Reis saam met die Nasionale Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein (Suid-Afrika) terug in tyd.
Leana Lategan gaan gereeld interessante, waardevolle en soms byna vergete argief-items met Voertaal-lesers deel.
Rob Antonissen is eerste aan die beurt.
Hy was in sowel België as Suid-Afrika ’n gerekende akademikus en kenner van onder meer die Afrikaanse letterkunde.
.............
“Met ontstellende flegma pasticheer hy die halwe Afrikaanse poësie ... Nooit sit hy verleë om rym of metriek nie. Alles begin, verloop, eindig heerlik glad, en sonder rede hoegenaamd. Die rustelose verlustig hom rustig in gesapige tydsaamheid, fraseologie, neologismekomiek, verloor alle woordkontrole, skribeer en transkribeer met onverdrote skribentemoed. Totdat hy naderhand gaan ‘dobber op ’n see van ink’, en óns, geheel verdwaas, met hom”.
Dis “die orakel van Grahamstad” wat hier aan die woord is, ’n man wat bekend was vir sy eerlike en dikwels snydende kritiek, en ’n literator op wie se uitspraak skrywers dikwels benieud gewag het.
Robert Karel Jozef Emiel (bekend as Rob) Antonissen, is op 23 Mei 1919 gebore, en was in sowel België as Suid-Afrika ’n gerekende akademikus en kenner van onder meer die Afrikaanse letterkunde.
Links: Rob as jong man (Fotograaf onbekend, NALN-fotoversameling: 4276/2003/182); regs: Rob as ouer man (Fotograaf: Anton Hardy, AMVC, Minderbroederstr 22, Antwerpen, België (Huisgenoot 24/05/68), NALN-fotoversameling: 4276/2003/182)
Om deur die sowat 18 lêerbokse in NALN se manuskripversameling te blaai, voel soos die bywoon van ’n nagraadse klas met die luukse om jou dosent met jou persoonlik te hoor praat. Oor elke teks wat hy gelees het, waarskynlik met die oog op latere insluiting in ’n publikasie, is daar kantaantekeninge, menings en navorsingsinsigte.
Die gelese werk sluit boeke in Nederlands, Afrikaans, Frans en Engels in, en word soms vergesel van koerant-en dagbladartikels. Geen wonder nie dat André P Brink ná Antonissen se dood die volgende opgemerk het: “Vir dié van ons wat hom in die konteks van ons werk leer ken het, skrywers en digters, dramaturge, akademici, studente, is sy dood ’n onherstelbare verlies. Vir dié van ons wat hom ook as mens geken het, is dit ’n ontsetting ...”
Rob Antonissen is in Antwerpen gebore as die enigste kind van Petrus Emiel Antonissen (’n geoktrooieerde rekenmeester van beroep) en Louisa Maria Camps. Die intellektuele vermoëns waarvoor sy vriende en kollegas soveel respek gehad het, was die uitvloeisel van ’n goeie Europese skoling.
Sy dogter Frederike, eweneens ’n bekende akademikus, gee in haar essay vir “Die Biografiese Woordeboek” die volgende opsomming hiervan:
“Hy ontvang sy hoërskoolopleiding (Klassieke Humaniora) tussen 1930 en 1936 aan die Sint-Jan-Berchmanscollege te Antwerpen, studeer daarna aan die Universiteit Leuven waar hy in 1940 die Licentiaat Germaanse Filologie en die Aggregaat Middelbaar Onderwys van de Hogere Graad behaal en promoveer in 1942 aan dieselfde Universiteit op ’n proefskrif oor ‘Herman Gorter en Henriëtte Roland Holst’, wat weens oorlogsomstandighede eers in 1946 gepubliseer word en ’n jaar later met die Letterkundige Prijs der Vlaamse Provinciën bekroon word”.
Die omvangryke en geskakeerde kennis wat hy van onder meer die Klassieke en filosofie, politiese en sosiale geskiedenis, en musiek gehad het, is herhaaldelik deur kritici uitgewys.
Reeds in 2009 is Antonissen se uitgebreide boekeversameling, oorspronklike manuskripte en vleuelklavier aan Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) geskenk.
Sy dogter, Helga Puttick, het per geleentheid in September 2012 by hierdie museum oor haar pa gesels. Teen die einde van 2018 het haar suster, Elisabeth (wat nou in Australië woon) NALN besoek en ’n verdere skenking van boeke en bladmusiek gemaak.
Rob Antonissen se verhaal is werklik een van twee wêrelde, en die vermoë wat een man gehad het om oor grense heen te werk en te leer leef. Terwyl hy nog in België is, ontmoet hy ’n monnik wat ’n ywerige versamelaar van Afrikaanse boeke en literatuur was. Hy is gefassineer hierdeur, en begin op sy eie met die reusetaak om Afrikaans by sy reeds wye belangstellingsveld in te sluit.
In “Die Vaderland” van 26 Januarie 1945 verskyn ’n piepklein boekaankondiging oor ’n publikasie in die “Klassieke Galerij” (Nr 15), met die titel “Zuid-Afrikaansche Poëzie”. Hy word geloof oor die insiggewende inleiding van die bundel, en daar word spesifiek verwys na die “werklike kennis” wat hy van die Afrikaanse poësie het.
