Oor die val van die Berlynse muur skryf George J Church in November 1989 in die nuustydskrif Time: “It was one of those rare times when the tectonic plates of history shift beneath men’s feet, and nothing after is quite the same.”
Dit is ’n oomblik in wêreldgeskiedenis wat onthou word vir die beelde van grootskaalse vieringe, asof dit Oujaarsaand was – Berlyners van albei kante van die muur wat deur ’n opening in die muur beur, bo-oor klouter; en Oos-Berlyners wat deur Wes-Berlyners opgetrek word tot bo-op die muur, ’n versoeningsdaad wat voor dié dag tot ’n skietdood vir Oos-Berlyners kon gelei het.
Nou is daar saam gesing, gefluit, gedans; met hamers en beitels is stukke van dié 28 jaar oue simbool van verdeling en kommunistiese verdrukking afgekap.
Die jaar daarna, in Februarie 1990, deels aangehelp deur die gebeure in Duitsland, het Suid-Afrika se president, FW de Klerk, ’n aantal aangrypende aankondigings gemaak – opsommend die volgende: verbanne organisasies, soos die ANC en PAC, sou ontban word, politieke uitgewekendes sou toegelaat word om na die land terug te keer, en ’n week later sou Nelson Mandela ná 27 jaar – amper so lank as wat die Berlynse muur gestaan het – uit aanhouding vrygelaat word.
Die aankonding en Mandela se vrylating is jubelend in die strate van bepaald Suid-Afrika se buurte van verdrukking begroet, die lokasies waarheen dié inwoners ingevolge apartheid se verdeling van landsburgers op grond van ras verskuif is. Mandela is ingewag by die hekke van die Victor Verster-gevangenis in die Paarl; hy is deur massas toegejuig op die Kaapse Parade waar hy sy eerste toespraak as ’n vry man gelewer het.
Nog vier jaar sou egter moes verstryk voordat die verdruktes van die land werklik vry kon begin voel; voordat om vry te wees, tasbaar geraak het. Dit was met die land se eerste demokratiese verkiesings, waaraan alle rasse kon deelneem en waarmee die weg gebaan is vir Mandela om as die land se eerste na-apartheidspresident ingehuldig te word.
Die verkiesingsdatum was 27 April 1994, en sedertdien word Vryheidsdag op dié dag gevier – ’n herinnering aan die val van Suid-Afrika se eie “Berlynse muur”: 350 jaar van kolonialisme, 40 jaar van apartheid, van verdeling en verdrukking. In die plek hiervan kon hulle wat gedurende die slegte ou dae ’n menseregtedors moes verduur, nou uit die beker van vryheid drink.
Maar is dié dors werklik geles?
In die 24ste jaar sedert die eerste demokratiese verkiesings – en die 100ste jaar van Mandela se geboortedag – woed die debat in die land wat hy bevry het, wóés oor hoe vry die verdruktes van die verlede hulself beskou en hoeveel vryheid die verdrukkers van die verlede steeds geniet.
Dit lyk op die oog af – en dit word deur Statistieke Suid-Afrika se opnames en ander peilings bevestig – asof die histories bevoordeeldes steeds goed leef, wat onder meer toegang tot onderwys, professionele kwalifikasies, inkomstevlakke en woonplekke betref. Hierteenoor krepeer talle histories benadeeldes steeds in armoede, volwassenes sonder werk, seuns sonder skoolskoene, meisies sonder sanitêre doekies.
Die enigste gemene deler, skyn dit dikwels, is die wyse waarop misdaad álmal in Suid-Afrika raak, in gegoede en minder gegoede gebiede. Misdadigers diskrimineer nie op grond van ras nie; dit skeel hulle ook nie hoe goedkoop of duur jou slimfoon is wanneer hulle dit uit jou hand gryp en om die draai verdwyn of in ’n wagtende motor spring nie.
Maar die hoofstroommedia besluit self waaroor hulle verslag doen – en ek noem dit as ’n joernalis wat glo daar is tog meriete in die argument oor teikengehore – en dié nuusdekking gee ’n mens alte gereeld die indruk dat sommige mense erger onder misdaad gebuk gaan.
’n Byna daaglikse voorbeeld wat bepaald die Afrikaanse media betref, is die prominente wyse waarop sogenaamde plaasaanvalle gedek word teenoor die daaglikse bendesterftes of tik-dwelmpandemie in die Kaap. Ons word van dié pandemie vertel in Adriaan van Dis se roman Tikkop, en ook in Abraham Phillips se Die hart van ’n ma en Eldrigde Jason se Gerook.
Die verwoestende uitwerking van tik (wat ook as metamfetamien bekend is) word as volg op die Phillips-roman se buiteblad beskryf: “Hierdie ding tik, hy vreet ons harsings op (...).” Tog is dit nie die volle verhaal nie: tik laat ook die gebruiker psigoties, selfs ná hy of sy dit ophou gebruik het – en dit is die families in die huis wat dan deur hulle geterroriseer word, dag en nag, deur die gebruiker wat alles in die huis steel (tot wasgoed op die draad!) om te gaan verkoop vir tik-geld en aan deure en vensters stamp om die familie uit die slaap te hou as hulle nie geld gee dat hy/sy die dwelm kan gaan koop nie.
