Omvangryke maatreëls is Maandagaand deur president Cyril Ramaphosa aangekondig om die nood aan te spreek nadat die grootste vloed ooit in Suid-Afrika ’n spoor van verwoesting in KwaZulu-Natal (KZN) agtergelaat het.
Ramaphosa het tydens ’n regstreekse TV-uitsending aangekondig dat ’n nasionale ramptoestand ingestel word om die situasie in KZN te hanteer.
Ramaphosa sê hy sal volgende week ’n gesamentlike sitting van die parlement aanvra om te verseker dat die wetgewer ’n oorsigrol in die noodlenigingspogings kan speel.
“Daar kan geen ruimte vir korrupsie wees nie,” sê hy.
Government’s response to catastrophic #floods which have devastated parts of KwaZulu-Natal and the Eastern Cape
https://t.co/gcNUOPPljg— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) April 18, 2022
Die President sê dit is ’n humanitêre ramp wat ’n massiewe en dringende noodlenigingspoging vereis.
Byna 4 000 huise is heeltemal vernietig, sowat 8 300 huise is gedeeltelik beskadig, en na raming is 40 000 mense se lewens vernietig, sê Ramaphosa. Meer as 600 skole is vernietig en duisende mense is dakloos gelaat.
Hy sê hierdie ramp het ook implikasies buite KZN.
“Die aanwysing van ’n provinsiale ramp is onvoldoende om die skade wat in KZN gely is, te hanteer. Die skade aan die Durban-hawe het ’n veel groter impak as net in KZN. Die kabinet het dus besluit om ’n nasionale ramptoestand af te kondig.”
Die hoofdirekteur: kommunikasie en media van die Departement van Basiese Onderwys, Elia Mhlanga, sê die impak van die vloede op skole in die provinsie is ’n hartseer en moeilike situasie.
Meer as 630 skole in KZN kon nie Dinsdag (19 April) heropen nie; 101 was ontoeganklik en 124 het groot skade gely. Minstens 57 leerlinge is dood, terwyl nog vyf vermis word. Een onderwyser het ook haar lewe verloor.
The impact of the#KZNFloods on schools in @DBE_KZN. It is a sad and difficult situation still.@DBE_SA pic.twitter.com/wH7DX1KET4
— Elijah Mhlanga (@ElijahMhlanga) April 18, 2022
Mhlanga sê dit sal meer as R400 miljoen kos om die skole te herstel.
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sal vandag (Dinsdag) skoolgronde in die provinsie besoek om ondersoek in te stel oor die skade aan skoolinfrastruktuur.
#DBENews Minister Angie Motshekga to visit schools affected by the #KZNFloods pic.twitter.com/9cFVDAM1Rl
— Dep. Basic Education (@DBE_SA) April 18, 2022
Die dodetal in KwaZulu-Natal het Maandag tot 443 gestyg. Die premier, Sihle Zikalala, sê die oorstromings en modderstortings is die grootste ramp wat die provinsie tot nog toe getref het. Zikalala sê die weerstoestande belemmer soek-en-reddingoperasies.
Zikalala sê die omvang van die skade is enorm. Hy sê volgens voorlopige verslae beloop die vloedskade aan die provinsie se paaie meer as R5 miljard. Sleutel- nasionale paaie en hoofweë is beskadig. Op talle plekke is gemeenskappe afgesny weens modderstortings en brûe wat ineengestort het.
Baie gesinne wat ontheem is, het nie grond om hul huise te herbou nie; mense word vermis en betogings oor elektrisiteit- en wateronderbrekings wat veroorsaak word deur beskadigde infrastruktuur duur voort.
Staatslykshuise in Durban is volgens die SAUK glo vol ná die verwoestende oorstromings. Vrese bestaan dat oorvol lykshuise tot die vertraging van begrafnisse sal lei. Soek-en-reddingspanne is intussen wyd geprys vir dapperheid in die oorstroomde KZN
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het in ’n verklaring gesê sy troepe sal soek-en-reddingsoperasies versterk, asook help met die vervoer van hulp aan slagoffers.
Families are bracing for heartbreak as more bodies are discovered after the KwaZulu-Natal floods leave approximately 443 people dead.#SANDF#JointOperationsDivision #SAAirForce#KZNFloods pic.twitter.com/01ojLt2I1w
— SA National Defence Force (@SANDF_ZA) April 18, 2022
Loodgieters en elektrisiëns van die weermag sal ook werk in gebiede wat al vir ’n week sonder water en elektrisiteit is. Sommige gemeenskappe is heeltemal afgesny omdat paaie en brûe ineengestort het.
The SA National Defence Force Media Statement || Monday, 18 April 2022 || The SA National Defence Force has been activated to assist with Disaster Relief in KwaZulu-Natal.#SANDF#DCCMediaLiaison#JointOperationsDivision#KZNFloods pic.twitter.com/PjzWe36Ni6
— SA National Defence Force (@SANDF_ZA) April 18, 2022
Sipho Hlomuka, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in KZN, het die mans en vroue in soek-en-reddingspanne geloof wat steeds voortgaan om na vermiste mense te soek.