’n Vragskip verdwaal in ’n woonbuurt; die media; die pandemie; en die droogte

  • 0
Vragskip saai verwoesting in woonbuurt

’n Vragskip het Vrydag in die stad Leeuwaarden verwoesting gesaai toe dit in ’n woonbuurt ingevaar het. In die proses is verskeie piere en bote van inwoners beskadig.

Die NOS berig die skip van 70 m lank en 8 m breed het Vrydagoggend vermoedelik die verkeerde afdraai geneem.

Volgens die eienaar van die skip het die voorval gebeur nadat die kaptein siek geword het. Die polisie het die voorval bevestig.

’n Inwoner van die buurt, Robert Blonk, vertel die voorval het net agter sy huis gebeur: “Ik werd wakker en hoorde een enorme herrie. Ik zag een enorme rijnaak in mijn tuin varen. Volgens mij heeft-ie op volle vaart alles hier weggevaagd. Mijn tuin is nog wel redelijk, maar de steiger en de beschoeiing is allemaal weg. Een sleepboot lag bij de buren aangemeerd, die ligt nu aan de overkant.”

Verkeerschaos ná sluiting van belangrike tonnel

Die Ketheltonnel op die A4-snelweg tussen Schiedam en Delft was Maandagoggend vir ’n paar uur gesluit omdat die twee toesighoudende operateurs siek was en nie vervang kon word nie. Die tonnel is om 06:45 in albei rigtings gesluit. Motoriste kon eers van 08:45 van die tonnel gebruik maak, waarna die verkeersknope gedeeltelik begin oplos het.

Die direkteur-generaal van openbare werke, of Rijkswaterstaat soos dit hier bekend staan, sê dit is ’n betreurenswaardige sameloop van omstandighede, maar het niks met die heersende personeeltekort in Nederland te make nie.

Die operateur wat Vrydag sou werk, was siek en die vervanger ook.

Dit is nie veilig om die tonnel oop te hou as daar niemand is wat daaroor toesig hou nie. Daarom moes die tonnel gesluit word.

Die sluiting het groot vertragings op omliggende roetes veroorsaak en die publiek het ook nie op hulle laat wag om hul misnoeë oor die gebeure op sosiale media bekend te maak nie.

 

Nederlanders positiewer oor seksuele minderhede; aanvaarding nog lastig

Uit ’n ondersoek deur die Sociaal en Cultureel Planbureau blyk dit dat Nederlanders die afgelope 15 jaar positiewer dink oor seksuele minderhede – dit is nou lesbiese, homoseksuele, biseksuele en transgender mense.

Vergeleke met ander lande vaar Nederland redelik goed. Slegs in Ysland is die aanvaarding van seksuele minderhede beter.

Groepe wat jare gelede nog negatief teenoor seksuele minderhede gestaan het – soos ouer mense en diegene wat streng godsdienstig is – blyk ook deesdae meer positief te wees oor sulke minderhede. Sowat 29% van respondente ouer as 70 was in 2006/2007 nog negatief teenoor homo- en biseksualiteit. Tans is dit maar 7%.

Ondanks die positiewe neiging wil dit voorkom of openbare intimiteit tussen mense van dieselfde geslag nog ’n gevoelige kwessie is. Sowat 19% van Nederlanders vind ook nog die idee van seks tussen twee mans walglik.

Dit blyk verder dat die aanvaarding van transgender mense nie op dieselfde peil as die van homo- en biseksuele mense is nie. Een in 10 respondente het laat blyk dat hul liewer nie sou wou dat hul kind op skool onderrig word deur ’n onderwyser wat transgender is nie.

 

Droogte in België lei tot verbod op pomp van water

Die huidige droogte in die Lae Lande het die owerhede genoop om dringend in te gryp. In sekere dele van België geld daar van vandag af ’n verbod op die pomp van water om landerye te besproei. Goewerneur Carl Decaluwé sê die waterpeil is onder die aanvaarbare drempel. Die peil waarna gestreef word van die Blankaartbekken, ’n belangrike gebied vir voëllewe, is 2,7 m, maar dit staan op die oomblik op 2,56 m – die laagste peil in vyf jaar.

Decaluwé sê hy hoop dat dit nog vandeesweek sal reën, anders sal nog strenger maatreëls ingestel moet word.

Ook in Nederland heers daar op die oomblik een van die droogste lentes ooit. En met die oorlog in Oekraïne word daar gevrees dat dit die reeds stygende voedselpryse verder sal opstoot.

 

Omstrede TV-joernalis terug op die kassie

Die omstrede TV-persoonlikheid Johan Derksen en sy program Vandaag Inside is weer terug op die kassie ná ’n stilte van twee weke.

Dit volg op die gebeure waartydens Derksen tydens sy praatprogram vertel het hoe hy in sy jeug ’n dronk jong vrou met ’n kers gepenetreer het. Die onthulling het hewige reaksie uitgelok en die program was twee weke lank van die lug af.

Talpa Network, die uitsaaier van die program het in ’n verklaring by monde van die televisiehoof, Marco Louwerens, laat weet: “Johan Derksen heeft wat ons betreft duidelijk genoeg afstand genomen van hetgeen er mis is gegaan. De keuze om te stoppen lag bij hem, maar inmiddels is het hem duidelijk geworden dat zelfs de grootste criticasters vinden dat een programma als Vandaag Inside een plek moet hebben in het Nederlandse medialandschap.”

Louwerens maak dit verder duidelik dat “we wel glashelder stelling namen tegen de manier waarop hij zijn punt duidelijk wilde maken.”

