Die Zondo-kommissie wat ondersoek instel na staatskaping het Donderdag videomateriaal onder oë gehad wat wys hoe sakke en sakke vol omkoopgeld hanteer word.
Die voormalige bedryfshoof van Bosasa, Angelo Agrizzi het sy getuienis oor die omvang van die korrupte bedrywighede by die maatskappy deur middel van videomateriaal voortgesit.
Die video toon hoe die bestuurshoof van die veiligheids- en spysenieringsmaatskappy Bosasa, Gavin Watson, groot bedrae kontant in ’n instap-geldkluis hanteer. Saam met hom in die kluis was twee van Bosasa se direkteure Johannes Gumede en Papa Leshabane. Die maatskappy het glo die geld gebruik om persone om te koop.
Foto’s van die video is onder meer deur die joernalis Ferial Haffajee op Twitter geplaas. Sy bestempel dit as die kluis van korrupsie. Sy het op Twitter gevra of die R500 000 wat Watson glo uit sy eie sak vir president Cyril Ramaphosa se verkiesingsveldtog as ANC-president in 2017 geskenk het, ook uit dieselfde kluis gekom het.
A thought: this is CEO Gavin Watson packing a R1- million in bribe cash in his vault of corruption. #AngeloAgrizzi says this was standard operating procedure at #Bosasa. Did his R500 000.00 personal contribution to Cyril Ramaphosa’s campaign in 2017come from the vault too? pic.twitter.com/uYDpW5eK1r
— Ferial Haffajee (@ferialhaffajee) January 17, 2019
Agrizzi het aan die kommissie vertel dat Bosasa maandeliks tot ses miljoen rand se omkoopgeld betaal het. Agrizzi was vir bykans 20 jaar op bestuursvlak in diens van Bosasa. Hy het verduidelik dat die geld wat Watson in die video hanteer het, skynbaar ’n miljoen rand was. Volgens Agrizzi was Gavin Watson die enigste mens met ’n sleutel tot die kluis.
Donderdag se sitting wat om 14:00 sou voortgaan is onverwags tot vandag (Vrydag) uitgestel nadat daar glo ’n sekuriteitsinsident was.
We apologies for the delay. We were supposed to resume at 2pm, due to security in the building, today’s hearing is adjourned. Hearing will resume tomorrow at 10:00am
— State Capture Commission (@StateCaptureCom) January 17, 2019
Toe die kommissie sy werksaamhede Donderdag na teetyd hervat, het Agrizzi vir regter Zondo gesê hy het baie dreigemente gekry en wil daaroor praat. Agrizzi het gesê toe hy Woensdag ete geneem het, het ’n oud-polisiebeampte met die naam Solom Segale saam met ander polisiebeamptes daar vir hom gewag.
Die oud-polisieman wat by Bosasa aangestel is om sekuriteit te handhaaf nadat hy uit die polisie is, het nie akkreditasie gehad om die Zondo-kommissie se sitting by te woon nie en het met sy ou polisie-identiteitskaart ingeloop. Regter Zondo het daarop gevra dat die sekuriteit opgeskerp word.
Op ’n vraag van regter Zondo aan Agrizzi waarom hy die video geneem het, het hy gesê dit was om homself te beskerm sodat hy dit later as bewysstuk kon gebruik.
Hy het aan die voorsitter, adjunk-hoofregter Raymond Zondo gesê bykans al Bosasa se regeringskontrakte het met omkopery en korrupsie gepaard gegaan.
Volgens hom het hy die maatskappy se voormalige finansiële hoof, Andries van Tonder, gevra om die video te neem sodat hy dit later as bewysstuk kan gebruik. Hy het gesê persone wat die maatskappy wou verlaat, is daarvan beskuldig dat dit húlle was wat opdrag gegee het vir die omkopery en bedrog en dat hulle dan dreigemente ontvang het.
Hy sê as ’n mens nie gedoen het wat van jou verwag word nie, is jy óf afgedank óf jou salaris is verminder. “As ek sonder die video hierheen gekom het, sou alles op my geblameer word. Ek wou ook vir die land wys hoe maklik is dit om in hierdie strik te val.
Buro: NB