*Ten tyde van hierdie skrywe het Ryanair nog nie die Afrikaanse taaltoets vir Suid-Afrikaanse passasiers wat op hul vlugte die Verenigde Koninkryk wil binnereis, laat vaar nie.
Die verontwaardiging oor die Ierse laekoste-lugdiens Ryanair se Afrikaanse taaltoets vir Suid-Afrikaanse passasiers wat op hul vlugte die Verenigde Koninkryk wil binnereis, is te begrype.
“Waarom ’n Afrikaanse toets as die land nog tien ander amptelike tale het (en nommer twaalf, gebaretaal, staan ook gereed)?” word gevra. Hoekom taal as die bepaler van die passasier se “Suid-Afrikaansheid” inspan?
.....
Maar ek vermoed dat die Ryanair-omstredenheid ook aan die Afrikaanssprekende gemeenskap ’n geleentheid bied om die goeie van die taal op die voorgrond te plaas. Ons moet die slegte publisiteit teenwerk deur die (Engelssprekende) wêreld daaraan te herinner dat Afrikaanssprekendes hul taal omvorm het van ’n “minderwaardige”, “kombuis” en verdelende taal tot ’n wetenskaps-, sake-, innoverings-, kreatiewe, versoenings- en toekomsgerigte taal; ’n taal wat verwelkomend, insluitend en omhelsend aanslae trotseer, vanself opstaan, afstof en aanhou vorentoe beur.
.....
Die lugdiens se beweegrede vir so ’n “veiligheidstoets”, naamlik (soos hulle dit in Engels stel) “substantially increased cases of fraudulent South African passports being used to enter the UK”, kan egter nie afgemaak word nie. Suid-Afrikaners is tog alte bewus daarvan dat skelms en korrupte amptenare van die departement van binnelandse sake al verskeie kere betrap is waar hulle paspoorte en ander dokumente aan buitelanders verkoop. En as ’n lugdiens bereid is om inkomste prys te gee deur passasiers se vlugkaartjies te kanselleer en hul geld terug te betaal as hulle die toets dop, is die probleem dalk selfs groter as wat ons gedink het.
Dit kom egter nie voor asof Ryanair dit nodig gevind het om hul besluit oor ’n toets behoorlik te verduidelik of met syfers te motiveer nie – en het hulle Suid-Afrikaners (of internasionale veiligheidskenners) se insette gevra oor wat ’n meer aanvaarbare toets sou wees? Skynbaar nie. Selfs uit Afrikaanse geledere word dié “toets” gekritiseer: “Dit is heeltemal onsinnig om taal te gebruik om te probeer vasstel of iemand se paspoort geldig is of nie,” stel Conrad Steenkamp die Afrikaanse Taalraad (ATR) se standpunt teenoor hierdie skrywer.
Nou wonder ’n mens of dit nie dalk sinvoller sou wees as Ryanair eerder, argumentshalwe, passasiers se kennis oor ’n klompie bekende sêgoed kon toets wat eie aan Suid-Afrika is en hul oorsprong in verskillende plaaslike tale het nie. Enkele voorstelle wat gebruik sou kon word: Wat is ’n “braai”? Wat beteken “nxa!”? In watter konteks word “sharp-sharp” gebruik? Na wie word as “bru” of “bra” verwys? Van watter dier is die vleisgereg genaamd “smiley” afkomstig?
Maar toe besluit die lugdiens die vrae behoort almal in Afrikaans te wees en [kon nie, ten tyde van hierdie skrywe], nie eens die stortvloed kritiek sedertdien van plan laat verander nie. Opsluit word die taal se slegte verlede, oftewel sommige sprekers se historiese wanaanwending daarvan (deur byvoorbeeld teen anderstaliges te diskrimineer, hulle te verneder en die taal in hul kele af te druk) nou opgehaal.
Hieruit spruit die tweede deel van Steenkamp se verwoording van die ATR se ongelukkigheid met Ryanair toe ek hom daaroor pols: “Ons is besorg oor hoe Afrikaans in die proses uitgebeeld word en oor al die negatiewe stellings oor Afrikaans wat nou uitkom: dat dit die taal van apartheid is, [en] ’n wit minderheidstaal.”
Die Britse media het darem die moeite gedoen om die demografie van die Afrikaanse spraakgemeenskap ook in hul beriggewing weer te gee, al was dit byna terloops, soos hierdie paragraaf op bbc.com aandui: “It is the mother tongue of only 13% of South Africans, mainly mixed-race people, known as coloureds, and white South Africans ─ the descendants of Dutch, German and French settlers who arrived in the 17th Century.”
Akkuraat soos wat dit is om te vermeld dat Afrikaans die moedertaal van “slegs 13%” landsburgers is, is dit steeds ’n beduidende getal aangesien dit dié groep in die posisie van die derde grootste taalgroep plaas (ná Zoeloe en Xhosa). ’n Ander feit wat ook meer aandag verdien, is dat dit die moedertaal van “mainly mixed-race people, known as coloureds [sic]” is ─ en dus nie (in teenstelling met die algemene, indien oningeligte, opvatting) ’n “wit minderheidstaal” nie, maar nogtans (tweedens) steeds ook die moedertaal van, wel, “white South Africans – the descendants of Dutch, German and French settlers who arrived in the 17th Century”.
Ongelukkig is dit weereens die albatros om Afrikaans se nek wat nou te wyte aan Ryanair se “paspoort-toets” opnuut in die kollig is – onder meer dat dit aanleiding gegee het tot die Soweto-opstande in 1976, wat juis hierdie week herdenk word. Hoe behoort Afrikaanssprekendes hierop te reageer? Behóórt hulle iets te sê of moet hulle opsy staan omdat dit nie ’n situasie is wat deur Afrikaans se sprekers geskep is nie, maar deur ’n laekoste-lugredery van ’n ander land?
Soms is die versoeking dalk te groot en word ’n mens deur jou impuls gelei of deur die media aangepor om tog iets te sê oor ’n kwessie waaroor jy ook maklik jouself die stilswye sou kon oplê. Om verdedigend op te tree, is waarskynlik in so ’n geval die vanselfsprekende reaksie. Dit is waaraan die ATR se kommentaar by monde van Steenkamp my laat dink het.
Maar ek vermoed dat die Ryanair-omstredenheid ook aan die Afrikaanssprekende gemeenskap ’n geleentheid bied om die goeie van die taal op die voorgrond te plaas. Ons moet die slegte publisiteit teenwerk deur die (Engelssprekende) wêreld daaraan te herinner dat Afrikaanssprekendes hul taal omvorm het van ’n “minderwaardige”, “kombuis” en verdelende taal tot ’n wetenskaps-, sake-, innoverings-, kreatiewe, versoenings- en toekomsgerigte taal; ’n taal wat verwelkomend, insluitend en omhelsend aanslae trotseer, vanself opstaan, afstof en aanhou vorentoe beur.
Sal ons dié toets slaag?