Nederland laat maatreëls los
Die minister van volksgesondheid, Ernst Kuipers, het Dinsdagaand tydens ’n nuuskonferensie bekend gemaak dat byna al die oorblywende inperkingsmaatreëls in stappe versoepel word. Kuipers het benadruk dat meer mense as ooit op die oomblik besmet is, maar dit lyk tog of Nederland oor die piek is. Die opnames in hospitale het egter oor die tyd stabiel gebly. Hy sê die bevolking is meer bestand, danksy inentings en mense wat aangesteek is, en dat die virus minder besmetlik is.
Die stappe wat hy aangekondig het sluit die volgende in:
- Vanaf Woensdag is daar geen beperking meer op die getal gaste wat mense tuis mag ontvang nie.
- Mense word aangeraai om steeds die helfte van die tyd by die huis te werk.
- Die gasvryheidsbedryf mag weer tot 01:00 oop bly.
- Op plekke waar minder as 500 mense bymekaar kom en dit op die oomblik steeds nodig is om ’n COVID-19-toegangsbewys te toon, is ’n masker nie meer nodig nie. Dit is ook nie meer nodig dat die publiek op vaste sitplekke hoef te bly nie en die reël om 1,5 m-afstand te hou, verval ook.
- Mense wat positief toets, hoef nou net vyf dae in isolasie te gaan en nie meer sewe dae soos vantevore nie.
- Maskers bly slegs in openbare vervoer verpligtend.
Vanaf 25 Februarie volg nog meer versoepelinge:
- Die Covid-pas sal grotendeels verdwyn. By plekke waar meer as 500 mense bymekaar kom en daar geen vaste sitplek is nie, moet alle besoekers ’n bewys van ’n negatiewe toets toon.
- Die gasvryheidsbedryf en kultuursektor mag weer oop bly op tye wat voor die pandemie gegeld het.
- Maskers hoef dan nog net in openbare vervoer, op lughawens en in vliegtuie gedra te word. Reisigers wat van die buiteland af terugkeer, hoef nie meer in kwarantyn te gaan nie.
Minister Kuipers het daarop gewys dat dit ’n sorgwekkende tyd vir mense in hoërisikogroepe is. Hy het derhalwe ’n beroep op die publiek gedoen om hulle steeds aan die basiese advies te hou soos om hande te was, afstand te hou, maskers te dra waar nodig, voldoende vars lug in vertrekke te verseker, tuis te bly as jy simptome het, en jou te laat inent.
Op 15 Maart sal die maatreëls heroorweeg word.
België versoepel ook
Premier Alexander de Croo van België het Vrydag ook verskeie versoepelinge in die koronamaatreëls aangekondig. “Vandaag zetten we een enorme stap vooruit, naar het nieuwe normaal,” sê die premier ná vergaderings met die leiers van die verskillende regerings in sy land. Met die aankondiging het België se koronabarometer van kode rooi na kode oranje geskuif. Ingevolge die nuwe maatreëls hoef restaurante en eetplekke nie meer om middernag te sluit nie. Die beperking op die maksimum getal mense per tafel verval ook, en staande gaste wat nie aan ’n tafel sit nie, word ook weer toegelaat. Die nuwe versoepelinge beteken ook weer hoop vir die naglewe wat vanaf eerskomende Vrydag weer mag oopgaan. Dansers hoef ook nie ’n masker te dra nie, maar die personeel wel. Besoekers moet steeds ’n koronapas toon. Belge hoef verder ook nie meer vier dae in die week tuis te werk nie, hoewel dit steeds aanbeveel word. Ten slotte hoef kinders tussen 6 en 12 nie meer ’n masker skool toe te dra nie.
