Afrikaans het hierdie week op waarskynlik die mees onverwagse wyse erkenning gekry toe pres Cyril Ramaphosa hom midde-in sy stryd teen [beweerde] korruptes in die regerende ANC, wat hy lei, tot ’n gesegde in Afrikaans gewend het om homself teen striemende aanvalle van onder andere sy voorganger te verdedig.
Die storie het sy oorsprong by twee naweke gelede se brief wat Ramaphosa aan ANC-lede gerig het om die sweep te klap teen die korrupsiepandemie wat die party kenmerk, indien nie lamlê nie, en wat veroorsaak dat dit daagliks geloofwaardigheid wegbloei.
Terwyl korrupsie egter niks nuuts is in die geledere van ANC-lede en -leiers nie – draai die horlosie terug tot by die opspraakwekkende Strategiese Verdedigingspakket, oftewel die berugte “wapenskandaal”, gedurende die Mandela-era – het dit met die aanslag van die COVID-19-pandemie ’n nuwe dimensie aangeneem.
Dit is anders as enige vorige voorkoms van korrupsie in Suid-Afrika, wat voorheen die hoogtepunt van skandale bereik het – gedurende die Jacob Zuma-era – met wat nou as “staatskaping” bekend is. Soos die wapenskandaal vroeër, is daar ook nou ’n geregtelike kommissie van ondersoek deur die staat aangestel. Waarvoor baie Suid-Afrikaners egter bid, is dat meer skuldiges hierdie keer aan die pen sal ry as wat die geval met die wapenskandaal was.
Slegs maar die voormalige ANC-LP Tony Yengeni het tronkstraf hiervoor uitgedien, terwyl Zuma se kamtige finansiële adviseur, Shabir Shaik, sý gevangenisstraf (onder meer weens betalings wat deur die Franse maatskappy Thales via hom aan Zuma gemaak is), in ’n tronkhospitaal deurgebring het en toe op mediese parool vrygelaat is omdat hy kwansuis “dodelik siek” was.
Nadat Zuma in 2009 by oudpres Thabo Mbeki oorgeneem het, het die indruk ontstaan – en getuienis voor die Zondo-kommissie na staatskaping bevestig dit – dat hy so te sê die PIN vir die staat se ATM-kaart aan sy vriende en politieke bondgenote oorhandig het. Die Gupta-broers, oorspronklik van Indië, was voor in die ry – met “gunste” wat die bespoediging van burgerskap insluit, insae in hoogs geheime kabinetsdokumente en kontrakte en tenders ter waarde van miljarde rande in sektore so uiteenlopend soos die media en die mynwese.
Dit het ’n hofuitspraak gekos om Zuma uiteindelik te dwing om uitvoering te gee aan ’n aanbeveling van die voormalige openbare beskermer, adv Thuli Madonsela, dat ’n geregtelike kommissie van ondersoek na “staatskaping” aangestel moet word. Nou maak hy aanspraak op erkenning dat hy dit wel gedoen het, maar toe hy self voor die kommissie verskyn het, het hy eerder die geleentheid gebruik om sy afkeer van die term staatskaping in ’n lang relaas duidelik te maak.
Terwyl die kommissie se werk deur die uitbreek van die koronavirus gekortwiek is (sittings is intussen hervat), het ’n ander soort pandemie egter ook hier uitgebreek, naamlik die onbehoorlike toekenning van kontrakte en tenders vir die verskaffing van persoonlikebeskermingstoerusting.
Maatreëls vir aankope deur die staat is in baie gevalle verslap – moontlik gemaak deurdat ’n rampstaat middel-Maart afgekondig is. Algaande het dit egter aan die lig gekom dat veral ANC-gesinde of -verwante sakelui, individue en maatskappye hierdeur bevoordeel is – selfs die man van die presidensiële woordvoerder, Khusela Diko, is as ’n begunstigde van ’n multimiljoenrandtender ontbloot. Dié is toegeken deur die Gautengse departement waarvan die man van ’n persoonlike vriendin van Diko die politieke hoof is.