Derksen weier nog steeds volstrek om om verskoning te vra. Kyk gerus in die video sy reaksie Maandagaand toe die program hervat is:

Gewilde klassiekemusiekprogram stop ná agt seisoene

Die hoofaanbieder van die gewilde program Podium Witteman, bekend vir sy bekendstelling van jong musikale talent, en wat ook in Suid-Afrika via BVN te sien is, stop ná agt seisoene.

Paul Witteman het verlede week aangekondig dat afgelope Sondag die laaste uitsending van die program met hom as hoofaanbieder sou wees. Hy vertel dat hy die besluit “met pijn in het hart” geneem het. “Ik heb besloten te stoppen, omdat het er een goed moment voor is aan het einde van het seizoen en je niet te lang door moet gaan. Bovendien wil ik ruimte maken voor andere werkzaamheden, die ongetwijfeld in het verlengde zullen liggen van mijn passie voor klassieke muziek.”

Mediadirekteur Willemijn Francissen sê: “In al die jaren heeft Paul als boegbeeld van het programma een onuitwisbaar stempel gezet op de klassiekemuziekprogrammering van de NTR en de publieke omroep.”

Nu.nl berig die NTR is tans in gesprek met die NPO, op wie se kanaal die program uitgesaai word, oor ’n moontlike opvolger vir Witteman.

Maskers hoef ook nie meer aan boord van Nederlandse vlugte nie

Die Europese Lugvaartowerheid (EASA) het vandeesweek laat weet dat die internasionale riglyne oor die dra van maskers aan boord van Europese vliegtuie aangepas word. Nederlandse lugvaartmaatskappye sal hulle dus by die nuwe reëls aanpas. Die Nederlandse regering het in die lig hiervan bekend gemaak dat die dra van maskers vanaf 21 Mei nie meer verplig word nie.

Mense wie se gesondheid kwesbaar is, word wel aangeraai om ’n mediese masker te dra.

Die Rijksoverheid wys egter daarop dat op internasionale vlugte ander reëls by lughawens in bestemmingslande kan geld, en volgens ’n woordvoerder van KLM is dit moontlik dat maskers steeds op sommige roetes verplig sal bly: “Als het land van bestemming het dragen van mondkapjes aan boord verplicht stelt, dan dienen passagiers de zich daar nog wel aan te houden.”

Die Belgiese lugdiens Brussels Airlines het twee weke gelede al aangekondig dat passasiers nie meer maskers hoef te dra nie. Dit volg nadat die EASA vroeër die dra van maskers as ’n “sterk aanbeveling” aangedui het. Nederland het dit egter tot nou as ’n verpligting beskou.

De Telegraaf berig dat lugrederye ingenome is met die nuwe advies en verwag dat daar minder insidente op vlugte sal wees. Verlede week is ses Britte met hul aankoms op Schiphol in hegtenis geneem nadat hulle aan boord van ’n KLM-vlug vanaf Manchester handgemeen geraak het.

Nederland hou asem op oor nuwe COVID-19-golf

In Nederland is daar deesdae weinig sprake van COVID-19. Volgens die jongste syfers van die RIVM word al hoe minder mense in hospitale en waakeenhede opgeneem. Die beperkende maatreëls is ook iets van die verlede: Maskers word nie meer verplig nie, geen advies om afstand te hou of tuis te werk nie, en alle uitgaanplekke is weer volledig oop.

Kenners meen egter die pandemie is nog lank nie verby nie en Nederland kan hom gereedmaak vir nog ’n golf in die herfs, maar soos met die eerste golf, is die regering volgens sommige weer nie hierop voorbereid nie. Wat wel seker is, is dat hospitale nie die getal mense sal kan hanteer as dit weer so hoog is soos die eerste en tweede golwe nie. Daar is eenvoudig nie genoeg personeel nie en baie gesondheidswerkers het ook die afgelope twee jaar weens oorlading die beroep verlaat.

Minister Kuipers van Volksgesondheid het egter die kritiek terugverwys na hospitale en in ’n onderhoud aan die NOS gesê: “Maak je eigen plan.”

Kuipers erken dat die land nie goed op nog ’n golf voorbereid is nie en hy verwag ook ’n oplewing in die virus in die najaar, maar voel die verskillende sektore in die samelewing moet dié keer die leiding neem om die pandemie te bestuur en nie die regering nie.

Kuipers sê hy wil so ver moontlik geen streng maatreëls instel nie, maar sal weer die dra van maskers in openbare vervoer en nog ’n ronde inentings oorweeg.

Intussen berig die NOS dit lyk onwaarskynlik dat die Eerste Kamer die moontlike vyfde verlenging van die koronawet sal verwerp. Hoewel daar tans geen koronamaatreëls geld nie, wou minister Kuipers die moontlikheid hê om gou weer die maatreëls in te voer indien nodig.

Koningin Máxima verjaar

Die Nederlandse koningin Máxima is vanjaar 51. Nou nie juis ’n kroonjaar nie, maar verlede jaar toe sy wel 50 geword het, was dit maar ’n somber affêre, want die land was toe nog redelik ingeperk. Daar was wel ’n musiekgalageleentheid in die Carré-teater in Amsterdam ten bate van haar stigting, Méer Muziek in de Klas, wat ten doel het om alle laerskoolkinders met musiek in aanraking te bring.

Die koningshuis het geen besonderhede bekend gemaak oor hoe die Koningin vanjaar haar verjaardag gaan vier nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top