Soms eindig dit tragies, soos in die geval Ellen Pakkies wat haar seun vermoor het, ’n storie wat nou in die fliek Ellen: Die storie van Ellen Pakkies vertel word. Maar die fliek is skaars vir die eerste keer by die Rotterdam-filmfees vertoon of nóg ’n Pakkies-geval tref die land toe ’n pa, Sedick Abrahams, in die hof verskyn omdat hy ook sý tikverslaafde seun vermoor het – ná 13 jaar se hél.
Jy sal dalk op die Afrikaanse koerante se voorblaaie hieroor lees wanneer die uitwerking van tik daartoe lei dat ‘n ouer ‘n kind vermoor, anders gaan dinge maar soos gewoonweg aan: plaasaanvalle, dieremishandeling, sport, politiek en taalkwessies.
Die les hier is tweeledig, as jy dit by die Vryheidsdagtema van hierdie skrywe wil aanhaak: enersyds, dat (politieke) vryheid jou nie vrywaar van selfverdrukking in die vorm van dwelmmisbruik of gesinsgeweld nie; andersyds, dat (pers)vryheid nie noodwendig beteken dat gelyke mediadekking aan alle Suid-Afrikaners se daaglikse lot gegee hoef te word nie.
Om meer oor die media te sê: dié het ‘n onmisbare rol om nie net as waghond op te tree in ’n demokratiese (én verdrukkende) bestel nie, maar ook om landsburgers van hul regte bewus te maak. Hand aan hand daarmee moet sekerlik ook die rol wees om die “vrugte van vryheid” – naas menseregte, ook die dienste wat wel gelewer word en die nasiebou-inisiatiewe wat wel suksesvol is – aan die groot klok te hang.
Die mate waartoe verskillende media-organisasies dit doen, hang in die meeste gevalle af van ’n geskiedkundige posisionering – hetsy aan die kant van die bevrydingsbewegings of aan die kant van die regeerders van die dag – of die mate waartoe hulle vandag meen hulle ’n nasiebourol behoort te speel. Indien jy die politici vra, meer spesifiek dié van die regerende party, sal hulle sê dis ‘n absolute móét; omgekeerd, weet hulle self, hang baie van die mediadekking af van die kommersiële waarde daarvan.
Nogtans het die media ’n rol om vertroue te kweek – nie noodwendig in wat die regering van die dag as die “nasionale vraagstukke” beskou nie, maar beslis wat betref die verhoudinge onder Suid-Afrikaners.
Dit bring my by ’n verwysing deur Michael Ignatieff in sy nuwe boek, The ordinary virtues – moral order in a divided world, na aanleiding van die “nuuskierigheid” oor ’n jong gemengde paartjie wat hy op ’n navorsingsbesoek aan Suid-Afrika opgelet het, hoe hulle mekaar op ’n strand omhels, duidelik dol verlief, starend na die rollende branders.
“In South Africa the virtues at work in this simple scene – the trust and the desire – are not yet ordinary,” skryf Ignatieff in sy hoofstuk oor Suid-Afrika getiteld “After the rainbow”. “The fact that young men and women of different races meet, fall in love, live together registers differently here than in other places.” En ’n mens lees vandag steeds onder meer in ’n Afrikaanse dagblad en ’n Engelse Sondagblad se 50 jaar-gelede-rubrieke hoedat daar tydens apartheid – wétlik – jag gemaak is op gemengde paartjies. Ignatieff: “Inter-racial sex and inter-racial marriage were banned, and even under freedom they remain rare.”
“And even under freedom they remain rare.” Dit is waarom dit vir baie mense steeds ’n aardigheid – vir sommige selfs ’n onding – is dat die leier van die grootste opposisieparty hom in ‘n gemengde huwelik bevind; en hoe aaglik was dit nie om van die rassistiese reaksies te sien toe ’n lid van die nasionale Springbokrugbyspan redelik onlangs met ’n vrou van ‘n ander ras in die huwelik getree het nie.
Nou, net soos wat die media in die verlede – ter ondersteuning of in afgryse – berig het oor mense wat ingevolge die wetgewing teen gemengde verhoudings en seks verguis is en in die tronk gegooi is, sal ’n mens sekerlik vandag die verwagtinge mag hê dat hulle beriggewing in ooreenstemming moet wees met die “normalisering” van gemengde verhoudings. Hoe meer dit gewys word, selfs geprys word, hoe meer aanvaarbaar sal dit word – sowel vir diegene wat dit steeds afstootlik vind as vir diegene wat meen dit bring ‘n sekere status na hul familie.
En dan hierdie aanhaling uit Ignatieff se boek: “As inter-racial contact becomes ‘ordinary’, South Africa could enter a ‘normal’ world where attraction is individual, singular, never race-meeting-race, just one soul and body desiring another.” Maar desire – die begeerte om “gemengde-ras-kontak” as normaal te begin aanvaar – hoef nie net op liefdesverhoudings van toepassing gemaak te word nie; dit geld net soveel vir verhoudings tussen kollegas van verskillende rasse, kinders by die skool, spanlede van sportspanne, passasiers op ’n vliegtuig.
Om dié vryheidsideaal te bereik, moet iets drasties in Suid-Afrika gebeur, soos met die val van die Berlynse muur en Suid-Afrika se eerste vrye verkiesings, maar hierdie keer meer persoonlik, meer individueel. Die tektoniese plate van die geskiedenis het weliswaar in 1994 onder ons voete verskuif, maar die wyse waarop ons mekaar bejeën, is tot ’n groot mate steeds dieselfde. Nou is die tyd dat ons ook die Berlynse muur van wantroue tot ’n val moet bring.
Buro: MvH