“Mama, stuur vir ons ’n teken,” is die nuwe politieke spreuk waaraan Suid-Afrika bekendgestel is by die begrafnis van die struggle-ikoon Winnie Madikizela-Mandela, wat pas op 81 jaar gesterf het.
Dit was Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters (EFF), wat dié “Mama”-verwysing gebruik het om Madikizela-Mandela se politieke teenstanders en vyande – uit die verlede en hede, bepaald vanuit haar eie politieke tuiste (die ANC) – te looi.
“Stuur vir ons ’n teken” het ’n Bybelse betekenis; en die verskynsel dat plaaslike politici godsdiens byhark om die kieserspubliek te probeer oortuig dat hul party of leier ’n spesiale verhouding met die Skepper het, is lank nie meer vreemd nie.
Gedurende die ou apartheidsbedeling het die Nasionale Party-regeerders dit gedoen; hulle wou Afrikaners laat glo dat dié mensonterende stelsel (vir almal wat nie wit was nie) ’n Godgerigte plan was. In die meer onlangse verlede het oudpresident Jacob Zuma ’n paar keer die “politieke professie” uitgespreek dat die ANC, wat sedert 1994 aan bewind is, die land sal regeer “totdat Jesus kom”.
En sowat twee weke gelede het die vrou van die amptelike opposisieleier, Mmusi Maimane van die DA, by die party se nasionale kongres groot gewag gemaak van sy vroeëre rol as pastoor. Ook by dié geleentheid het die party se Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, ’n ou Sondagskoolkoortjie, “Klim op die wa”, aangepas deur “Jesus” met “die DA” te vervang: “Klim op die wa/ klim op die wa/ klim op die DA se wa,” het hy gesing, “almal wat die DA liefhet/ klim op die DA se wa.”
Die nuuskanaal eNCA se verslaggewer by die kongres het op sosiale media ’n video geplaas van Madikizela wat die liedjie sing. Hy wou by die publiek weet wat dié “nuwe struggle-lied” van die DA is.
Niemand hoef egter dié soort versoek op sosiale media te geplaas het toe Malema, gewild as ’n voorslag-orator, by die begrafnis van die “Moeder van die Nasie” en voormalige vrou van Nelson Mandela sy pleidooi gelewer het dat sy ’n teken moet stuur nie.
Sosiale media het vanself kennis geneem – en behoorlik ontplof – met variasies van sy refrein “Mama, stuur vir ons ’n teken” oor wat om te doen met haar vyande en diegene wat haar glo uitverkoop het aan die veiligheidspolisie en polities vir die wolwe sou gegooi het.
Die variasies het gewissel van ander politiekverwante stellings tot koerantredakteurs wat vra dat “Mama” ’n sein moet stuur oor wat hulle moet doen aan diegene wat gedurig skakels vra na artikels aanlyn, maar nie die koerant wil koop of wil inteken op die aanlyn aanbod nie.
Malema se “Mama”-spreuk het selfs meer aftrek getrek as president Cyril Ramaphosa se aanhaling van ’n Hugh Masekela-jazztreffer, “Thuma mina”, in sy staatsrede vroeër. Dit beteken “stuur my”, oftewel gee my ’n rol om te vertolk of ’n taak om te verrig. Ramaphosa het dit as ’n oproep aan Suid-Afrikaners gebruik om – in die gees van sy “nuwe era”-verklaring – skouer aan die wiel te sit met die herstel van die land se beeld ná die Zuma-treurmare.
Omgekeerd was Malema se “gesprek” met Madikizela-Mandela duidelik daarop ingestel om ander te verneder, om verdeling te saai en om politieke munt uit Madikizela-Mandela se dood te slaan. “Hoekom het jy gegaan voordat jy vir ons gesê het wat ons moet doen met jou vyande?” het Malema in sy denkbeeldige gesprek met Madikizela-Mandela gevra. En hier was die politieke judasse in snyerspakke en in prominente rolle by die begrafnis, het hy benadruk, en sommige van hulle stort krokodiltrane.
Die boodskap wat Madikizela-Mandela wél baie duidelik oorgedra het – vóór sy gesterf het – was dat Malema en die ander EFF-lede wat voorheen ANC- of ANC Jeugliga-lede was, na die “ANC-huis” moet terugkeer.
Om dan by die Bybelse verwysings te hou: Oor of die “verlore seun” wel só sal maak en, indien wel, wanneer hy dit gaan doen en wat die politieke “silwermuntstukke” sal wees wat hom sal aanpor om dié stap te doen, hang daar ’n rooi, vet vraagteken.
Maar dit sal die ANC baat om in die aanloop tot die 2019 algemene verkiesing ag te slaan op hoe die EFF as koalisievennoot teenoor byvoorbeeld die DA optree waar die twee partye saam regeer. Basies kom dit daarop neer dat húlle die kitaar wil slaan, die “beleidsritme” wil bepaal en van die ander verwag om gewoon met instemmende danspassies in te val.
Buro: MvH