Vragmotorbestuurders versper Den Haag en ruk op na Brussel
Inwoners van Den Haag moes afgelope Saterdag toekyk hoe bestuurders van vragmotors, trekkers en kampeerwaens die middestad naby die regeringsetel die Binnenhof beset. Die protes volg op die honderde vragmotors wat al weke lank verkeersprobleme in Kanada veroorsaak. Die betogers eis dat alle oorblywende inperkingsmaatreëls afgeskaf word, berig die dagblad Trouw. Die burgemeester van Den Haag het later ingegryp en gesê die betogers het genoeg tyd gehad om hul boodskap bekend te maak. Die vragmotors het omstreeks 16:00 die middag die terrein verlaat, waarna sommige by die ADO-stadion byeengekom het, berig nu.nl. Die vragmotorbestuurders het op die terrein van die stadion oornag, waarna die polisie hulle in hegtenis geneem het. Nog ’n betoging is later Sondagmiddag teen die inperkingsmaatreëls in Den Haag gehou. Daar was egter beduidend minder mense by dié protes as die 25 000 waarop die organiseerders gehoop het.
In Brussel is die koms van die betogende vragmotors ingewag. Weens streng kontroles kon die betogers nie in hul doel slaag nie. ’n Beperkte aantal betogers het wel daarin geslaag om te voet na die middestad te gaan, berig VRT NWS. Die Belgiese polisie het sowat 130 voertuie in beslag geneem en minstens 30 betogers in hegtenis geneem, onder meer vir die besit van wapens.
Vandaag namen we deze voorwerpen in beslag. Deze horen niet thuis op een vreedzame betoging. We blijven waakzaam op het hele grondgebied.#demonstration #Brussels pic.twitter.com/pR2fBFZBq7
— PolBru (@zpz_polbru) February 14, 2022
Burgemeester Philippe Close het die beskermingsdienste wat gekeer het dat die stad lamgelê word, vir hul optrede bedank.
Graag had ik specifiek onze politieagenten van @zpz_polbru, van de andere Brussels zones en van de @federalepolitie bedankt voor hun uitstekend werk. Ook de andere gemeenten, de brandweer, de nooddiensten, het parket, @rudivervoort en @AnneliesVl bedank ik voor hun hulp.
— Philippe Close (@PhilippeClose) February 14, 2022
Die burgemeester van Rotterdam het sy visier op dwelmsmokkelary
As dit van hom afhang, wil burgemeester Aboutaleb van Rotterdam elke skeepshouer met tropiese vrugte vir dwelms deursoek, berig die NOS. Die burgemeester het vroeër ’n brief aan premier Rutte van Nederland en De Croo van België in dié verband geskryf. Sy brief volg ná ’n werksbesoek aan Suid-Amerika, wat as die grootste bron van dwelmsmokkelary beskou word. Op die oomblik word skaars 1% van alle skeepshouers vir dwelms nagegaan. Dit is egter nog nie duidelik hoe die deursoeking moet gebeur nie. “Maar we voelen ons wel verantwoordelijk,” sê De Wever. “We zien de gevolgen in onze steden. Niet alleen het geweld, maar vooral de criminele cash.”
Einde verlede jaar is byna 4 200 kilogram kokaïen in ’n lading piesangs gevind, met ’n straatwaarde van sowat €300 miljoen oftewel sowat R5,2 miljard rand.
Intussen het die polisie Saterdagaand in Breda ’n bussie voorgekeer wat 350 kg kokaïen vervoer het. Tydens ’n klopjag in ’n eetplek waar die bussie vandaan gery het, is 19 vuurwapens gevind. Twee mans is in hegtenis geneem.
“Homogenesers” kry straks gevangenisstraf
As dit van die partye D66, VVD, PvdA, GroenLinks, SP en Partij voor de Dieren afhang, sal mense of instansies wat hulle besighou met sogenaamde terapie om mense van hul homoseksuele oriëntasie te “genees”, hoë boetes of selfs gevangenisstraf kry. Die wetsontwerp is aanlyn beskikbaar gestel vir die publiek om daarop kommentaar te lewer. Daarna sal ’n regsoordeel deur die Raad van State volg. Die partye, wat saam die meerderheid in die Tweede Kamer vorm, wil dat skuldiges vir tot twee jaar tronk toe gestuur word of maksimaal met €22 500 (sowat R400 000) beboet word.
Die praktyk kom steeds voor in streng godsdienstige gemeenskappe. ’n Voorstel om die praktyk strafbaar te maak was al vantevore op die tafel, maar is nooit deurgevoer nie. Kamerlid Van der Woude van die VVD sê die wetsvoorstel is daarop gerig om kwesbare mense te beskerm.