog prioriteit geniet en sê: “Zij moeten zoals mevrouw Koopmans hun werk veilig kunnen doen en beschermd worden.” Die aanklaer sê egter sosialemediaplatforms moet ook verantwoordelikheid vir sulke dreigemente aanvaar.

Daar was darem ’n ligpuntjie ...

Inperking in Nederland tot 14 Januarie verleng

Tydens ’n nuuskonferensie Dinsdagaand het Mark Rutte aangekondig dat die landwye inperkingsmaatreëls in Nederland tot minstens 14 Januarie sal geld. Nederland sukkel steeds met ’n hoë besmettingsyfer en druk op hospitale, hoewel die druk die afgelope week gedaal het. Die vlieg in die salf is egter die nuwe omikronvariant wat weliswaar in Nederland nog nie juis hond haaraf maak nie, maar in Brittanje en Denemarke met rasse skrede versprei. Die voortgesette maatreëls beteken dit word maar ’n somber Kersfees, want nie meer as vier gaste mag op besoek kom nie. Winkels, restaurante, konsertsale en bioskope moet om 17:00 hul deure sluit en skole sluit ’n week voor die beplande Kersvakansie. Rutte het benadruk dat die effek van die omikronvariant in Nederland nog onduidelik is en dit kan beteken dat die beperkende maatreëls verder verskerp kan word.

18-jarige sterf in tronk in België

’n Jong man is Maandag in sy sel oorlede nadat hy Sondagaand in hegtenis geneem is. Die jongman het geen identiteits- of verblyfvergunning by hom gehad nie. Dit is nog onduidelik waaraan hy dood is, maar die voorval word ondersoek. Hy is aangekeer vir ’n geringe misdaad en het moontlik te veel medikasie gedrink. Die man het teen 14:00 die middag siek geword en die polisie het die ambulans gebel. Met die aankoms van die ambulans het paramedici vasgestel dat die man ’n hartstilstand gehad het. Hulle het probeer om hom by te bring, maar kon nie daarin slaag om sy lewe te red nie. Dit blyk dat die jong man vroeër ’n dokter besoek het, maar volgens die dokter was daar geen rede waarom hy nie toegesluit kon word nie. Die voorval word ondersoek.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top