Hy publiseer ook in hierdie tyd die tweedelige “Schets van de ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche letterkunde” (1946). Die literêr-kritiese werk wat Antonissen in België gedoen het, gaan in Suid-Afrika nie ongemerk verby nie, en toe HAMulder, die knap Nederlandse literator en dosent aan die Rhodes Universiteit in 1949 sterf, sien WEG Louw eintlik slegs een kandidaat vir Mulder se pos: Rob Antonissen.
In Maart 1950 verhuis die Antonissen-gesin dus na Grahamstad, en word hy aangestel as lektor. Teen 1971 is hy vise-rektor van die Universiteit, en het hy besonder veel tot stand gebring. Afgesien van die omvang van sy skryfwerk, is dit die besondere kwaliteit en sekure lesing van tekste wat akademici en skrywers beïndruk.
Hy is bekend as mederedakteur van die tydskrif “Standpunte”, en ook vir die skerp en insigryke resensies wat hy skryf. Hoewel hy die skrywer van etlike literêr-kritiese studies is, is dit “Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede” wat vir baie dekades lank die belangrikste hulpbron by literatuurstudie was.
Antonissen was uitgesproke daaroor dat Nederlands aan Suid-Afrikaanse universiteite bestudeer moet word, en wanneer hy as gasdosent in sy tuisland opgetree het, het hy die wisselwerking tussen dié land en Suid-Afrika opnuut beklemtoon. “Mijn bestaan ... was een bestaan tussen twee werelden geworden ... Jy wordt verkenner en ontdekker in twee richtingen: uit het vertrouwde naar de vreemde, maar spoedig ook uit het daarstraks nog vreemde naar het eenmaal en volle vertrouwde toe”.
Uit die vertelling van sy jongste dogter Elsje Osborn (gedoop Elisabeth, en vernoem na die Afrikaanse skrywer Elisabeth Eybers, vir wie Antonissen ’n groot bewondering gehad het) kry ’n mens ook ’n klein kykie in die gesin se leefwêreld.
Hulle huistaal was Nederlands wanneer haar vader hulle kon hoor praat, andersins het hulle in Afrikaans gesels. Omdat die bure Engelssprekend was, speel hulle met die buurkinders in Engels. En wanneer hulle vader en moeder gesprekke gehad het wat nie vir die kinders se ore bedoel was nie, is daar Frans of Duits gepraat.
Die pragtige swaar houtboekrak wat nou by NALN staan, het Mev Antonissen se kosbare Franse boekery gehuisves. Sekere van die titels in Antonissen se versameling boeke het ’n Dewey-klasnommer in potlood aangedui.
Sy dogter Frederike (Rike Olivier) het in ’n stadium Biblioteekkunde studeer, en het vir ’n klasopdrag sommige van haar pa se boeke geklassifiseer. Sy boekery is die getuie van ’n interessante en belese lewe, met raakpunte van kultuurhistoriese betekenis oral te bemerk.
Toe hy op 23 September 1972 oorlede is, was daar ook verwysings na sy musiekloopbaan van baie jare. Hy kon as pianis musiek van professionele standaard lewer, en verskeie van sy nagelate musiekboeke vorm deel van die versameling by NALN. Aangesien hy baie jare lank (as katoliek) orrelis by ’n Nederduits-Gereformeerde kerk was, is orrelmusiek ook die dag op sy begrafnis by die program ingevoeg.
Antonissen se graf in Grahamstad dra ’n verdere stukkie persoonlike, én hartseer, betekenis. Terwyl die gesin in 1955 vir ’n reis na die geboorteland ter see is, sterf die ouers se byna tweejarige seuntjie. Hoewel hy volgens gebruik ter see te ruste moet kom, maak die skeepskaptein die vergunning dat hulle hom in België mag begrawe. Die bemanning skenk ook aan die gesin ’n marmersteen in die vorm van ’n oop boek, en hierdie steen word die seuntjie se grafsteen. Baie jare later, ná Antonissen se dood, vind dié besonderse “boek” ’n pad terug na Suid-Afrika, en word dit op sy pa se graf geplaas.
Watter kulturele en letterkundige rykdom het die Afrikaanse taal en sy lesers nie deur die lewe van hierdie verfynde, hoogs intelligente en in baie opsigte begaafde man gewen nie.
Boekdele vol kennis en akademiese insig, vertalings en verwerkings, bloemlesings, lesings oor die Klassieke, die Barok en die Middeleeue; ook besinnings oor die verweefdheid tussen Afrikaans, Nederlands, Vlaams.
Daar is, juis vandag nog, soveel te haal en te benut uit die belesenheid en nougesette aandag van Rob Antonissen. Dis ’n eeujaar wat die aandag van mense verdién.
- Inligting vir die skryf van hierdie teks is verkry uit verskeie bronne, almal in NALN se versameling. ’n Volledige biografiese geskiedenis, en aandag aan onder meer pryse en toekennings, is te lees by die ATKV/LitNet Skrywersalbum, gedateer 4/8/2016.