Vier grootste partye in verkiesing
PVV: Partij voor de Vrijheid
Partyleier en fraksieleier in die Tweede Kamer: Geert Wilders.
Rigting: Ekonomies: sentrum-links. Sosiaal-maatskaplik: konserwatief regs (populisties).
Ideologie: regspopulisme, nasionalisme, anti-Islam, Euroskeptisisme.
Gestig: 2005.
GL-PVDA
’n Nuwe samewerkingsverband van die politieke partye
GroenLinks en Partij van de Arbeid (PvdA)
Partyleier: Frans Timmermans.
Fraksieleier in die Tweede Kamer: Jesse Klaver.
Rigting: Links.
Ideologie: Sosiale demokrasie en groen politiek.
Gestig: 2023.
VVD: Volkspartij voor Vrijheid en Democratie
(Van 2010 tot 2023 was Mark Rutte van die VVD minister-president van Nederland.)
Partyleier: Dilan Yesilgöz-Zegerius.
Fraksieleier in die Tweede Kamer: Sophie Hermans.
Rigting: Sentrum-regs.
Ideologie: Ekonomies-liberaal, konserwatief-liberaal.
Gestig: 1948.
NSC: Nieuw Sociaal Contract
Partyleier: Pieter Omtzigt
Fraksieleier in die Tweede Kamer:
Rigting: Sentrum tot regs
Ideologie: Christendemokrasie, sosiaal-konserwatisme
Gestig: 2023
Foto: Małgorzata Tomczak | Pixabay
Verlede week was ’n swart week vir die Nederlandse politiek toe Geert Wilders se regspopulistiese PVV in die Tweede Kamer-verkiesing ’n verpletterende oorwinning behaal het. Met 37 uit 150 setels het hulle ongeveer 25% van die totale setels gewen, ’n groot sprong in populariteit vanaf hul vorige 17%. En boonop ook die party wat die meerderheid stemme onder jongmense gekry het.
Almal is stomgeslaan. Of so voel dit vir my as ek met mense hieroor praat, of reaksies op sosiale media sien verbykom. Maar nié almal kan stomgeslaan wees nie, want hoe sou dit dan moontlik wees dat ’n verregse party die meeste stemme – een uit elke vier! – kon kry. Die gevolgtrekking waartoe ek kom: Ek leef waarskynlik in ’n borrel. Maar ook: Mense wat dieselfde dink en voel, trek maar altyd na mekaar toe, nie net in hul vriendekring nie, maar ook op sosiale media. En met die veronderstelling dat jou idees deur die meerderheid “regdenkende” mense gedeel word, is dit maklik om op jou louere te rus.
Maar dis tyd om te gaan dink oor hoe dit moontlik was dat so iets kon gebeur.
Daar is ’n hele paar krisisse waarmee Nederland die afgelope tyd te kampe het, maar veral drie daarvan, wat ook op mekaar inspeel, het waarskynlik ’n groot rol gespeel in die onlangse kiesersgedrag. Natuurlik is daar baie ander faktore wat ook ’n rol gespeel het, maar ek gaan my hierby bepaal.
Die eerste krisis is die instroming van vreemdelinge wat die afgelope 13 jaar enorm toegeneem het vanweë die oorloë in Sirië en Oekraïne. Daarby kom die voortdurende vloei van ekonomiese vlugteling uit Afrika en arbeidsmigrante uit Oos-Europa wat vir die Nederlandse ekonomie broodnodig is, maar wat vir die PVV ’n doring in die vlees is en wat hulle vinniger wil sien vertrek as wat hulle gekom het. Dan is daar ook internasionale studente.
Die vloed van immigrante bring die klein en alreeds digbevolkte Nederland se woningnood – die tweede krisis – onder nóg meer druk, want ons ken die wet van vraag en aanbod: hoe groter die aanvraag, hoe hoër die prys. Die gevolg is dat huispryse in Nederland die hoogte ingeskiet het. Jongmense wat dié mark vir die eerste keer wil betree, kom dus voor ’n betonmuur te staan: Huise is vir hulle onbetaalbaar duur en eintlik eksklusief beskore vir diegene wat alreeds ’n huis het of wat ’n besonder goeie inkomste het. Ook studente het hiermee te kampe, want akkommodasie in die stede, waar die meeste universiteite geleë is, is nie net onbekostigbaar duur nie, maar ook byna onmoontlik om te vind – Amsterdam, maar ook Leiden staan bo-aan die lys.
Maar hoekom word daar nie net meer huise of woonstelle gebou nie? Daarby kom ek later, want dit sluit weer aan by die derde krisis – nie een van hulle staan regtig op sy eie nie – die drie is met mekaar verstrengel en speel op mekaar in.
Die probleem van bekostigbare huisvesting lei vanselfsprekend tot woede en ontevredenheid onder studente, jong werkende mense en ook diegene uit ’n lae-inkomste-kategorie. Boonop voel mense uit die laasgenoemde kategorie dikwels ook dat asielsoekers en immigrante onregverdig voorkeur kry by die toewysing van behuising. Mens hoef nie oor besondere intellektuele gawes te beskik om te weet dat hierdie soort onvrede tot ’n toename in nasionalistiese sentimente lei nie. Die stemkrag van arm mense moet ook nie onderskat word nie, want die toename in armoede is deesdae ’n groot punt van kommer in Nederland. Iets meer as 800 000 mense (van wie 220 000 kinders is) leef op die oomblik onder die armoedegrens (in Nederland word dit in 2023 bereken as €1 533 per maand) en die Centraal Planbureau verwag dat dit volgende jaar tot byna ’n miljoen sal styg – mense wat nie genoeg geld het vir voedsame etes, verwarming en klere nie.
