Terwyl die meeste fokus met betrekking tot Suid-Afrika se komende algemene verkiesing op die verwagte onttroning van die ANC as nasionale regerende party is, is daar ewe veel wedywering tussen partye om beheer oor die Wes-Kaap by die DA af te neem.
Dit sal geen geringe taak wees nie, want nie ’n enkele mededinger het sover prominent na vore getree nie. Onlangse meningspeilings skep wel ’n bekommernis by die DA oor sy toekomstige posisie. Nie net dui die peilings op ’n verwagte daling in die ANC se steun op nasionale vlak nie, ook die DA se volstrekte provinsiale meerderheid, word voorspel, is in gedrang.
Die groot verskil tussen die twee regerende partye is in die mate waartoe hul prestasies gemeet word: In die ANC se geval sedert die party in 1994 begin regeer het; in die DA se geval vandat hulle in 2009 in die Wes-Kaap aan bewind gekom het.
Nou spog die ANC veral oor suksesse wat met die lewering van basiese dienste te make het (lopende water, elektrisiteit, behuising) en wat die swart meerderheid gedurende die apartheidsjare ontneem is. ’n Teenargument wat die party moet trotseer, lui dat dit ook die ANC was wat uiteindelik veroorsaak het dat dié nuwe begunstigdes van basiese dienste steeds dikwels sonder water moet klaarkom, vir lief moet neem met beurtkrag en in bouvallige huise moet intrek.
In die besonder hou die party egter armoedeverligting voor as ’n kritieke intervensie, indien nie as sy grootste prestasie nie. Die netto-effek daarvan is ’n onvolhoubare situasie dat byna 20 miljoen landsburgers van maatskaplike toelaes afhanklik geraak het, terwyl ’n bykomende 10 miljoen staatmaak op ’n tydelike verligtingstoelaag (oftewel die sogenaamde “threefifties”, ’n maandelikse toelaag van R350).
Wat laasgenoemde genoodsaak het, word verduidelik, is die inkrimping van die ekonomie en die gepaardgaande verlies aan werksgeleenthede wat deur die Covid-pandemie meegebring is. Nogtans maak die Wes-Kaap daarop aanspraak dat die provinsie dit die afgelope vyf jaar kon regkry – ten spyte van die skade wat Covid ook hier aangerig het – om 80% van alle nuwe werksgeleenthede in die land te skep. Addisioneel daartoe belowe die party ’n verdere 800 000 nuwe werksgeleenthede indien kiesers hom met ’n volstrekte meerderheid op 29 Mei toevertrou.
’n Volstrekte meerderheid gaan moeilik bekombaar wees as ’n mens peilings glo. In 2009 het die party die ANC uit die kussings gelig met ’n wenpersentasie van 51,5%; in 2014 was hy ander partye vér voor met ’n allemintige 59,38%, maar in 2019 het die party teruggesak tot 55,45%.
Hierdie scenario is veral toegeskryf aan ’n gevoel onder wit, Afrikaanse kiesers dat die DA hulle versaak het; dat die “swart agenda” onder Mmusi Maimane se leierskap ingetree het – jy het toe selfs “Amandla!”-krete by DA-saamtrekke begin hoor, wat eie aan die ANC en ander tradisionele bevrydingsbewegings is – en dat die VF Plus ’n beter tuiste sou bied. Maimane is gevolglik deur John Steenhuisen vervang en die DA het hom doelgerig begin toespits op Afrikaanse kwessies, soos om die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch te betwis.
Die struikelblokke tersyde, is daar een faset van die DA se prestasierekord met dienslewering in die Wes-Kaap wat nie betwyfel kan word nie en wat dit regverdig dat hy nou daarop kan aanspraak maak, soos hy inderdaad doen op verkiesingsplakkate en groot advertensieborde: “Die Wes-Kaap werk!” Maar vir wie werk dit? kap die ANC en ander teenstanders terug. Hoe lyk dinge in swart en bruin townships, vra hulle ook. In watter woongebiede vind jy die meeste slaggate wat nie vinnig genoeg herstel word nie en rommelhope wat nie verwyder word nie?
Dié teenstanders sluit partye in wat sonder enige aarseling hul verkiesingsveldtogte op die sogenaamde bruin stem rig. Gayton McKenzie se Patriotic Alliance is een; die National Coloured Congress van Fadiel Adams is ’n ander, asook die voormalige ANC-leier Marius Fransman se People’s Movement for Change. Hulle is die voorspelbare kompetisie – ook, natuurlik, die GOOD-party, ACDP en die VF Plus. Maar dan is daar die nuwe verskynsel waarvan die VF Plus ’n integrale deel is, naamlik die partye wat hulself beywer vir onafhanklikheid of afstigting vir die Wes-Kaap. Dit is onder andere die Cape Independence Party van Jack Miller en die nuweling Referendum Party gelei deur Phil Craig.
Die afstigtingsboodskap geniet aanhang nie slegs, soos sommige jou sal wil laat glo, onder Afrikaners wat kwansuis die Wes-Kaap wil “reserveer” vir “wit bevoorregting” nie. Peilings wat in die verlede aanlyn gehou is deur byvoorbeeld Craig se Cape Independence Action Group, is ook deur duisende bruin ondersteuners onderteken. Ook sien bruin inwoners daarin ’n geleentheid om hulself te beskerm teen die werklike bedreiging van “swart oorheersing”, gedagtig aan die negatiewe impak wat die ANC-regering se kwansuise gelyke indiensnemingsteikens op hulle het.
Natuurlik skop die ANC vas teen enige suggestie van “onafhanklikheid”. Dit word ook deur die party aangewend om die DA te beswadder wanneer dié uitsprake ten gunste van die afwenteling van magte gemaak word, ’n saak waarvoor burgerlike organisasies, soos die Kaapse Forum, hul ook beywer. Maar selfs al het die nasionale regering reeds ingestem daartoe dat die provinsie ’n staatsfunksie soos die bestuur van die spoornetwerk kan oorneem, word daar sedertdien voete gesleep met die inwerkingstelling van die ooreenkoms.
Weinig ’n politieke kommentator glo egter dat die ANC oor die vermoë beskik om die skade vanself te herstel wat oor die jare – onder bepaald Jacob Zuma as instaatsteller van staatskaping, maar ook daarna onder Cyril Ramaphosa – aan infrastruktuur en dienslewering in die land aangerig is. Die party pleit vir nóg ’n kans om te “herstel” en te “hernuwe”, maar ’n nuwe generasie partye uit swart (of nie-rassige) geledere, soos Rise Mzansi van Songezo Zibi, Maimane se Build One South Africa en Action SA onder leiding van Herman Mashaba, ding om dieselfde poel kiesers mee – ook wat die DA se ondersteuning betref.
Niks van wat teen die ANC op nasionale vlak tel, is van toepassing op die DA op provinsiale vlak nie. Maar weens die gesogtheid van die provinsie as ’n kroonjuweel in die land – vergeleke met ander provinsies – is daar meer as genoeg rede vir die ANC en ander partye om te strewe na die beste wetgewerkantore in die straat met die Nederlandse naam – Waalstraat – in die Moederstad. Dit is kompleet asof ons teruggekeer het na die dae van kolonialisme toe daar geveg is om beheer van die Kaap van Goeie Hoop.