Name van veroordeelde seksoortreders volgende maand bekend

  • 0

Suid-Afrikaners sal binnekort toegang hê tot ’n lys van alle seksoortreders asook van oortreders wat geslagsgeweld gepleeg het. Dit is deel van ’n poging om vrouemoord hok te slaan en ouers meer ingelig te hou.

Die lys name sal teen einde Februarie bekendgemaak word, het die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, vandeesweek aangekondig.

Die minister het Dinsdag tydens die Kgalema Motlanthe-stigting se “365 days against GBV”-bewusmakingsveldtog in Soweto gepraat. Die veldtog, wat in 1998 begin is, is ’n oproep vir deurlopende optrede en bewusmaking teen geslagsgeweld regdeur die jaar en nie net tydens die aangewese “16 dae van aktivisme”-veldtog nie.

Die minister se aankondiging  volg slegs twee maande nadat sy minister van justisie en staatkundige ontwikkeling geword het.

“Toe ek in die portefeulje aangestel is, was een van die behoeftes vir ons as departement om die register vry te stel en openbaar te maak van diegene wat gevonnis en skuldig bevind is aan geslagsgebaseerde geweld, om ons kinders te beskerm. Ek het ingestem dat ons dit sal kan vrystel, en my tydraamwerk was dat die register voor die einde van Februarie 2025 vir die publiek beskikbaar sou wees,” het Kubayi gesê.

Build One South Africa (Bosa) het die aankondiging verwelkom. Dit is volgens Bosa ’n deurslaggewende stap en dui op ’n beduidende oorwinning in die land se kollektiewe stryd teen seksuele geweld en mishandeling.

Die huidige protokol om toegang tot die register te verkry is ’n tydrowende proses wat ’n fooi van R150 en ’n wagtydperk van minstens ses weke behels.

Bosa beywer hom al meer as twee jaar lank aktief daarvoor dat die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders (NRSO) openbaar gemaak word. Deur middel van ’n petisie, waardeur byna 20 000 handtekeninge ingesamel is, het hulle deurgaans gepleit vir die deursigtigheid wat nodig is om gemeenskappe beter te beskerm.

Om die NRSO openbaar te maak, sal volgens Bosa se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, ongetwyfeld as ’n groot afskrikmiddel vir potensiële oortreders dien – dit sal help verseker dat diegene wat die regte en waardigheid van ander skend, nie meer toegelaat word om in die skaduwees te skuil nie.

“Ons moet weet wie die oortreders is wat in ons strate rondloop, ons werkplekke binnegaan en ons huise binnedring en wat dikwels ons kinders in gevaar stel. Deur hul name en gesigte te ontbloot, sal ons publieke bewustheid en veiligheid verbeter,” het sy in ’n verklaring gesê.

Verhoogde deursigtigheid sal volgens Hlazo-Webster ook gemeenskapswaaksaamheid versterk en dit makliker maak vir individue en organisasies om standpunt in te neem en gevalle van misbruik en mishandeling aan te meld. Dit is volgens haar ’n kritieke hulpmiddel in die voortdurende stryd teen seksuele misbruik en geslagsgeweld.

Bosa sê hulle staan ​​gereed om met die regering en ander belanghebbendes saam te werk om voort te gaan met hulle pogings om seksuele geweld uit te roei en die mees kwesbare lede van die samelewing te beskerm.

“Ons bly daartoe verbind om oortreders aanspreeklik te hou, geregtigheid vir slagoffers te verseker en ’n veiliger Suid-Afrika vir almal te skep.”

Die minister het ook gesê haar departement beoog om 100 distrikshowe op te gradeer om dienste aan te bied vir oorlewendes van geslagsgeweld. Sy sê dit sal hulle help om ’n gunstige omgewing te skep en spesialiste in daardie howe te hê wat verstaan ​​hoe om ’n slagoffer te hanteer, hoe om ’n gesin te hanteer, ondersteuning te bied, en berading te verskaf.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top