Proxima
Geskryf en geredigeer deur Alice Winocour
Vervaardig in Frankryk
Proxima (2019) is ’n Franse film wat op die onlangse Europese Filmfees gedraai het. Dit handel oor Sarah Loreau, ’n Franse ingenieur wat reeds haar lewe lank werk aan die droom om eendag ’n ruimtevaarder te wees.
Sy raak verlief op ’n Duitse ingenieur wat robotte ontwerp om ruimtevoorwerpe soos Mars en Venus te verken. Hulle kry saam ’n kind, maar die vennootskap hou nie en so eindig Loreau as ’n enkelma van ’n sewejarige.
Dan, skielik, gaan daar ’n plek oop in ’n komende ruimte-ekspedisie en Sarah word gekies om daardie sitplek te vul.
Sitplek? Ja, want die Soyuz-kapsule waarin sy en haar twee ander navorsers gelanseer gaan word, kan net drie ruimtevaarders neem. Boonop word elke ruimtevaarder se sitplek gegiet volgens haar/sy liggaam. Een persoon kan nie bloot ’n ander se sitplek inneem nie.
Meer nog: Dit neem jare se opleiding, maande se voorbereiding en intense weke waartydens elke laaste prosedure oor en oor ingeoefen word voor jy in daardie kapsule mag klim.
Nasa betaal die Russe klaarblyklik US$90 miljoen per sitplek op elke Soyuz-lansering, so dit is nie ’n goedkoop besluit om iemand die ruimte in te stuur nie.
Net die beste word gekies.
Maar selfs die beste is vervangbaar.
Die titel sê reeds iets van die vervangbaarheid.
Hoewel Proxima nie ’n duidelike betekenis het nie – beslis nie vir my nie – is daar twee goed wat uitstaan. Die eerste is dat dit na ruimtelikheid verwys – veral dan liggame in proksimiteit tot ander – maar in Spaans beteken próxima ook gewoon “volgende”.
Hierdie film is veeltalig. Ons hoor Frans, Duits, Engels en Russies. Daar is selfs ’n dowe kind wat met gebaretaal praat. Die veeltaligheid van die titel moenie onderskat word nie.
Volgende
Sarah Loreau is nie aanvanklik gekies vir die program waartydens drie ruimtevaarders ’n jaar lank in die Internasionale Ruimtestasie (ISS) sou gaan bly nie. Dié missie gaan die gemoed en uithouvermoë toets van diegene wat ’n vlug na Mars sal onderneem.
Sy is dus die “volgende” keuse, die proksie.
Loreau is ook vervangbaar, want wanneer sy opdaag in Sterstad, die Russiese opleidingsentrum van waar die Soyuz vertrek, ontmoet sy reeds haar “skaduwee”, die man wat in haar plek sal opgaan sou iets met haar gebeur. Hy neem deel aan al die oefeninge en word net so goed soos sy voorberei. Daar is altyd ’n volgende ...
In verhouding tot ander
Sarah Loreau is ’n briljante ingenieur, maar sy is ook ’n vrou.
Wanneer haar deelname aangekondig word, is die manlike Amerikaanse spanleier se kommentaar dat hy bly is oor haar nasionaliteit, want hy het goeie goed gehoor oor Franse vroue se kookvernuf.
Dan is sy ook ’n ma, boonop ’n enkelma.
Die Amerikaanse spanleier het twee seuns, maar hulle word deur hulle ma versorg.
Loreau se weggenoot is ’n wetenskaplike wat self voltyds werk ...
Alice Winocour se film verval nie in eenvoudige stereotipes nie. Dit sou verkeerd wees om die einde te verklap, maar dit kan gesê word dat elkeen van die karakters interessante keuses moet maak.
Die ma-wees en vrou-wees plaas egter wel vir Loreau op die agtervoet. Sy moet die hele tyd harder werk om haarself te bewys in verhouding tot die twee mans wat saam met haar opgaan, en hoe meer die Amerikaner vir haar sê sy moenie, hoe meer twyfel sy of hy haar raaksien vir meer as net haar aansienlike lyf.
Hoe verder die opleiding vorder, hoe verder dryf sy en haar dogter van mekaar weg.
Tog wil ek weer sê: Moenie ’n stereotiepe einde verwag nie.
The right stuff?
In die vorige eeu het Tom Wolfe The right stuff geskryf en Philip Kaufmann het ’n film daarvan gemaak wat uiteindelik vier Oscars verower het.
The right stuff het gehandel oor die Amerikaanse loodse wat die vroeë fases van ruimtevaart moontlik gemaak het.
Daar is losse ooreenkomste tussen Proxima en The right stuff, maar Woolfe se teks was ’n manlike, testosteroongedrewe wêreld. Alice Winocour vra of vroue, selfs ma’s, nie dalk ook van die regte stoffasie mag wees nie.
Proxima is fiksie, maar teen die einde van die film is daar ’n kort huldeblyk aan die talle ware vroue wat reeds bewys het hulle is goed genoeg om met mans mee te ding om ’n sitplek na die ruimte. Talle van die ware heldinne is saam met hulle kinders afgeneem.
Sarah Loreau is gespeel deur Eva Green wat bekroon is as die beste akteur (eintlik aktrise!) vir hierdie rol in Frankryk se jaarlikse César-toekennings.
Matt Dillon was in die rol van Mike Shannon, die Amerikaanse spanleier, Aleksey Fateev was as Anton Ocheivsky bestem vir die ander sitplek en Zélie Boulant het die bloedjong, veeltalige Stella Akerman Loreau gespeel.