’n Taai besluit: die media besin oor ’n boikot van ’n politieke party

  • 0

Moet, of wil, die nasionale media van ’n land die stem van ’n politikus en sy party snoer?

Gegewe die veelgeroemde tydperk van demokrasie wat Suid-Afrika na 1994 betree het, duik die omvang van die demokratiese reg van vryheid van spraak op in ’n vraagstuk wat die media self moet hanteer.

Die politieke party Economic Freedom Fighters (EFF) het die plaaslike media getart tot die punt waar dit duidelik geword het dat dié party daarop uit is om ongebreidelde uitsprake en dreigemente te maak. ’n Vooraanstaande joernalis, Max du Preez, het die ongewone voorstel gemaak dat die EFF wel deur die media geboikot word.

Die kwessie van misbruik van die openbare media terwyl vryheid van spraak hoog aangeslaan word het ’n intense gesprek oor die rol van die media ontlok.

Die EFF, tans met 6% verteenwoordiging in die parlement, het ’n drasties sosialistiese rigting ingeslaan, met uitdagende populisme en gepaardgaande vertoon van openbare protesaksies daarby.

Hulle charismatiese leier, Julius Malema, bekend as die commander-in-chief van die party, en ’n uiters aaskoulike en soms hoogs onverantwoordelike stadspleinorator, het nie alleen die media sogenaamd verbied om met hom en sy kaders te praat nie, maar ook ’n minster ’n hond genoem, en na ’n regsgeleerdes verwys as ’n “bastard”. (Suid-Afrika het ’n streng verbod op vernederende taal, veral op rasgebied. Sekere dierverwysings mag glad nie in die openbare gesprek gebruik word nie. Malema sal dalk nie met sy “hond”-verwysing aan veroordeling ontkom nie.)

Reeds bekend vir sy parlementslede se rumoerige optrede tydens debatte, waar hulle, geklee in sogenaamde werkersdrag van rooi oorpakke en skoonmakersjurke, die speaker uittart, en selfs handgemeen met opposisielede raak, roem die party hom daarop dat hy die laer werkersklas verteenwoordig. Nogtans word duur samekomste en reise onderneem.

Julius Malema, nog nie 40 jaar oud nie, en sy kohorte, skreeu en wys met handgebare minagting. Hulle is duidelik baie bewus van die TV-dekking en ook die hoofopskrifte in koerante wat hulle weens hierdie gedrag ontvang.

Tydens die opspraakwekkende verhoor oor sg staatskaping wat tans in Johannesburg plaasvind, het die EFF sy ondersteuners (onder meer ook ’n “rent-a-crowd”-skare) op Whatsapp opgekommandeer om buite die verhoorsaal in die straat te vergader en deur dreunsang en uitlokkende toesprake die gesprek in die verhoor te versmoor om die verhoor onder verdenking te bring.

Hierdie optrede, wat deur die media ook gesien is as desperate pogings om die vingerwysing na ongerymdhede binne die party weg te stuur, is die gevolg van onlangse skokkende wangedrag van die party.

’n Ongekende bankskandaal is onlangs blootgestel toe die bank wat gestig was om armer mense tot diens te wees, rot en kaal deur sy eie base besteel is. Arm mense het hul lewensbelangrike beleggings verloor.

Onlangs het ’n ondersoekende joernalis, Pauli van Wyk, bevind dat die onderhoof van die EFF, Floyd Shivambu ongeveer R10 m (sowat $160 m) uit hierdie bank gekry het. Daar het later bewyse gekom dat die EFF ook op ander maniere deur die bank befonds is.

Die EFF het onder sy hoofleier geweier om hierop direkte antwoorde te gee, maar het toe ’n histrioniese aanval op die joernalis gerig en haar as ’n “satan” beskryf. Ook het die party, as verdere moontlike afleiding, ’n veldtog teen ’n gewilde minister, Pravin Gordhan, wat ook ’n fluitjieblaser geword het in die onthullings van staatskaping, geloods. Eienaardig genoeg was hierdie selfde minster tot so onlangs soos drie weke gelede nog baie hoog aangeskryf deur die EFF.

Malema het ook met baie vingerwysings die belangrikste media aangesê om geen onderhoude met hom te voer nie.

Hierdie uitspraak is wyd gerapporteer. Maar dit was duidelik dat Malema en sy kohorte inderdaad geteer het op die kamerateenwoordigheid by sy proteste.

Voorts het Malema die uitnodiging van die Suid-Afrikaans Redakteursforum (South African National Editors' Forum, of Sanef) tot ’n gesprek geweier. Hierdie waghondinstelling van die media was ook besorg oor EFF-uitlatings dat die party “decisively” sal optree teen joernaliste. Hierdie optrede het herinner aan toe Malema as ANC-lid in 2008 gesê het: “We are prepared to take up arms and kill for Zuma” – verwysend na die vorige staatspresident.

Max du Preez se voorstel dat die EFF tot ’n mate geboikot word en dat daar slegs wanneer die uitsprake en EFF-geleenthede nuuswaardig is, oor die party gerapporteer word, het hom laat ontken dat hy sensuur voorskryf, maar hy het wel daarop gewys dat die publieke mening verwring word wanneer grootbek groepe die nasionale diskoers wil oorheers.

Die uitdaging is dan, volgens Du Preez, vir die media om self te besluit oor watter uitsprake van die EFF – of dan miskien ook van ander politieke groeperinge – berig sal word.

Du Preez se waarskuwing oor die media se verantwoordelikheid om nie die nasionale diskoers uit te lewer aan grootbek groepe nie en eerder te oordeel of die uitsprake of geleenthede enigsins nuuswaardig is, het nóg ’n vraag laat opduik: Wanneer is uitsprake of geleenthede nuuswaardig?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top