Nou is Khusela Diko met spesiale verlof en moes sy reeds aan die ANC se provinsiale leierskap hieroor verantwoording doen. Dit is gevolg deur verskeie uitsprake deur Ramaphosa (in sy weeklikse nuusbrief as staatshoof en bepaald wanneer hy die nasie oor vordering met die bekamping van die COVID-pandemie toegespreek het) dat dit ’n absolute skande is dat korrupsie met die verskaffing van persoonlikebeskermingstoerusting gepleeg word – én, ewe afstootlik, dat ook diensverskaffers in die private sektor pryse skandaliglik kunsmatig skerp verhoog het.
Die President het die uitbuiting en selfverryking te midde van ’n dodelike pandemie gelykgestel aan hiënas wat rondom prooi saamdrom.
Nou het hy hom die gramskap van vername (of ten minste bekende) kamerade op die hals gehaal deur in die brief aan partylede die ANC selfs as “Beskuldigde Nommer Een” in die korrupsiebeskuldigdebank te plaas. Hoe durf hy? wou Zuma in ’n teenbrief weet. Waarom nie net die individue voor stok kry wat hulle aan korrupsie skuldig maak nie, maar ook tot die stigtingsleiers van die party op dié wyse betrek? En wat van die miljoene wat deur “witmonopoliekapitaal” geskenk is vir Ramaphosa se leierskapveldtog om ANC-leier te word? En waarom neem Ramaphosa nie die land in sy vertroue deur te antwoord oor of enige van sy maatskappye besigheid met die staat gedoen het toe hy adjunkpresident (onder Zuma) was nie?
Dié briewe-oorlog – saam met teen-Ramaphosa-uitsprake deur onder andere Yengeni – het ’n spesiale nasionale uitvoerende-komitee-vergadering van die party die afgelope naweek voorafgegaan. Hiertydens het Ramaphosa die mat onder sy vyande uitgeruk deur vanself aan te bied om oor die vingerwysery na hom voor die ANC se integriteitskommissie te verskyn.
Dit het hom die hef in die hand gegee deur die vergadering ook so ver te kry om besluite te neem oor hoe opgetree moet word wanneer lede van korrupsie beskuldig word (onder meer: doen verantwoording voor die integriteitskommissie; neem spesiale verlof). En om sý brief – in teenstelling met Zuma s’n – te ondersteun as ’n getroue weergawe van ANC-beleid, asook van die resolusies wat by die party se 54ste konferensie in Desember 2017 aanvaar is, waar hy verkies is, júís ook wat betref bewerings van korrupsie.
Ramaphosa se leidende rol Maandag by die gebruiklike mediakonferensie wat op ’n NUK-vergadering volg, het uit die staanspoor ’n boodskap gedra dat hy seëvierend uit die stryd getree het, en nie die (bedenklike en vermeende korrupte) sekretaris-generaal, Ace Magashule, nie – normaalweg sou Magashule as sekretaris-generaal die mediakonferensie gelei het.
Joernaliste wou vanselfsprekend weet of Zuma se brief bespreek is, wat die President oor die kritiek op hom te sê het, en of hy beledig voel deur die aanval van sy voorganger. Wát en hóé hy geantwoord het, het eweneens ’n verskuiwing aangedui: Ramaphosa het gesê as partyleier ontvang hy talle briewe en hy steur hom byna nie eens aan die Zuma-brief nie; dit is nie bespreek nie; hy het géén voorneme om dit te beantwoord nie; die party het op enige gegewe oomblik slegs één hoofleier wat die reg het om met lede te kommunikeer; en hy voel nie maklik beledig nie.
Dit is tóé dat hy die bekende gesegde ingespan het. “As they say in Afrikaans,” het hy in Engels afgesluit, en glimlaggend, en in foutlose Afrikaans gesê: “Die hoogste boom vang die meeste wind.”
Om te kan bly staan, het só ’n boom egter sterk wortels nodig – en seker vir die eerste keer sedert Ramaphosa in Februarie 2018 staatshoof geword het, toe Zuma gedwing is om te bedank, het hy Maandag stewig in die saal voorgekom.
Buro: MvH