Verdere klagtes oor die instroming van asielsoekers en arbeidsmigrante is dat die gewone burger bedreig voel in sy of haar kultuur en veiligheid – woonbuurte verander van samestelling en daar moet rekening gehou word met ander maniere van doen, met ander kulture, tale en gelowe. Wanneer immigrante betrokke is by misdaadinsidente word dit maklik voer vir veralgemenings – “Immigrante is misdadig, gewelddadig en stel ons Nederlanders in gevaar” – en lei tot toenemende xenofobie asook islamofobie.
Om terug te keer na internasionale studente en waarom hulle soms ook in die spervuur beland wat op die instroming van vreemdelinge gemik is: Hulle word nie net verkwalik daarvoor dat hulle akkommodasie ontneem van Nederlanders nie, maar ook dat hulle die aard en kultuur van Nederlandse universiteite verander deurdat Engels toenemend as akademiese voertaal gebruik word en dat Nederlands as wetenskaplike taal daardeur in waarde afneem.
Die derde krisis wat die land beleef, en wat ook verlede week ’n invloed op stemgedrag gehad het, het te make met die wêreldwye stikstofkrisis en die gevolglike stikstofmaatreëls wat die Europese Kommissie ingestel het om hierdie probleem in Europa aan te spreek. Veral op twee gebiede het dit ’n groot invloed op die Nederlandse samelewing en dus op hul stemgedrag.
Die eerste gebied is dat dit groot beperkinge gebring het in die boubedryf, wat die bou van ekstra behuising radikaal beperk. Die gevolg: Die woningnood word onuithoudbaar en die burgers vyandig ten opsigte van de regering.
Die tweede is dat daar al hoe meer druk op die boere is om hul veetroppe steeds kleiner te maak sodat die land aan die Europese Unie se eise kan voldoen. Dit het die boere onlangs in groot konflik met die regering gebring, sigbaar vertoon in die protesversperrings op belangrike paaie, en oral op die platteland die hys van omgekeerde Nederlandse vlae. So het ook die agrariese sektor – nie ’n sektor om te onderskat as dit by die stembus kom nie – regeringsvyandig geword.
Met slegs 25% setels kan ’n party nie ’n regering vorm nie, en daarom sal die PVV in koalisie met ander partye moet tree. Die partye wat tweede, derde en vierde plek ingeneem het in die verkiesingsuitslag sal die sterkste oorweeg word: die linkse GL-PVDA (25 setels), die nuwe samewerkingsverband van GroenLinks en Partij van die Arbeid; die VVD (24 setels), ’n sentrum-regse party, wat vir lank die grootste in Nederland was en die afgelope 13 jaar tot die uittrede van Mark Rutte as minister-president regeer het (Rutte word nou opgevolg is deur Dilan Yesilgöz-Zegerius van Koerdies-Turkse afkoms, sedert Januarie 2022 minister van justisie en veiligheid in die kabinet-Rutte IV); die splinternuwe Nieuw Sociaal Contract (20 setels), ’n Christen-demokratiese en sosiaal-konserwatiewe party onder leiding van Pieter Omtzigt.
Die koalisievorming gaan nie ’n eenvoudige saak wees nie, want behalwe die BBB (BoerBurgerBeweging) – ’n party wat die leefbaarheid van die platteland en die landbousektor as prioriteit het (7 setels) – wil niemand sonder voorbehoud met Wilders in ’n koalisie gaan nie. Wat gevrees word, is dat hy dalk koalisietoenadering sal soek by Thierry Baudet se Forum voor Democratie (3 setels), ’n radikaal-regse, Euroskeptiese populistiese party.
Hoe nou verder?
’n Verkenner gaan binnekort aangewys word wat op versoek van die PVV en met instemming van die ander partye ondersoek gaan instel na watter koalisies moontlik is. Dit gaan lank duur voor die bal aan die rol gaan kom. Baie lank.
Dat boere, jongmense, burgers uit die laer-inkomste-groep, maar ook ander burgers wat geraak is deur die drie genoemde krisisse of ontnugter is deur die VVD se steeds toenemende flaters (’n onderwerp om elders onder die loep te neem) en verlies aan respek, nie meer vir die VVD sou stem nie, was redelik seker, maar dat ’n meerderheid van die stemme na Wilders se PVV sou gaan, bly inderdaad ’n skok. Maar tog, as mens alle punte van ontevredenheid hier bo genoem in ag neem, is dit nie ingewikkeld om te besef dat Wilders se nasionalistiese, xenofobiese en anti-elitistiese (ook teen die intellektuele en kulturele elite) uitsprake met baie mense se vrese resoneer, dat sy klem op die beskerming van die Nederlandse burger baie mense se behoefte aan veiligheid aanspreek, dat sy aandrang op die burger se reg op ’n woonplek, om bo die armoedegrens te lewe en sy volksgoed beskerm te sien, op baie mense se hoop inspeel nie. Dit was seker kortsigtig om nie te besef dat dít die rigting is waarheen die stemme sou vloei nie. Veral as mens ook besef dat die linkse partye, vanweë hul humanitêre en “groen” ingesteldheid, nie die instroming van vlugtelinge en asielsoekers drasties wil beperk nie en alles sal doen om gehoor te gee aan die Europese Unie se maatreëls om die stikstof- en klimaatkrisis in te perk.
Maar in so ’n geval, waar die verkiesingsuitslag swaar beïnvloed word deur ’n paar tydsgebonde brandpunte waardeur emosies enorm oploop, en dat ’n koalisieregering wat daaruit gevorm word, waarskynlik min slaankrag gaan hê, is die kans groot dat die regering vinnig sal val. Die Nederlandse politiek gaan, hoe dan ook, ’n periode van groot onstabiliteit tegemoet.