In 1956 het 20 000 vroue uit alle oorde en agtergronde na die Uniegebou in Pretoria opgetrek om teen die paswet te betoog. Sedertien was daar wêreldwyd vele opmarse deur vroue om teen diskriminasie en geweld te betoog. Die getal wette wat veral in Suid-Afrika ingestel is om geslagsgelykheid teweeg te bring en wat geweld teen vroue en kinders moet bekamp, getuig hiervan.
Dit wil lyk asof vroue as een mobiliseer en ’n gesamentlike doelwit nastreef. Maar kyk na wat vandag rondom vroue en veral dié in leierskapposisies gebeur en ’n mens kan nie anders as om te sê dat eenheid onder vroue nog ’n verre droom is nie. Dit wil voorkom asof vroue wat hulself veral op partypolitieke vlak onderskei, getrou die ideologie of praktyk van hulle manlike eweknie navolg.
Dit is alombekend dat die president van die VSA, Donald Trump, gereeld kontroversiële verklarings omtrent vroue maak. En dit is ook alombekend dat miljoene vroue hom nie oor die kole haal nie, maar deelneem aan hierdie gruwelike gedrag.
.............
“Daar is duidelik vroue wat hulself nie as vegters vir vroueregte wil laat ken nie. Hulle haat die woord ‘feminis’ en tree briesend in die bresse vir hulle ‘manne’.”
.............
Een van die voorbeelde hiervan is toe hy Hillary Clinton as ’n skelm uitgekryt het en duisende vroue saam met hom “lock her up” geskreeu het. Nou onlangs weer het hy vroue wat in die Kongres dien, daarvan beskuldig dat hulle nie die VSA liefhet nie na sekere uitsprake deur die vroue, kritiek wat hulle teen Trump gelewer het.
Hierdie minderheidsvroue – Alexandria Ocasio-Cortez, Rashida Tlaib, Ilhan Omar en Ayanna Pressley – is verteenwoordigers van die Demokratiese Party. Trump het valslik beweer dat Omar gesê het dat sy trots is op “Al Qaeda”.
Hy het Ocasio-Cortez ook daarvan beskuldig dat sy gesê het dat Amerikaners “gemors” (“garbage”) is. Dit het tot gevolg gehad dat op een byeenkoms wat hy toegespreek het, krete van “send her back” vir 13 sekondes lank geskreeu was. En daar was vele vroue tussen die kwaadstokers.
Hier in Suid-Afrika het ons die huidige twee kampe in die regerende party, die ANC. Vroueministers soos Bathlabile Dlamini, Faith Muthambi en ander was groot ondersteuners van die vorige president, (Jacob Zuma) ten spyte van die donker wolk van korrupsie wat oor sy kop gehang het en steeds hang.
Huidiglik het ons die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, wat volgens baie duidelik kant kies in die stryd om die siel van die ANC. Mkhwebane moet as onpartydige publieke amptenaar sekere sake ondersoek en bevindings maak.
Volgens menings skaar sy haar by een van die kampe. So het sy basies niks verkeerd gevind by wat op die Estina-suiwelplaas gebeur het nie en maak sy “jag” op dié wat nie in die kamp is wat sy mag ondersteun nie.
Tans kan ons vra of daar genoegsame eenheid tussen vroue is om patriargie die stryd aan te sê. As ons na bogenoemde gevalle kyk, moet ons sê duidelik nie. En hier praat ons van vroue wat weet wat beteken patriargie en wat ’n negatiewe invloed dit op die samelewing het.
Daar is duidelik vroue wat hulself nie as vegters vir vroueregte wil laat ken nie. Hulle haat die woord “feminis” en tree briesend in die bresse vir hulle “manne”. As ons kyk na die hofsaak van die Nigeriese pastoor Timothy Omotose wat daarvan aangekla word dat hy ’n jong vrou, Cheryl Zondi, onsedelik aangerand het, sien ons ’n groot getal vroue by sy hofverskynings.
Die vraag is weer eens: sal mans so in die bresse tree vir vroue? Het die patriargale stelsel ons nou al so afgeknou dat ons nie die kwaad daarin sien nie?
En ons word weer eens gelei na die woord “mag”. As vroue gelyke mag in die samelewing het, sal hulle hulself kan handhaaf.
Wanneer sy as uitvoerende direkteur aangestel word en nie moet lei en inspireer soos ’n man dit doen nie, sal sy haarself kan handhaaf. Hoekom moet vroue onetiese mans ondersteun sodat hulle ’n “plekkie” in die son kan kry? Dit is vroue se reg om besit te neem van die bestuur van die samelewing. Hulle het nog nooit daardie reg gehad nie. Daar was nog nooit regtig vrede in hierdie wêreld nie, want mans begin die oorlog en vroue moet die “gewondes” dokter.
Ongelukkig het menige vroue in die slaggate van nasionalisme, rassisme en klassisme getrap. Is daar hoop vir vroue wat ’n verandering in hierdie wêreld wil sien? Ongelukkig nie as menige vroue aan die aartsnasionalis Trump se lippe hang en glo dat hulle hulself in ’n sekere kamp moet bevind om te “survive” nie.
Mans het die “backlash” vervolmaak, vroue voel al weer dat hulle die oorsaak is van wat verkeerdgaan in hierdie wêreld.
Die vraag is nou: moet vroue van taktiek verander om die patriargale stelsel te vernietig of moet hulle steeds met dieselfde swaard veg? You be the judge.
Buro: MvH